Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfraad

Willem de Vries se raad aan voornemende kortverhaalskrywers


Willem de Vries - 2011-07-05

Willem de Vries se raad aan voornemende kortverhaalskrywers

  • Aangesien ek ’n veel groter kortverhaalentoesias is as wat ek ’n lang publikasiegeskiedenis agter my naam het, neig onderstaande meer na waarnemings as wat dit as suiwer raad sal dien.

  • Die aard van ’n kortverhaal is nader aan dié van ’n gedig as wat dit aan romans verwant is. Soos wat gedigte se seggingskrag in woorde opgesluit is, voeg elke woord in ’n kortverhaal iets belangriks daaraan toe. 

  • Stiplees is deel van skryf; ook om te herskryf. Soms verg dit ’n paar jaar en veel meer weergawes vir ’n verhaal om tot sy reg te kom.

  • Daar is niks kits aan ’n kortverhaal nie. ’n Kortverhaalbundel bevat talle romans – dit moet net baie, baie beter aanmekaar gesit wees, boonop met minder woorde.

  • In ’n kortverhaal is enigiets moontlik. Jy kan in die verhaal met ’n flits verken en dan met die laaste sin die spreiligte aanskakel. Jy kan ’n karakter in die eerste sin laat vermoor en aan die einde van die verhaal wys dat ’n hele gemeenskap die moordenaar is.

  • Verhale kan by mekaar aansluit in ’n bundel, maar dit hoef nie. Eenheidsbundels kan trouens remmend op ’n kortverhaalskrywer se kreatiwiteit inwerk. Verhale word geskryf; bundels meld hul meestal later aan.

  • As jy nie realisties te werk gaan nie, moet die basis van wat jy skryf, steeds herkenbaar wees. As Kubis was Picasso se vertrekpunt steeds iets herkenbaars.

  • Storie is al baas wat ’n kortverhaal het – nie die politiek, korrektheid, (outo)biografiese besonderhede of skatpligtigheid nie. Ook as dit die ondergrawing van ’n meesterteks is, is dit steeds stórie wat baas bly. 

  • ’n Kortverhaal is ’n geloofsdaad, het Ingrid Jonker gesê. 

  • In ’n kortverhaal kan jy ’n gemoedstoestand verken. In die bestes is die skrywer weggekunstel en bly net die waarheid behoue. Vals emosie lees soos wat ’n verkeerde noot in ’n stuk musiek klink.

  • Kortverhale is vir eksperimenteer, om te speel en insig te kry, of nie. Só beskou is die skryf van kortverhale niks anders as om te lewe nie. ’n Kortverhaal gee iets deur van die lewe, van ervaring. 

  • ’n Kortverhaal is ’n soort barometer en gee sin in die hande van sy beste smede. Weet nietemin jy is nou besig met een van die mees ondergewaardeerde skryfvorme. Jy moet wars wees van die kugge van konformisme en die juigbrigade van die smaak van die maand. 

  • Sommige mense aard in die kortverhaal, ander mense lees te vinnig.

  • Leeswenke:

    • In Afrikaans is Die Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Abraham H de Vries, iets wat elke kortverhaalskrywer moet lees. 
    • ’n Nuttige gids vir skrywers is Die blote storie (wat gerus herdruk kan word) deur Hennie Aucamp.
    • Bel ’n boekwinkel soos Protea op Stellenbosch en The Book Lounge in Kaapstad om te hoor watter puik Afrikaanse en Engelse bundels kortverhale beskikbaar is.



  • Klik hier vir nog raad aan voornemende skrywers.
  • Leer jouself skryf met LitNet se Kortverhaalkliniek