Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Stuur Groete aan Mannetjies Roux – heerlike familievermaak


Emma Kotze - 2011-07-05


Stuur Groete aan Mannetjies Roux

Skrywer: Christopher Torr
Rolverdeling:
Deon Lotz (Oom Frans), Isadora Verwey (Tante Koba), Elizca Coetzer (Engela jr), Ilse Klink (Katie), Elton Landrew (Toemaar), Steffie le Roux (Hanna Karina) en Kyle Grant (Anton)

Rugby-begeesterd. Hierdie beskrywing vir die (Suid-) Afrikaner is weer eens bevestig toe ons verlede week na Stuur Groete aan Mannetjies Roux, ’n musiekblyspel tans op die planke by die Kunstekaap, gaan kyk het.

Daar is ’n skerm op die verhoog en ons kyk almal hoe Mannetjies Roux duik om sy bekende drie te druk. Soos wat hy duik, bars die begeesterde gehoor spontaan in applous uit. Die opgewondenheid en verwagting vir die res van die aand loop hoog.

Die stel is groot, en so ook Isadora Verwey en Deon Lotz se spel. Laurika Rauch se verskyning op die verhoog is egter ongelukkig ’n teleurstelling. Haar rol as verteller verdwyn in die teaterruimte en ten spyte van die mikrofoon teen haar voorkop was dit asof sy haar woorde sluk, wat dit dikwels na ‘n gemompel laat klink het! Sy sing egter steeds pragtig en bly onmiskenbaar Laurika, die Afrikaanse musiekveteraan, en ter versagting wonder mens of dit dalk toegeskryf kan word aan die (senuweeagtige?) oorweldiging van die oomblik.

Ons moet erken dat ons verskillende opinies oor musiekblyspele het. Emma is effens sinies oor die kunsmatige karakters, die reusagtige stel en die flambojante kostuums wat gewoonlik met hierdie genre gepaardgaan. Sy voel daar word te veel aandag aan die estetika verleen en die toneelspel is eerder ’n nagedagte as ’n volwaardige deel van die produksie. Renata, weer, is baie meer ontvanklik vir die betowering en opwinding hiervan, die pure tinteling by die belewing van musiek-en-drama-kombinasie.

In Stuur Groete aan Mannetjies Roux het die wow-element van die stel en kostuums ontbreek. Behalwe vir tante Koba se interessante uitrusting waarin sy na pouse verskyn het, kon al die kostuums uit die spelers se klerekaste gekom het. Daarby het dit ook maar moeilik gebly om verby die oppervlakkige spel gevul met die nodige melodramatiese pouses te kyk.

Die storielyn neem nietemin ’n baie interessante en onverwagse wending teen die einde en die musikale verwerkings was werklik uitstekend. “Toemaar die Donkerman”, ’n duet met Laurika Rauch en Ilse Klinka as die jong Katie het ons meegevoer. Ons gaan nie verklap waar die liedjie, “Stuur groete aan Mannetjies Roux” inpas nie ...

Ten spyte van allerlei teleurstellings is Stuur groete aan Mannetjies Roux heerlike familievermaak, en dit is uiters bemoedigend om te sien hoedat die Afrikaanse teaterbedryf buigbaar en aanpasbaar is. Musiekblyspele is beslis ’n genre wat goed ondersteun behoort te word en daar is geen rede waarom Afrikaans ten opsigte hiervan uitgesluit moet word nie. Alhoewel daar nog ongetwyfeld baie plek vir verbetering in die Afrikaanse stal is, sal daar (soos in ons geval) ook altyd iemand wees wat daarvan hou.

 

  • Stuur Groete aan Mannetjies Roux het tot 3 Julie by die Kunstekaap gewys. Kaartjies was uitverkoop.