Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Gaan geniet gerus die Darling-wynervaring


Johann H Crafford - 2007-02-21


So halfpad tussen Kersfees en Nuwejaar bel Amerikaanse vriende uit die Groot Appel my. Hulle kom in Maart weer ‘n slag in ons reënboogland kuier en wil dan ‘n “minder bekende” wynroete besoek. Ek moet weer vir hulle ‘n lekker wyntoer reël, met proeë (ook uit die vat) en lekker kos.
 
So gevra, so gemaak. Maar waarheen? Ek gooi ‘n paar name na my vriend met die swaar suidelike aksent en hy besluit op Darling. Hoekom? Want die naam klink vir hom en sy wederhelf net te oulik vir woorde!
 
Ek sorg darem altyd eers dat ek die bestemmings ken waarheen ek vriende en besoekers neem, en aangesien ek lanklaas in daardie gedeelte van die wêreld was, besluit ek en my mooi meisie om self eers die Darling-wyngebied te besoek. Een mooi, sonnige weeksdag vroeg in Januarie vat ons toe die R27, die sogenaamde Weskuspad, uit Kaapstad na Velddrif, en na sowat 80 km draai ons regs op die R315 na Darling. So ‘n bietjie meer as 6 km verder dui ‘n groot bord aan dat die "Darling Wine Experience" begin, en net om te wys dis geen liegstorie nie, verwelkom wingerde links van die pad en ‘n nuwe wynkelder aan die regterkant jou met ope arms.
 
Darling, wat in 1853 na luitenant-generaal Charles Henry Darling vernoem is, lê so 15 km van die R27 af, knoesig tussen heuwels oortrek met wingerde en goue koringlande, maar nes jy die dorpie tref (en net anderkant die begraafplaas aan jou regterkant), is daar ‘n bord wat jou regs laat draai in Mt. Pleasantstraat om by die Ormonde-landgoed (022 492 3540) uit te kom. Ry pylreguit met daai pad op in die rigting van die imposante plaasopstal en parkeer jou wiele voor die kelder en proelokaal regs.
 
Die koue winde vanuit die Atlantiese Oseaan se rigting help om die wingerde van die reuse-plaas van 4 000 hektaar af te koel en sodoende ‘n mikroklimaat te skep wat help om sterk geure aan die wyne te verleen. Sowat 350 hektaar van die plaas, wat teenaan Darling lê, is onder kultivars soos Chardonnay, Cabernet Sauvignon, Merlot en Sauvignon Blanc.
 
Twee wynsoorte word geproduseer, naamlik die wingerdspesifieke Ormonde-reeks, wat gemaak word om die terroir van elke gekose wingerdblok te weerspieël (aldus die wynmaker), en die Alexanderfontein-reeks. Hierdie is die sogenaamde huiswyne van Ormonde en is beskikbaar in ‘n Cabernet Sauvignon en Merlot aan die rooi kant en ‘n Chardonnay, Sauvignon Blanc en Chenin Blanc aan die wit kant.
 
Die Ormonde-reeks, weer, bestaan uit drie wyne, naamlik ‘n rooi versnit wat bestaan uit Cabernet Sauvignon en Merlot, en twee wittes, ‘n Chardonnay en ‘n Sauvignon Blanc.
 
En dan maak en verkoop die mense ook nog hul eie olywe en olyfprodukte! As ek nog ‘n gaatjie iewers in my ou keldertjie gehad het, was dit vandag volgestop met voorbeelde van sowel die Ormonde- as die Alexanderfontein-wyne. Ek sal voorlopig egter maar tevrede moet wees met hul olywe en olyfprodukte.
 
Om by ons tweede bestemming vir die dag te kom, moes ons eers met dieselfde pad terugry tot by die tweede stopstraat en dan regs draai in Hoofstraat, wat jou regdeur die dorpie vat.
 
Nou kyk, Darling (oftewel Skattebol soos ‘n Vrystaatse vriend hom roep!) is nou nie juis die Swartland se teenvoeter vir New York, Parys of Londen nie, maar as jy tyd het, besoek gerus die plaaslike museum in Pastoriestraat of Evita se Perron (022 492 2831) by die ou spoorwegstasie.
 
Die museum gee vir jou ‘n eerstehandse en baie interessante blik op die lewe in en om die dorp tussen 50 en 150 jaar gelede, terwyl die bekende (of berugte?) tannie Evita Bezuidenhout (alter ego van satirikus Pieter-Dirk Uys) ‘n tong-in-die-kies-museum by die Perron ingerig het. Dis beslis ‘n besoek werd.
 
In September bied die dorp ook ‘n veldblommeskou aan, sowel as ‘n orgideëskou. Vir meer inligting, skakel gerus die toerismekantoor by 022 492 3361.
 
So 2 km buite die dorp draai mens links op die R304 na Malmesbury en 15 km verder kry jy Darling-kelders (022 492 2276) op jou regterkant. Mens draai ook hier af na Cloof, wat ons derde “kuipestop” vir die dag sou wees.
 
Die koel kusklimaatstoestande, wat vir ‘n langer rypwordtydperk sorg, en die granietgrond waarin die hoofsaaklik bosstokke (in teenstelling met opgeleide wingerdstokke) hul wortels stewig vasslaan, help die wyne hier om heerlike vrugtegeure te ontwikkel.
 
Darling se Onyx-reeks, hul vlagskip, het al by meer as een geleentheid hul weg na my oë, neus en mond gevind, en ek kan hulle sonder huiwering aanbeveel.
Hierdie keer was daar egter iets nuuts op die wynspyskaart (wel, nuut vir my): Darling-kelders bied nou ook ‘n DC-reeks aan (wat mens seker hul huiswyne kan noem), asook ‘n Flamingo Bay-reeks wat almal versnitwyne is, en ‘n Zantsi Africa-reeks wat spesifiek gerig is op die mark vir mense wat ‘n vars, vrugtige wyn soek met ‘n relatief lae alkoholinhoud. Ek het alles behalwe die Zantsi Africa geproe (die enigste soetwyn wat my palet deesdae geniet, is ‘n port in ‘n potjie of saam met koffie of in die winter voor die kaggel!) en kan verstaan hoekom hierdie kelder se wyne so hoog aangeslaan word.
 
As jy reken jy sal teen hierdie tyd lus voel vir iets om saam met die heerlike wyne af te sluk, reël gerus vooraf met die kelder vir ‘n piekniekmandjie. Hulle het ‘n heerlike verskeidenheid om van te kies en hulle beloof om moeite te doen sodat jy die hele wyn-en-kos-ervaring sal geniet.
 
By hul uitgang het ons regs gedraai om die sowat 5 km grondpad na Cloof aan te durf. Omdat die tyd ons begin inhaal het, het ek gou Groote Post (ons laaste stop vir die dag) gebel om seker te maak hulle sal ons kan vat vir middagete. Ongelukkig was hulle vol bespreek vir die dag en sou ons ‘n ander plan moes maak.
 
Die grondpad was heel skaflik tot sowat ‘n kilometer voor Cloof (022 492 2839) se ingang toe ‘n stuk sinkplaat ons gedwing het om vinnig ons kake saam te klem om te keer dat ons stopsels op die vloer beland. Maar vroulief se baba-Benzie het dit sonder skade oorleef en ons het ongedeerd by Cloof aangekom.
 
Cloof is relatief jonk as ‘n wynprodusent, aangesien die eerste druiwe eers in 1966 aangeplant is en die kelder eers in 1998 voltooi is. Die eerste vrystelling van Cloof-wyne was in 1999. Benewens hul eie 145 hektaar-wingerd besit Cloof se mense ook die 220 hektaar-wingerd op die aangrensende Burghers Post.
 
Terwyl ek so staan en proe aan hul lekker reeks wyne, waaronder hul vlagskip Crucible Shiraz 2004, vertel ek vir Willem Wentzel in die proelokaal van my en vroulief se kosdilemma. "Nee," haak hy af, "maar julle kan mos sommer hier by ons eet. Ons bied net ligte etes, en julle kan lekker daar buite onder die bome gaan sit."
 
So gesê, so gemaak. Toe ek klaar is met die geproeëry, en baie beïndruk is met veral hul Cloof Bush Vines CPS 2004-versnit en hul Cloof Dusty Road-huiswynreeks, is ek met ‘n bottel van hul ongehoute Chardonnay na buite met vroulief heel tevrede aan my sy met haar druiwesap.
 
En daar sit ons tweetjies toe heel romanties aan tafel in die skadu van reusagtige bome, omring deur ‘n grasgroen grasperk en met rollende heuwels so ver soos die oog kan sien, en ons wag op ons bestelling: vir haar ‘n Juicy Darling Sausage en bybehore en vir my ‘n Butternut ravioli met ekstras.
 
Nouja, watter een van die Chardonnay of die bord kos die lekkerste was, is steeds ‘n ope vraag. En die wyn het boonop ‘n skroefdop! Vroulief het haar middagmaal net so geniet, en ‘n rukkie later is die twee van ons vort, versadig en verkwik! En ek ‘n bottel Chardonnay (met die skroefdop) en ‘n bottel Cloof Bush Vines CPF ryker. Vroulief skud net haar kop!
 
Al die pad terug na die stuk teer, dan links tot by die T-aansluiting, en dan weer links op die R307 na Mamre/Atlantis. So 6 km verder draai mens regs op die swakkerige grondpad na Groote Post (022 492 2825), en sowat 7 km verder draai jy links by die plaashek in. Volg dan net die pad tot by die kelder en proelokaal aan jou regterkant, en die herehuis, wat ‘n heerlike restaurant, Hilda’s Kitchen (022 492 3430), bevat, aan jou linkerkant.
 
Ek en my ou mater het al vantevore ‘n slag of wat hier aangedoen en benewens die wyn, wat ek ten sterkste kan aanbeveel, kan ons enigiemand aanraai om vir ete by die restaurant te stop.
 
Nadat ek my weer eens vergewis het van hoe lekker wyne hierdie mense kan maak (ek het al met my eerste besoek ‘n sagte plekkie ontwikkel vir hul twee The Old Man’s Blend-wyne, ‘n rooi en ‘n wit versnit, terwyl hul Sauvignon Blanc prysenswaardig is), het ek gesien hulle bring later vanjaar ‘n Pinot Noir, die sogenaamde dame van rooiwyn, uit. Ek sal maar weer moet kom inloer!
 
Vroulief was teen dié tyd lus vir ‘n koppie boeretroos en iets vir die soet tand, en ons het gaan kyk of Hilda’s Kitchen ons kan akkommodeer. Hulle kon en ons is getrakteer met koffie wat Jan Spies se borshare sou laat krul en ‘n watertandlekker soetigheid om die dag perfek af te rond.
 
Terug by die ingang tot Groote Post het ons links gedraai in die rigting van die see en die sowat 7 km grondpad tot by die R27 sonder veel pyn afgelê. Daar het ons links gedraai en die pad terug huis toe gevat.
 
Nou kan die Yanks maar kom. Hulle sal die Darling-wynervaring geniet. Ons het.