Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Onderhoude | Interviews

Pieter-Dirk Uys oor Ouma Ossewania, die Kaktus van Demokrasie en die Poggenpoels


Steyn du Toit - 2011-06-30

Untitled Document

Pieter-Dirk Uys bring twee van sy bekendste karakters, Evita Bezuidenhout en Ouma Ossewania Poggenpoel, saam vir een vertoning met ’n pouse tussenin. Die show se naam is Die Poggenpoels praat, maar nie almal is bly om te hoor Ouma Ossewania is nog met ons nie, soos Pieter-Dirk vir Steyn du Toit vertel.

Hoe pas Ouma Ossewania Kakebenia Poggenpoel in die prentjie in – hoe is sy verwant aan Evita?

Ouma Ossewania Kakebenia Poggenpoel is Evita se ma. Gebore tydens die Boereoorlog, fanaties teen alles Ingels, onthou alles, nie bang om taal te gebruik nie.

Hoe oud is sy nou presies?

Hulle dink sy is 107 jaar oud, maar miskien ouer. Daar word gefluister dat sy ’n bloedsuier is, ’n “vampire”. Miskien wel – dr Verwoerd het haar liggies op haar hand gebyt toe hy dit in 1961 gesoen het..

Ek verneem dat baie mense baie verbaas (en selfs teleurgesteld) is as hulle uitvind sy leef nog. Hoekom hou party mense nie van haar nie?

Mense is geskok dat so ’n ou antie vloek. Maar Ouma vloek nooit as sy praat nie; net as sy dink. En van die verhoog deel sy haar gedagtes met ons. Dis verbasend dat Afrikaners nog geskok word deur woorde. Armoede, geweld, korrupsie, ja, maar poep en kak? Woorde, net woorde ...

En wat is haar reaksie as sy hoor daar is mense wat nie van haar hou nie?

Sy gee nie ’n hel om nie. Sy's te oud om na sulke nonsens te luister.

Ek verneem egter sy begin dinge dalk nou ’n bietjie anders sien – veral as dit by Suid-Afrikaanse politiek kom. Hoe so?

Sy het haar lewe gemors op ’n leuen. Sy het hulle geglo toe hulle vir haar sê apartheid is ’n gawe van God. Nou's dit te laat vir haar om met die tuinjong te slaap. (Buitendien is hy nou burgemeester.)

Wat is die "Cactus of Separate Development"?

Dit het in 1652 uit Nederland op die Drommedaris aangekom en is die rede vir al die politieke ongelukkigheid in ons land sedertdien. Dis nou dood. Die Kaktus van Demokrasie is in sy plek. Tannie Evita verduidelik alles met humor.

Hoekom die besluit om vir Ouma en Evita Bezuidenhout albei in een show saam te sit?

Moeder en dogter – dis mos altyd ’n perfekte kombinasie.

Jy het ook onlangs jou eie BlackBessie uitgereik – wat presies is dit – ’n dagboek, ’n joernaal?

Evita se BlackBessie is ’n joernaal, maar ook die back-up vir jou selfoon – vir die dag wat dit breek, verdwyn of ophou werk. Soos Tannie ook sê: “Don't press ‘Send’, just turn the page!”