Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

’n Source Code wat in enige dimensie werk


Jacques Liebenberg - 2011-06-30

Source Code
Regisseur:
Duncan Jones
Kamerawerk: Don Burgess
Rolverdeling: Jake Gyllenhaal; Michelle Monaghan; Vera Farmiga; Jeffrey Wright
Looptyd: 93 minute

 

Wat’s dit wat mense in die oggend laat opstaan?

Gesig was, aantrek, die kinders regkry vir skool en gaan sloeg by die werk. Dis seker maar gewoonte, maar dalk is dit ook potensiaal, oftewel die moontlikheid van iets beters wat kan kom – of dit nou ’n Stormers-sege, ’n LED-TV of die volmaakte lewensmaat is.

En dis waarmee die vernuftig vervaardigde wetenskapfiksie-whodunit Source Code sy karakters laat: potensiaal. Maar ook, soos dit ’n behoorlike fliek betaam, met stukkies vlymskerp insig in die basiese elemente van die mens se bestaan. En ’n skop-in-die-maag-ontknoping waarvoor jy tot die laaste tonele moet wag. Daarby, en in deesdae se oorvloed breinlose vermaak sonder ’n ons subtiliteit, is Source Code van die regisseur Duncan Jones (David Bowie se seun) ’n welkome uitsondering met dié dat hy nooit sy kyker as vanselfsprekend aanvaar en nie sy intelligensie onderskat nie.

Dis ’n fliek waarin mens nooit jou sit kry nie, want, soos die arme helikoptervlieënier Colter Stevens (Jake Gyllenhaal), weet jy nie wat de hel hier aangaan nie. Colter word in ’n wildvreemde man se lyf wakker en het net agt minute tyd om op ’n voortsnellende verdiepingtrein na ’n bomplanter te soek, anders word almal op die trein uitgewis – en daar’s ’n dreigement van nog ’n aanval. Veel meer wil sy bevelvoerders hom nie vertel nie.

’n Voor die hand liggende vergelyking is met die vervelige stukkie wetenskapfiksie-romantiek The Adjustment Bureau, wat Philip K Dick seker in sy graf laat omdraai. Dié se uitgangspunt, dat die liefde selfs ’n “hoër hand” van plan kan laat verander, vervaag na niksseggendheid langs Source Code se elke-minuut-tel-slaankrag. Laasgenoemde is amper soos ’n wetenskapfiksie-weergawe van 24 se vroeëre werklikheid gekruis met Groundhog Day-elemente.

Colter, wat boonop met ’n paar demone van sy eie worstel, moet sy medepassasiers in ’n oogwink opsom om die moontlike bomplanter te kan identifiseer. Soos die fliek vorder, verskuif sy fokus al hoe meer na hul menswees, en veral na dié van sy “dop” se kollega, die oulike onderwyseres Christina Warren (Michelle Monaghan). Sy amper terloopse waarnemings van haar karaktereienskappe speel toenemend ’n bepalende rol in sy besluitneming en uiteindelik is die vraag waarmee hy gelaat word, ’n eenvoudige een: Wat doen mens as jy weet jy lewe nog net een minuut?

En dis waar die geheim van Source Code se sukses lê. Dis ’n wekroep oor die manier waarop ons die wêreld en sy mense benader.

In ’n ketting-e-pos wys die skrywer op die psigiater Redford Williams se langtermynstudie waarin hy bevind het daar’s ’n sterk band tussen hartsiekte en “negatiewe” emosies. Mense met ’n sterk gevoel van vyandigheid – soos ’n siniese en wantrouige lewensbenadering – se kans is sewe keer groter om nie hul 51ste verjaardag te haal nie, meen Williams.

Midde-in die belangrikste opdrag van sy lewe tref dit Colter soos ’n voorhamerhou: Hoewel hy nie een van sy medepassasiers kan vertrou nie, gaan dit hom nie help om die bomplanter op te spoor nie. Deur in elkeen van hulle eerder die groter potensiaal van hul beste eienskappe of ’n oomblik van uitbundige lag te kan eien, word dit vir hom moontlik om die moeilikste besluit van sy lewe te kan neem.

Soos Edward Norton dit aan die einde van sy fliek Keeping the Faith en ter nagedagtenis van sy pa stel: Mens moet nooit jou geloof in jou medemens verloor nie.