Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

Flikker: The Way Back getuig van wilskrag en oorlewingsvermoë


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-06-30

Untitled Document

The Way Back
Regisseur: Peter Weir
Kamerawerk: Russel Boyd
Rolverdeling: Jim Sturgess, Ed Harris, Colin Farrell, Saoirse Ronan
Looptyd: 133 minute





Dié film is gegrond op die ware verhaal van sewe gevangenes, meestal Pole, wat in die 1930’s as “vyande van die staat” in een van Stalin se strafkampe in Siberië gevange gehou is. Ná maande lange voorbereidings kry hulle dit reg om tydens ’n sneeustorm te ontsnap. Teen alle verwagting in oorleef die meeste van hulle die winter, en te voet bereik hulle die Baikal-meer. Maar dan lê Mongolië, die woestyn en die Himalajas nog voor.

Hierdie film is eenvoudig ’n ongelooflike getuienis van die mens se wilskrag en oorlewingsvermoë. Om met die minste moontlike middele – ’n selfgemaakte mes, enkele waterhouers, die kennis om rigting te bepaal – teen die grootsheid en genadeloosheid van die natuur te staan te kom, verg uiterste moed en vindingrykheid. Interessant genoeg is die bedreiging net so dikwels menslik: die geharde Russiese misdadiger (’n indrukwekkende vertolking deur Colin Farrell) wat saam met die Pole ontsnap, die persoon wat die groepie soos ’n skim deur die woude agtervolg, en die plaaslike bevolking by wie hulle nie durf hulp soek nie, want daar is ’n aansienlike prys uitgeloof om ontsnaptes aan die owerhede uit te lewer.

Ten spyte van al hierdie elemente wat vir ’n vyfsterfliek kon sorg, is dit ongelukkig nie die geval nie. Dis moeilik om te bepaal presies wat met die film skort, maar dalk is dit dat regisseur Peter Weir alles te groot wou maak, te epies, te veel in sy Lord of the Rings-styl. Daar is meer as ’n tikkie melodrama, en veral die einde is so reg uit Hollywood.