Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

Flikker: Bridesmaids – nie juis ordentlik nie


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-06-30

Untitled Document

Bridesmaids
Regisseur: Paul Feig 
Kamerawerk: Robert D Yeoman
Rolverdeling: Kristen Wigg, Maya Rudolph, Rose Byrne, Melissa McCarthy
Looptyd: 125 minute



Ten spyte van die titel is Bridesmaids geensins jou standaard chick lit-fliek nie. Inteendeel, jou flieksmaak moet ’n bietjie af wees om dit te waardeer (dink: There’s something about Mary en The sweetest thing).

Annie (Kristen Wigg) en Lillian (Maya Rudolph) is beste vriende van skooldae af, en beide is nou al in daardie gevaarlike vroulike skemersone tussen dertig en veertig. Ja, daardie “o, jy’s nog nie getroud nie” (met die klem op “nog nie”). Freud het gesê die volwasse mens se lewe staan op twee pilare, naamlik “love and work”, en Annie sukkel met al twee: weens die resessie het die bakkery wat sy oopgemaak het misluk, en sy is nommer drie op ’n aantreklike maar varklike eks se lys (met ander woorde, sy laat toe dat hy haar net vir seks gebruik).

Dan kom Lillian met wonderlike nuus: haar geliefde van ’n hele klompie jare het haar gevra om te trou, en natuurlik moet Annie die hoofbruidsmeisie (daar is nog vier) wees. Die probleem is net dat een van genoemde bruidsmeisies (Rose Byrne) Lillian geteiken het as háár nuwe beste vriendin. Daarby is sy beeldskoon, skatryk en só goed met die reël van troues ...

Al sal ek die fliek nie sommer vir enigeen aanbeveel nie (dis nie juis wat ’n mens ordentlik sal noem nie), het ek dit onbehoorlik baie geniet. En ek hoop om Melissa McCarthy (wat die klaaglik oorgewig Megan, een van die bruidsmeisies, speel) weer in flieks te sien – haar komiese spel is eenvoudig puik.