Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Aan die ander kant van die draad – Engelse boeke vir Afrikaanse lesers


JB Roux - 2011-06-29

Afrikaanse boeke hoef nie terug te staan vir wat in Engels beskikbaar is nie, maar die groen lappies gras aan die ander kant van die draad bring dikwels vreugde.

Daar het die afgelope maande ’n handvol Engelse boeke verskyn wat ook by Afrikaanse lesers byval sal vind. Die meeste boeke is óf plaaslik uitgegee óf die skrywer(s) het bande met Suid-Afrika. Dis goed om te weet dat ook die Engelse vertakking van die Suid-Afrikaanse boekebedryf sy kant bring.

House of War
Hamilton Wende
Uitgewer:
The Penguin Group
ISBN: 9780143026099
Prys: R239.95



Klik hier en koop House of war nou van Kalahari.net!




Hamilton Wende se House of war speel in Afghanistan af. Die Taliban is dalk nie meer aan bewind nie, maar daar heers nog lank nie vrede in dié uithoek van die aarde nie.

Sebastian Burke, ’n Britse historikus, reis na Ay Khanoum in die noorde van Afghanistan op soek na Alexander die Grote se dagboek. Daar is vele draaie en kinkels, raaisels en onsekerhede en gewelddadige sterftes. Selfs die CIA raak betrokke. Burke stoei boonop met spoke uit sy verlede toe hy ’n soldaat in die destydse Rhodesië was.

House of war is ’n goed-nagevorste avontuurverhaal met volop aksie en ’n skeutjie liefde. Die insetsels oor Alexander se reise en oorwinnings is boeiend en insiggewend.

 

Get your book published in 30 (relatively) easy steps
Basil van Rooyen
Uitgewer: The Penguin Group
ISBN: 9780143026648
Prys: R150.00

 

Klik hier en koop Get your book published in 30 (relatively) easy steps nou van Kalahari.net!

 

’n Vraag wat skrywers, of enigiemand wat hoegenaamd by die uitgewersbedryf betrokke is, gereeld hoor, is: “Ek het ’n boek geskryf – hoe maak ek nou?”

Die antwoord is meer ingewikkeld as wat ’n mens sou dink. Daar is honderde dinge wat skrywers en voornemende skrywers moet weet, en tot hul eie nadeel nie uitvind totdat dit te laat is nie. Die plaaslike boekebedryf verskil verder in vele opsigte van dié in ander lande – hierdie handleiding is spesifiek op Suid-Afrikaners gerig.

Van Rooyen is langer 35 jaar in die bedryf en besit twee uitgewershuise. Die boek het aanvanklik in 2005 verskyn, maar hierdie uitgawe is nuut verpak en volledig bygewerk om onlangse verwikkelinge (soos e-boeke) aan te spreek.

Van Rooyen verskaf ook antwoorde op vrae soos: Staan my manuskrip ’n kans om gepubliseer te word? Waar kry ek inligting in die hande kry oor watter uitgewers met die uitgee van ’n spesifieke genre gemoeid is? Hoe beskerm ek my kopiereg? Wat behels die uitgee van ’n boek presies en wie is verantwoordelik vir die onkostes?

As jy soek na spesifieke inligting oor die uitgewersbedryf en dit nie hier vind nie, kan jy maar weet dis inligting wat jy nie regtig nodig het nie.


The Rough Guide to the iPad

Peter Buckley
Uitgewer: Rough Guides Limited
ISBN: 9781848368934
Prys: R194.95

 

Klik hier en koop The Rough Guide to the iPad nou van Kalahari.net!

 

Ek was verheug toe ek The Rough Guide to the iPad ontdek. Wetenskapsfiksie word gruwelik afgeskeep: Wanneer laas het ek ’n splinternuwe roman van dié aard gelees?

Ek weet dalk iets oor boeke, besef ek gou, maar my kennis oor tegnologie is beroerd: dis ’n hándleiding dié. En ’n iPad is spesiaal uitgedink om “smartphones” (?!) en skootrekenaars te kombineer. Daar is min wat hierdie gedoentetjie nié kan doen nie, van video’s speel, op die internet rondsnuffel en e-pos stuur en ontvang tot foto’s neem, e-boeke lees en 784 ander dinge. Natuurlik kan baie funksies deur “gewone” selfone verrig word, maar onthou: dié meneertjie spog met die spoed en geheue van ’n skootrekenaar.

The Rough Guide se teks en bladuitleg is verbruikersvriendelik, met heelwat grafika: tegnologie-kenners sowel as oningeligtes sal ewe maklik met die hierdie boek regkom.

Dit maak sin om eers hierdie boek te lees en uit te vind presies wat die iPad is en alles kan uitrig voor jy die implementjie self koop. Die bure se driejarige tweeling vermoed volwassenes gaan hierdie boek binnekort net so onontbeerlik vind soos die iPad self.

Driven to distraction
Jeremy Clarkson
Uitgewer: Penguin Books
ISBN: 9780141044200
Prys: R145.00

 

Klik hier en koop Driven to Distraction nou van Kalahari.net!

 

 

Selfs Ouma weet al wie Jeremy Clarkson is: sy verwys gereeld na die “bekkige klits van ’n Engelsman onder wie se blad ek op ’n koue wintersoggend sal wil inskuif”. (Ouma het ’n swak vir lang donkerkopmans, Engels of andersins.)

Indien daar wel lesers is vir wie dié naam vreemd klink: die kêrel met die effense bulhondgesig op die voorblad hiernaas is een van drie aanbieders van ’n wêreldbekende Britse motorprogram. Regte spul stoutgatte, so groot soos hulle is: ’n mens kan enigiets te wagte wees wanneer jy na ’n aflewering van Top Gear kyk. En dan weet hulle waaragtig iets van karre af ook.

Sy mede-aanbieders is nie op hulle bekke geval nie, maar Clarkson se pittige en soms skoorsoekerige sêgoed verklaar hoekom selfs mense wat sukkel om rooi en groen karre van mekaar te onderskei, Top Gear-aanhangers is.

Op papier, en sonder die hulp van ’n bedrewe span televisieskrywers, is Clarkson nét so pittig soos op televisie. Clarkson skryf elke week ’n rubriek vir die Sunday Times (nee, man, Éngeland se Times). Dié bydraes word gereeld gebundel: Driven to distraction is die negende boek in die The world according to Clarkson-reeks.

Getrou aan sy aard takel Clarkson in Driven to distraction feitlik enigiets onder die son: Noorweë, gays, geboortebeperking en natuurlik: motors in alle vorme en soorte. Daar is min waaroor hy nie sy mond uitspoel nie, dikwels tot by die punt van vermetelheid toe.

Dié boek is groot pret en sal jou waarskynlik terugdryf boekwinkel toe om ’n paar van die vorige titels in die reeks in die hande te probeer kry.

Baie rubriekbundels (veral Afrikaanse bundels) laat my vermoed koerantrubrieke is nie bedoel vir ’n encore in boekvorm nie. Clarkson bewys dis nie noodwendig die geval is nie.

How hard can it be volg kort op Driven to distraction se hakke en is pas vrygestel.

 

The wedding planner
Melanie La’Brooy
Uitgewer: Piatkus Books
ISBN: 9780749941499
Prys: R145.00

 

Klik hier en koop The Wedding Planner nou van Kalahari.net!

 

 

Op ’n ligter, meer vermaaklike noot is daar The wedding planner, ’n chicklit-roman en La’Brooy, ’n Australiër, se tweede boek. In hierdie roman (wat juis in Australië se glanswêreld afspeel) is Sabrina Faulks ’n ryk, beeldskone sepie-aktrise. Sy is verloof aan die hiperaantreklike, skynbaar perfekte Edward.

Mimi, Sabrina se jonger suster, het pas teruggekeer ná sy oorsee rondkerjakker het. Haar geld is op, sy het geen loopbaanvooruitsigte nie, en selfs nie ’n kêrel nie.

Sabrina vra Mimi om haar (Sabrina se) bruidsmeisie te wees. Eintlik beteken dit Mimi word aangestel om die huwelik te beplan. Dis nie so maklik om Sabrina tevrede te stel nie – inteendeel. Boonop fantaseer Mimi al hoe meer dat sý saam met Edward kansel toe loop.

Dié boek sal ’n paar wintersaande goed opkikker. Net jammer die skrywer/uitgewer het nie op ’n meer oorspronklike titel besluit nie: The wedding planner kan (verkeerdelik) aangesien word as die boekweergawe van die rolprent met dieselfde naam.

 

Great Moments in Currie Cup History
Wim van der Berg
Uitgewer: The Penguin Group
ISBN: 9780143026853
Prys: R250.00

 

Klik hier en koop Great Moments in Currie Cup History nou van Kalahari.net!

 

Rugby het sy eie geskiedenis, wat terugloop tot waar ene William Webb Ellis destyds ’n sokkerbal opgetel, om lewe en dood daaraan geklou en oopgelê het doellyn toe. Of so sê hulle.

Vandag het elke Wêreldbekertoernooi heelwat gemeen met die twee Wêreldoorloë. En historici én rugbybefomfaaides glo as Suid-Afrika nie die Kiwi’s in 1995 geklop en die nasie saamgesnoer het nie, was daar ’n burgeroorloog soos min – Ghadaffi sou sy ou skoene kon agternagooi.

Wanneer die onderskeie wêreldspanne mekaar nie tydens toetse karnuffel nie, druk, skop en foeter hul eie streeks- en klubspanne mekáár. Plaaslik het ons natuurlik die Curriebeker-toernooi wat dekades lank die spil van Suid-Afrikaanse rugby was: Suid-Afrika was, ook wat sport betref, geïsoleer. Curriebekerwedstryde is dus met dieselfde intensiteit as volskaalse toetse benader, deur spelers, afrigters én aanhangers.

Vandag is toetse en Superrugby-wedstryde ’n tiekie per bos en Curriebekerrugby het ’n bietjie van sy glans verloor. Maar dit blý ’n uiters belangrike deel van ons rugbygeskiedenis.

Great Moments in Currie Cup History is ’n pragtige koffietafeboek. Hier word volledig beskryf hoe dié toernooi begin het en die (soms ingrypende) veranderinge wat dit mettertyd ondergaan het. Die belangrikheid van dié toernooi word goed gemotiveer en allerlei interessanthede en statistieke aan lesers meegedeel. Daar word ’n hoofstuk aan elk van die mees prominente streekspanne afgestaan.

Soos dit met goeie koffietafelboeke hoort, is die inligting redelik volledig, die bladuitleg uitsonderlik en die foto’s uitmuntend – van nostalgiese swart-wit-foto’s soos die bekende een van Danie Gerber ’n halwe oomblik nadat hy ’n bal behóórlik geskop het, tot pragtige kleurfotos van meer moderne helde.