Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Luna maak haar "big break" in Melkbos


Albert Maritz - 2011-06-28

Untitled Document

There is nothing new in art except talent. – Anton Chekhov

Dis lekker hoe mense se smaak verskil. En hoe smaak wankelrig gebaseer is op ’n subjektiewe opinie. “In the eye of the beholder.” En soos na die Sharks verloor het, laat weet ’n kommentator hulle skop te veel. Maar as hulle gewen het, was dit taktiese skoppies. En die ref en die aanlane het hulle laat verloor!

In ’n stadium het ek altyd gaan staan en luister wie die sanger is as ek ’n sekere sanger hoor sing het op RSG. Meestal was die unieke, nuwe stem Gerhard Steyn. En toe kry hy een “hit”, “Baby Tjoklits”, en mense haat hom.

Net so dag ek: ek ken nie die perd nie, maar daai Chris de Burgh/”Spanish Train”-tipe liedjies van Nicolas Louw is tipes “musical” se beste. Maar wys my nou iewers iemand wat ’n goeie woord oor hom te sê het?!

Toe ek gisteraand die argument open, is almal hoogs uitgesproke. Toe ek sê Roepman is gemaak deur die ouens wat byvoorbeeld Bakgat gemaak het, is daar baie kommentaar. Soos: Neee, oe! Bakgat. Moenie sê jy het dit gesien nie. Dis aaklig. Ek vra: Het jy dit gesien? Nie die slimste van vrae nie. Ek wéét mos sy het nie. Nee, antwoord sy - asof in ’n lokval in. Waarop ek sê: So hoe weet jy?

OK, terug by die musiek. Kortom, ek weet nie hoe ek, of hoe ander mense, luister nie. Maar ek’s duidelik in die minderheid.

Maar net so vrek elke gehoor oor Luna Paige. En sy maak net nie haar “big break” nie. Tot sy Vrydag wat verby is in Melkbos haar eerste Afrikaanse show gedoen het. En toe sy tóé “La Luna” sing – haar briljante Engelse liedjie – toe is dit in perspektief teen die Afrikaans van die aand, en nog mooier as ooit.

Baie van die nuwe liedjies het ’n narratiewe kwaliteit aan hulle. My gunstelinge is drie liedjies, een effe narratief (“Korhaan man” uit Elias P Nel se “Korhaan en Muisvoël” in Iets goeds uit Verneukpan, ). Die ander twee liedjies met interessante vorm van taal, en konsep – die konsep vooraf deur Luna verduidelik (“Die Skulp” uit Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat) en (“Die juwele van jou oë” uit André P Brink se Die Ambassadeur).

Laasgenoemde, meer abstrakte liedjies in Luna se nuwe oeuvre, is liedjies met ’n inhoud wat die kunstenaar ruimte gee om in talle dimensies met musikale en klankelemente te waag. En dit doen sy, en sy doen dit soos die bestes – op kitaar en klavier, sedert laaank voor Woodstock, tot vandag toe – in Europa en Amerika. En sy wen. Die musiek is saam met musiek van die tot nog toe onontdekte juweel, Frieda van den Heever, van die soetste en varsste kuns op die musiektoneel.

Die tendens om poësie in liedjies te omskep, het nou volgeloop. Eers was daar Boerneef, toe Johan Engelbrecht, en toe slaan die ‘90’s toe, en toonsettings van poësie word ’n modewoord. Nou skryf en komponeer Luna onder andere uit kortverhale uit. Mag dit ’n nuwe era inlui en ons aandag vestig op die kunstige plek waar haar en andere se musiek, hoewel in obskuriteit, al lankal is. Ek’s seker dit sal.

Na aanleiding van die kabaret gebaseer op die poësie van Jeanne Goosen uit Elders aan Diens skryf Andries Vrey ’n paar jaar gelede hy sal graag sy pensioen wou inruil, as ’n mens kon, op Luna.

Na sommige mense moet mens leer om te verwys as sangers, of musikante. En versigtig wees wie jy “kunstenaars” noem.

Interessant om die beroemde mense te sien wat nou na die koninklike troue opruk. Vreemd: eers doen iemand iets wat hom of haar nuuswaardig maak. Soos Piet van Zyl wat die ref geduik het. Dan beland jy op die A-lys vir uitnodigings na partye. En dan gaan maak jy geselsies met mense wie jy nie ken of soms selfs kan verduur nie. Ek sien toe vanoggend ’n foto van ’n celeb by een of ander funksie. Saam met ander beroemdes. En dink: dis seker maar om te netwerk. En dis harde werk, waarvoor die gewone mens nie lus is nie. Behalwe hulle wat ’n celeb is!

The future influences the present just as much as the past. – Friedrich Nietzsche (1844-1900)