Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > NB-Uitgewersportaal | NB Publishers Foyer

Mal oor Rugbymal


Gerrit Rautenbach - 2011-06-28

Rugbymal
Jaco Kirsten (Samesteller)
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624048756
Prys: R160.00

Klik hier en koop Rugbymal nou van Kalahari.net!



Ek is gevra om ’n resensie te skryf oor Rugbymal, die boek van saamgestelde stories oor rugby. Nou, dit is een van die moeilikste opdragte ooit. Want ek wil self net skryf oor my eerste drie in standerd 2 toe ek vir die skeidsregter vra: “Het ek hom, Meneer?” In die tyd toe ’n drie nog net drie getel het. Voor inflasie. Of van toe ek langs Frik du Preez gesit en kyk het hoe ons teen die Franse speel met ons terugkeer na internasionale rugby. Of hoe oom Koos Meyer op Ellispark kom toets kyk het met twee groot sakke lemoene. Lemoene wat met vodka ingespuit was ...

Maar wag, ek dwaal af. Rugbymal is ’n boek wat sierlik tussen die pale deurtrek. Om ’n samestelling van stories oor ’n onderwerp soos rugby te doen, is nie maklik nie. Genade ons, dis ’n reusagtige speelveld daai. Maar dit word verteenwoordigend gedek. Van die ou dae se Springbokke tot die politieke stryde en suksesse van Madiba in ’n nommer 6-Boktrui, die provinsiale burgeroorloë tussen Noord en Suid, skolerugby, plattelandse dorpspanne en die stryd van rugbyweduwees.

Net soos die invalshoeke van die verskillende stories sorg vir baie lig en donker (of is dit nou groen en goud?), is die mengsel van bydraende skrywers ook goed gekies. Party van die stories is klassieke sportjoernalistiek, ander grens weer aan letterkunde, en dan kry jy dié wat sommer net lekkerlees-vertellings is van mense wat nie skryf vir ’n lewe nie. Maar dit werk, want elke storie (en skrywer daarvan) het rugbymalligheid as gemene deler. Party van die skrywers, soos André Markgraaf, het die hoogste peil bereik in rugby en ander weer het nie veel verder as die onder 9 B-span gevorder nie. Maar elkeen volg die fenomeen slaafs na. En het lekker goeters om oor te skryf.

Soos Wynand Claasen wat in die 1960’s manies begin Springbokhandtekeninge versamel het en van sy kop af wou raak toe Dawie de Villiers, die Springbokkaptein, ’n brief van hom beantwoord het. Wynand het begin droom om soos Dawie te word. En hy het. Daar is ’n storie van Aletta Gardner wat self in Brittanje begin speel het. En as jy nou hou van die interskoolrugby-ding, gaan lees Freddie Kirsten se storie oor Paarl Gim vs Boishaai.

Daar is Erns Grundling wat die wonderwerk van ’n verenigde Suid-Afrika in Soweto deur middel van rugby ervaar het met Blou Bul-boere wat saam kuier in sjebiens. Colyn Truter skryf hoe hy amper ’n Maori geword het, hy het so baie van die haka gehou, en Louis de Villiers se legendariese Slag van Tucumán is ook in dié bundel. En so ook Piet Croucamp wat homself probeer vind het in Amerika. Deur middel van ja, natuurlik, rugby. Dit was voor hy iets van politiek af geweet het ...

Jaco Kirsten vertel jou hoe hy ’n comeback gemaak het in Engeland en toe per ongeluk vir die Walliese opposisie gaan speel het teen sy eie klub. Sy rugbykop blyk ’n bietjie koekoes te wees, maar sy skryfkop blyk beter aangeskroef te wees. Hy het Rugbymal saamgestel. En daarmee gedrop, geplace en gescore. In die woorde van onse Frik.

Kortom, Rugbymal is ’n lekkerlees-, maltrap- en soms bisarre versameling stories wat deurentyd herinner aan die emosie en irritasie, die vreugde en hartseer van wen of verloor van die spel met die bôl wat skeef rondhol. Hoe ook al, dis die moeite werd om te lees.

Mits jy van rugby hou ...

Nouja (soos Gerhard Viviers sou gesê het terwyl hy wag vir die skrum om te sak), dit klink alles positief, maar ek het tog ernstige negatiewe kritiek ook oor hierdie boek. Dit is totaal en al ontoereikend. Daar kort ’n Volume 2, 3, 4 ... Soveel stories van soveel rugbylegendes en malles is nog nie vertel is nie. Jaco, dan sal ek jou in Volume 2 vertel hoe ek my eerste internasionale toets op 42 gespeel het. As haker vir Saoedi-Arabië ...