Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfraad

Helena Gunter gee raad aan voornemende kortverhaalskrywers


Helena Gunter - 2011-06-28


Helena Gunter se raad aan voornemende kortverhaalskrywers

1. Weet dat daar nie werklik ’n resep is nie, maar vra jou nietemin die volgende vyf vrae af:

  • Waaroor wil/moet ek ’n storie skryf? (Wil/moet is belangrike woorde.)
  • Wie is die mense (karakters) in die storie?
  • Waarom doen hierdie mense wat hulle doen? (Dit moet ’n leser interesseer en oortuig.)
  • Waar speel die storie af?
  • Wanneer speel die storie af?

2. Slaan ’n tent op met die volgende vier hoekpenne:

  • karakters
  • ruimte
  • situasie
  • emosie.

Gestel byvoorbeeld jy laat ’n ruimteman in ’n voorstedelike kombuis in Skreeufontein land. Hy voel alleen, bang en bedreig, want vier vroue sit met brandende sigarette om die kombuistafel. Hulle kyk hom met Xanthippiese minagting aan. Jy het karakters (’n ruiteman en vier vroue), ruimte (’n kombuis in Skreeufontein), ’n situasie (die ruimteman is alleen en die vier vroue lyk nie vriendelik nie) en emosie (die ruimteman voel bang en bedreig en die vroue is vyandig).

Onthou, dis nog nie ’n storie nie; jy het slegs vier hoekpenne ingekap. Werk nou van enige van die vier hoeke af en laat dinge gebeur. Verweef genoemde elemente en gebeure – onthou soms kan hulle saamwerk, soos emosie en situasie in bostaande – sodat dit die leser sal vasvang, plesier, verras, interesseer.

Gestel jy maak ’n lysie van moontlike dinge wat volgende kan gebeur:

  • die ruimteman haal sy kopskerm af om die vroue met sy voorkoms te probeer beïndruk
  • die vroue raas met hom omdat hy die kombuis so bemors het (hy het deur die dak gekom)
  • die tamatiebredie kook oor op die stoof
  • ’n hond kom by die agterdeur in en snuffel aan hom.

Krap nou jou lysie dood en dink aan nog ’n moontlikheid, iets wat nie so waarskynlik is nie, iets wat die leser sal verras. Byvoorbeeld, ruimteman druk ’n knoppie aan sy pak wat ’n gas vrystel. Of die vroue bied vir hom ’n sigaret aan.

En hoe lyk, ruik, klink die kombuis, die ruimteman, die vroue? ’n Storie sonder tekstuur is soos ’n vrugtekoek sonder brandewyn.

3. Die verteller en fokalisering (die stem wat uit die storie praat) is net so belangrik soos ’n karakter.

4. Dink aan jou lesers – respekteer hulle; hulle verdien dit meer as enigiemand anders.