Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

''Ek moes eers leef.'' Nini Benett gesels oor haar digdebuut kodeks.


Nini Bennett - 2011-06-28

Untitled Document

kodeks
Nini Bennett
Uitgewer: Cordis Trust






Nini, jy is onder lesers bekend as ’n kortverhaalskrywer, veral na die verskyning (en bekroning) van Stoornis. Sien jy jouself eerstens as kortverhaalskrywer, of was daar nog altyd ’n digter wat in jou geskuil het, en dalk net langer gevat het om te publiseer?

Ek dink beide. Die skryf van kortverhale is “ligter”; poësie emosioneel meer veeleisend. ’n Mens moet in ’n sekere mate gepekel wees as dit kom by gedigte. Ek glo daar skuil al vir jare iets soos ’n digter in my, maar die tyd was nog nie ryp nie. Ek sal myself egter nie ’n digter noem nie. Ek streef nog daarna. Ek het versies geskryf nog voor ek skoolgegaan het, maar het intuïtief geweet ek moet lank wag. Ek moes eers leef.

Hoe lank is kodeks nou al “in the making”? Sal jy ook vir my van die ontstaan van die bundel vertel?

Nadat my man Desember 2006 oorlede is, en ek alles verloor het, het ek geweet dit was ’n roeping. Ek het nie direk daarna begin skryf nie, maar begin dink. Iewers moes ek sin maak uit al die verliese. Ek het geweet ek kort wysheid en het lewenslesse om te leer. Aanvanklik het ek met ’n stemgeaktiveerde bandmasjien begin loop en gedagtes, beelde, reëls uit moontlike gedigte, asook dele uit strofes begin uitpraat. Geleidelik het alles begin vorm aanneem vir ’n bundel. Ek het die bundel nie beplan nie. Later het ek die agt bandjies oorgeskryf – notas vir ’n bundel. Fase drie was dan die skryf van volledige gedigte. Ek het vinnig en met baie passie gewerk. Woorde was al wat ek gehad het; skryf was al wat vir my oorgebly het. Ek het elke gedig in fase drie geskryf met Mozart se Requiem (of ander koraalmusiek), met my oorfone. Die musiek was in ’n sekere sin ’n katalisator vir die woorde – dit het my helder laat sien.

Stoornis is deur Tafelberg uitgegee, terwyl jy met kodeks die selfpublikasie- roete gevolg het. Was daar ’n rede vir die verskuiwing na onafhanklike publikasie?

Fanie Marais van Cordis Trust het my genader en baie belang gestel in die manuskrip; aangebied om dit te laat publiseer. Ek het nie kans gesien vir die rompslomp en lang wagperiodes by hoofstroom-uitgewers nie. Ek wou die bundel finaliseer – dit sou ’n hoofstuk in my lewe finaal afsluit.

Die boek is uitgegee met ondersteuning van die Cordis Trust. Kan jy meer oor die trust vertel, en hoe hulle die uitgee van kodeks moontlik gemaak het?

Cordis Trust, met Fanie Marais as uitvoerende trustee, bevorder Afrikaanse kultuurbelange. Die trust is op die been gebring ter nagedagtenis aan sy dogter. Sy dogter het ook gedigte geskryf. Mnr Marais het ’n groot sentiment aan haar nalatenskap – en in tandem daarmee, kodeks – geheg. Cordis Trust het die publikasie van kodeks gefinansier. Daar is egter op ’n klein begroting gewerk (ongeveer R10 000). My inset tot die proses was slegs die manuskrip – die res was in Cordis Trust se hande. Die publikasieproses rondom kodeks het my egter op die spoor van ’n novelle gebring. Ek glo, in retrospeksie, dat mnr Marais se dogter ’n stem soek om haar eie verhaal te verwoord – iets wat sy sou gedoen het as sy die kans gehad het.

In die eerste afdeling van die boek, “Indeks”, verskyn drie verse wat as sleutels tot die res van die tekste in die bundel gelees kan word, en ook as indeks funksioneer in terme van die manier waarop hulle van die temas wat in die bundel ontgin word, aankondig. Het jy vooraf op temas besluit waaroor jy wou skryf, of het die bundel meer organies vorm aangeneem, en die gedigte later sinvol georganiseer?

Ek het breedweg op temas besluit: verlies, rou, dood, verganklikheid en die herbesinning van die lewe. “Met apologie aan Breyten” was die eerste gedig wat ek geskryf het. Ek was ’n gekwelde gees op daardie stadium en die minieur-toonaard was die sleutel vir die woorde en beelde wat moes volg. Die bundel het geleidelik organies begin vorm aanneem; dit was eintlik magies om te sien hoe alles bymekaar uitkom! Ja, ek het heel laaste die gedigte sinvol georganiseer. Alhoewel ek probeer het om in eksakte prosesse te skryf, werk dit nie so nie. Die prosesse oorvleuel.

Reeds in een van die eerste “indeks”-gedigte, soos hier bo bespreek, tree jy in gesprek met ander digters, en die gesprek word deur die loop van die bundel voortgesit en uitgebrei, soms met verwysings, soms direkte aanhalings en by ander tye weer net weergalmings van bekende reëls uit ander se gedigte wat in joune hoorbaar is. Wat is by jou die motivering vir hierdie intertekstuele gesprek? En wie sou jy sê is jou digterlike voorsate? Om hierby aan te sluit, wie is die digters na wie se werk jy telkens terugkeer, wat jou persoonlik na aan die hart lê?

Geen digter skryf in ’n vakuum nie. Bewustelik of onbewustelik praat daar baie stemme saam. Die indeksgedig “Met apologie aan Breyten” (parodie op sy “Drome is ook wonde”) som in ’n sekere sin die gees en toonaard van baie gedigte op. Dit is belangrik om ou, maar universele en tydlose gedigte af te stof en weer te laat saam praat in die moderne diskoers. Indirek is intertekstuele inbedding altyd daar. Direk tree mens in gesprek met ander digters om ’n statement te maak – in die gedig oor Charlotte Mew word die selfmoordgedig byvoorbeeld ’n stem tussen al die ander (moderne) slagoffers van die lewe. Digters na wie se werk ek altyd terugkeer, is Ingeborg Bachmann, Charles Bukowski, Denise Levertov, Sylvia Plath, Breyten Breytenbach en Wilma Stockenström – om maar ’n paar te noem.

Geweld teenoor vroue, kinders en ander weerlose mense is een van die temas wat sterk figureer in kodeks. Is it maar ’n natuurlike uitvloeisel van ’n lewe in ’n gewelddadige samelewing, of het die digter ’n verantwoordelikheid om haar oor sosiale kwessies uit te spreek?

Die digter het definitief ’n verantwoordelikheid om haar oor sosiale kwessies uit te spreek. Geweld teenoor weerloses maak my kwaad. Mense is al so gedesensitiseer ten opsigte van euwels soos geweld dat skrywers dikwels moet skok om lesers weer op die kwessies attent te maak. As ’n sensitiewe medium is poësie ideaal hiervoor – poësie fokus op ’n mens se verhoogde bewussyn en sy gevoelsbelewenis van dinge. ’n Skrywer met integriteit sal sy sosiale gewete ook ernstig opneem.

Op die omslag pryk ’n illustrasie deur jou suster, en jy skryf in die opdrag dat hierdie illustrasie die “gees van die gedigte sinvol vergestalt ...” As jy nou verkoopsdame moet speel, en vir belangstellendes moet opsom wat die gees van die gedigte is, wat sou jy sê?

Dis moeilik om te sê. ’n Outeur is nie altyd objektief nie. Daarom is ek dankbaar vir my suster se illustrasie. Sy het my baie ondersteun met die skryfproses en die gedigte baie herlees. Ek het geskryf met die idee dat my hele selfbehoud op die spel is – daar het baie energie, of krag, in die gedigte ingegaan. Ek beleef dinge baie intens. Ek was hartseer en ontnugter – en wou streef na waarheid, hoe skokkend of ondraaglik dit ook al mag wees. En inskryf teen ongeregtighede soos molestering, geweld en ander misdaad. Ook ’n spirituele verlossing na ’n katarsis – en in ewewig met lyding, dat lewe weer wag – alles beweeg siklies.

Die kodeks van die titel verwys seker na die vroegste vorm van die moderne boek, maar roep vir my ook die enkodering van rekenaartaal op. In jou bundel is daar dan ook gedigte wat met moderne kommunikasie-tegnologie flankeer (soos die Binker Stein-gedig, wat oor ’n herontmoeting op Facebook gaan). Wat is jou mening oor die debat rondom die “dood van die boek” in ons informasie-generasie? Hou tegnologiese ontwikkeling ook kreatiewe moontlikhede vir die digkuns in, of is dit alles slegte nuus?

Ek glo darem nie ons staar ’n papierlose en digitale scenario in die gesig nie. Boeke sal daar altyd wees. David Mash skryf: “[M]ost of the world’s knowledge still resides in print.” Ek self is ’n voorstander van die boek, die hardekopie. Boeke het ’n aura van hulle eie. ’n Nuwe boek is ’n wonderlike ervaring; as jy dit die eerste maal oopmaak en ruik, en hy kraak so effens op die rugstring ... Boeke móét bly voortbestaan. Dit is goed dat die internet baie digters die geleentheid bied om te publiseer, maar ek voel daar moet groter kwaliteitbeheer toegepas word. Wat help dit as jy 3 000 gedigte publiseer maar literêre meriete bly in die slag? Ek dink wel tegnologiese ontwikkeling hou moontlikhede vir kreatiewe idees vir skryfkuns in. Met Facebook vergroot en verklein die virtuele domein mense se persoonlike ruimtes. Identiteit kan ook in die slag bly, want die verifieerbaarheid van ’n profiel is onmoontlik.

Op ’n effense ander noot: ek het verlede jaar jou artikel oor die strafregtelike vervolging van diere in die Middeleeue gelees en was gefassineer daardeur. Vanwaar jou belangstelling in hierdie tema? Sal jy ooit probeer om dit in kreatiewe skryfwerk te ontgin, of is dit suiwer akademiese belangstelling?

Ek het ’n voorliefde vir die absurde, en is voortdurend op soek na absurde, maar reële, gebeurtenisse. Ek het verskeie akademiese belangstellings. Ja, ek dink daaraan om die inligting vir byvoorbeeld die absurde teater te verwerk.