Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfraad

Jaco Fouché se raad aan voornemende kortverhaalskrywers


Jaco Fouché - 2011-06-23

Jaco Fouché se raad aan voornemende kortverhaalskrywers

  • Minder is meer. Ek sukkel om hierdie stukkie raad te volg, maar dit moet gedoen word en ek glo vas in ’n "skraal" teks. In die rolprent A river runs through it stuur die pa sy jong seun weer en weer terug na sy skryfwerk toe met die opdrag om dit die helfte korter te maak. Uiteindelik word die seun ’n letterkunde-dosent. Kyk ’n mens na die stuk werk waarop die rolprent gebaseer is (ek het dit lank terug in Bellville se biblioteek opgespoor), sien jy dat dit besonder kort is vir ’n outobiografie. Die seun het sy pa se raad gevolg en in sy bondigheid nog steeds ’n uitmuntende verhaal vertel.

  • Gaan biblioteek toe en soek na die boekies wat jou leer om
    historiese romans in tien maklike stappe te skryf, of om oortuigende liefdesverhale te skryf, of om westerns te skryf. Al stel jy nie in die genre belang nie en al het niemand nog ooit van die boekieskrywers gehoor nie, sal daar nuttige wenke wees.

  • Dieselfde geld vir sogenaamde swak skryfwerk. Dis soos in die alledaagse omgang met mense waar jy alle soorte teenkom. ’n Mens leer ook by mense met wie jy glad nie saamstem nie, so loer ten minste in die boeke en tydskrifte wat mense jou vertel swak is, om te sien wat daar staan. Dalk kom jy op iets waardevol af, soos ’n idee vir ’n storie.

  • ’n Skrywer moet simpatiek teenoor baie verskillende karakters wees. Jy moet ’n kommunis, ’n polisieman en ’n satanis in een storie kan akkommodeer. Ek self is nie mal oor misdaadverhale waarin die misdadiger ’n absolute booswig is wie se ondergang die punt van die boek is nie. Beeld die oortreder genuanseerde en met begrip uit en jou storie sal heelwat ryker wees.

  • Lees skrywers wat ’n sterk onderskeibare styl het, soos Alexander Strachan of Graham Greene, of wat bekend is as "moeilike" skrywers, soos Karel Schoeman en Virginia Woolf, en probeer hulle dit nadoen. Elke styl wat jy so benader, bestudeer jy eintlik, en dit sal in jou werk tot sinne lei wat jy nog nie voorheen gewaag het nie. So vergroot jy jou arsenaal en leer jy om al hoe meer van die effekte wat jy in jou gedagtes het, aan lesers werklik te maak.

  • Maak aantekeninge, al is jy nie by jou skryftafel nie. Wanneer jy aan ’n storie werk, probeer net die een ding in jou kop hê, sodat jy met ’n sekere ingesteldheid na die wêreld kan kyk en net die dinge neerskryf wat daardie ingesteldheid ondersteun of ontwikkel. Dit wil sê, dan maak jy relevante aantekeninge wat jy nie vir ’n ander storie sal maak nie.

  • ’n Goeie verhouding met ’n redakteur wat sy of haar storie ken, is goud werd. Onthou net dat hulle besige mense is wat na baie, baie manuskripte en skrywers moet omsien, so moenie afgeskeep voel as hulle jou nie binne ses weke ná ’n voorlegging kontak nie. Wag drie maande voor jy begin navraag doen. Verder: dit sal tyd neem om ’n verhouding op te bou en dit sal natuurlik in groot mate afhang van wat jy kan bied, want dit is immers ’n sakeverhouding en jy sal iets moet gee wat vir hulle (en ook vir jou) ’n verhouding die moeite werd maak.
  • Leeswenk: Onder my gunsteling-kortverhale tel “An occurrence at Owl Creek Bridge” en “The old man and the sea” (eintlik 'n baie lang kortverhaal). Van O Henry se verhale is ook mooi, en dan is daar Barnard se Duiwel-in-die-Bos-verhale, wat almal goed is. Ek het ook van die boksverhale in Rope Burns van FX Toole gehou. En Borges se storie "Die boek van sand" is so goed dat 'n mens dit weer en weer wil lees.