Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfraad

Riana Scheepers gee raad aan voornemende skrywers


Riana Scheepers - 2011-06-23

Riana Scheepers se raad aan voornemende skrywers

  1. Daar is niks romanties aan skryf nie; dit is harde, harde werk. As jy dink stories kom soos feetjies in die nag, is jy verkeerd. Hulle kóm soms soos feetjies in die nag, maar dan is dit ’n wonderwerk – moenie daarop reken nie. Skryf is genadeloos; dit laat nie baie ruimte vir fyn nerwe nie.

  2. Moenie begin skryf omdat jy dink dit gaan jou ryk maak nie. Of beroemd. Jy sal miskien eendag ryk en beroemd wees, maar dan is dit ’n wonderwerk – moenie daarop reken nie. En ás jy ryk en beroemd is, onthou dan steeds dat ’n kunstenaar floreer op basiese instinkte. ’n Skrywer wat dink dat hy vreeslik goed kan skryf, skryf nie meer goed nie.

  3. Kuns gaan nooit oor flou emosies nie. Skryf oor dit wat jou ontroer. Of kwaad maak. Of gelukkig maak. Om oor die geluk te skryf, is die moeilikste; jy gaan dalk verder kom met die kwaad en die ontroering.

  4.  ’n Kunstenaar sê nooit nee vir ’n opdrag nie. Daar is niks so stimulerend soos ’n opdrag (en ’n sperdatum) nie.

  5. Moet nooit sê: “Ek het nie tyd nie.” Niémand van ons het tyd nie, jy máák tyd!

  6. Moet nie met ander mense oor jou verhaal praat terwyl jy skryf nie; jy praat die positiewe energie van jou storie skoon weg. Moet ook nie jou verhaal aan ander mense gee om te lees nie, om dieselfde rede. Maak klaar sover jy kan voordat jy daaroor praat of dit vir ander mense wys.

  7. Luister graag na ander mense se menings oor jou verhaal, maar onthou: dis jóú verhaal; vertrou jou eie instinkte.

  8. As jy skrywersblok het, skakel die radio en televisie af. Permanent. Ja, ek bedoel dit. Vir minstens ’n week luister jy na geen musiek nie en jy lees vir ’n week lank nie één boek, tydskrif, koerant of selfs pamflet nie. Nie eens ’n kookboek nie. Dit is verstommend hoe ons onse koppe volprop met dinge wat namens ons dink en voel. Ek belowe jou, na ’n week se stilte, waarin jy kans kry om na jouself te luister, skryf jy.

  9. As jy nie weet waaroor om te skryf nie, klim in jou kar en ry ’n verskriklike ver ent. ’n Duisend kilometer of so. Sonder om die radio aan te sit. Ná daardie duisend kilometer in stilte sal jy weet wat jy moet doen.

  10. Moet nooit ’n geleentheid laat verbygaan om te skryf nie. Skryf jou eie verjaarsdag- en groetekaartjies, skryf briewe, skryf kennisgewings, skryf vir die verkeersdepartement waarom hulle jou afslag moet gee op jou spoedboete. ’n Atleet hardloop elke dag ’n paar kilometer om fiks te bly, ’n pianis speel elke dag toonlere om sy vingers soepel te hou. ’n Skrywer skryf.

  11. Maak van elke sms-boodskap ’n klein verhaaltjie. Of ’n gedig. Of ten minste iets ánders as net ’n simpel sms.

  12. Moenie jaloers wees op ander skrywers nie. Moenie sê jy kan dit ook doen nie – dóén dit.

  13. Om ’n boek te skryf is soos om ’n olifant te eet. Of ’n braambos uit te kap. Hoe doen jy dit? Jy eet hom stukkie vir stukkie. Of jy sny bietjie vir bietjie. Elke dag. Op ’n dag het jy ’n olifant opgeëet en ’n hele braambos uitgekap.

  • Leeswenk: Die een kortverhaalbundel wat my op die oomblik sprakeloos het, is nogal in Engels. Wells Tower se Everything ravished, everything burned.   Dit is doodgewoon briljante skryfwerk.