Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Onderhoude | Interviews

Strijdom van der Merwe gesels oor Site Specific, landkuns en sy nuwe boek


Reney Warrington - 2011-06-23

Strijdom van der Merwe is volksbesit. Alhoewel die meeste Suid-Afrikaners sy naam, en hulle bewondering vir hom, koppel aan die bome wat hy in rooi lap toedraai, is daar ’n massiewe versameling werke wat hy op sy stil manier uitpak, toedraai, bou of hark, dan afneem en in boekvorm uitbring.

Ek het tydens Site Specific, Suid-Afrika se eerste landkunsfees in Mei, tyd saam met hom en die ander kunstenaars spandeer. Wat my eerste opgeval het omtrent Strijdom is hoe opreg hy oorkom. Met my siniese Joburg-kunskringe-agtergrond het ek gewag vir iets om skeef te loop, vir Strijdom om “diva” te speel. Die gewag was tevergeefs.

Ek het bietjie met hom gesels oor Site Specific, landkuns en sy nuwe boek wat begin Augustus deur Protea Boeke uitgebring word.

Ek het ’n gerug gehoor dat jy eers in die versekeringsbedryf was, toe jou pensioen gevat het en vir twee jaar net landskapkuns gemaak het. Is dit waar?

Na my twee jaar militêre diensplig wás my eerste werk by Sanlam. Ek het hulle pamflette, brosjures en grafiese werk gedoen. Daarna het ek vir agt jaar die Universiteit van Stellenbosch se pamflette, brosjures en alle grafiese werk gedoen. Gedurende daardie tyd het ek ook deeltyds begin klas gee in die Kunsdepartement. Naweke en agtermiddae het ek die “platteland” in gery en my landkuns gedoen. Tot ek eendag besef het dat my prioriteite nie meer by my dagwerk is nie, maar eerder by na-uurse werk. Ek het my bedanking ingesit, al daai pensioen- en werkloosheidgeld gevat en na Praag en Canterbury gegaan om verder te studeer. Ek het teruggekeer na Suid-Afrika om net my kuns te doen. Daardie geld het my so twee jaar aan die gang gehou totdat my landkuns ’n inkomste begin maak het.

Hoekom het jy landskapkuns gekies as jou medium?


Nee wat, ek dink sulke dinge gebeur weens ’n samekoms van omstandighede. Ek het op ’n plaas grootgeword en baie alleentyd in die veld en bos spandeer en ek dink daar reeds van vroeg af geleer om anders na die natuur te kyk. Met “anders” bedoel ek jy begin moontlikhede sien wat daar bestaan omdat jy intens nader aan die natuur leef.

Op universiteit het ek al die basiese beginsels geleer van kleur gebruik, balans, perspektief, kontras, ens. Dit alles vind jy ook in die natuur as medium om mee te werk; jy moet dit net kan raaksien en ontsluit. Dit was dus ’n logiese stap om my grootword-ervarings te verbind met my liefde en kunsgeleerdheid.

Die agt jaar se werk as grafiese kunstenaar was goed en wel, maar eintlik bloot ’n 8-tot-5-kantoorwerk. Ek het die wind en die son op my vel, die geluide en reuke van die natuur gemis. Ek moes net uit.

 

Marco Cianfanelli het tydens Site Specific 2011-voorlegging gesê hy noem homself ’n kunstenaar as ’n “term of convenience”: dit gee hom die vryheid om kommentaar te lewer op die samelewing. Noem jy jouself ’n kunstenaar?

Ja, ek dink so. Dikwels al gewonder oor die “naam”. ’n Beeldhouer is ek nie, ook nie ’n skilder of fotograaf nie – maar ek is tog al daai dinge in een om ’n werk te kan maak. So as die term kunstenaar omskrywend is van iemand wat skeppend leef, dan val ek seker in daai kategorie. :)

 

 

Maak jy kuns om kommentaar te lewer op die samelewing? Daar is ’n algemene mening dat landskapkuns bloot dekoratief is.

“Kommentaar op die samelewing” moet miskien gedefinieer word. In Suid-Afrika sal dit altyd gesien word as politieke kommentaar en indien jy nie deelneem aan “struggle”-kuns of simpatie het daarvoor nie, dan word jou werk gewoonlik nie as kommentaar-lewerend gesien nie. My “stem” is dus nie een wat praat van politiek of armoede of rassekwessies nie.

Tog sien ek landskapkuns soos dit vandag beoefen word, beslis as kommentaar op ekologiese en natuurkwessies. Ek stal nie ’n pasboek van die sewentiger jare uit nie, maar die subtiele hantering van die natuur as kunsmateriaal en -medium het wel ’n baie definitiewe, diepliggende boodskap.

Om die elemente in die natuur te herrangskik maak ons ’n wêreld oop vir die publiek wat hulle voorheen nie geken het nie en dit kweek ’n bewuswording by hulle vir die skoonheid en sensitiwiteit van die natuur. Natuurlik sal dit aanleiding gee tot ’n groter bewuswording van aardverwarming en besoedeling-kwessies.

So dink ek byvoorbeeld dat Hannelie Coetzee se klipstapels op die strand mense weer bewus gemaak het van balans, eenvoud, ritme en die kwesbaarheid van die mens. Ek het vele stories gehoor van mense wat in trane was terwyl hulle na Hannelie se klippe gestaan en kyk het – sekerlik is dit ’n bewusmakingproses wat kommentaar in jouself veroorsaak? Om op te som: ons lewer kommentaar saggies en stil en meer innerlik met skoonheid en “dekoratiwiteit” sonder om die intellektuele prys te gee.

Wie se idee was Site Specific, die landkunsfees in Plettenbergbaai?

Ek het vele soortgelyke goed oorsee gedoen en altyd gedink dat so iets eendag hier moet gebeur. Oorsese kunstenaars het ook vir my gevra of daar nie geleenthede in Suid-Afrika is nie en ek het besef dat hulle in Afrika wil kom werk. Maar vir die admin het ek nooit kans gesien nie. Eintlik is ek maar net ’n kunstenaar wat werke wil skep.

Verlede jaar het ek Anni Snyman genomineer om in my plek na Italië te gaan om aan ’n soortgelyke projek deel te neem. Sy het teruggekom en gesê ons moet dit ook hier doen. Met haar aanmoediging en energie het ons dit toe aangepak en ’n komitee saamgeroep wat na al die aspekte moes omsien. Ek het my kennis en bydrae aangebied om na die behoeftes van die kunstenaars om te sien.

As Anni nie met die voorstel gekom het nie, sou Site Specific nie gebeur het nie en ek sou altyd gewonder het.


Wat is die doel agter Site Specific?

Die begrip van kunswerke wat vir ’n spesifieke “site” gemaak word, is in ’n mate onbekend in Suid-Afrika en ook vreemd as werksmetode vir vele kunstenaars. Dit het ek die week in Plett weer besef.

As mens gelukkig was om oorsee reeds aan vele soortgelyke projekte te kon deelneem, dan besef jy hoe alledaags die begrip is en dat dit dieselfde gewig dra as enige ander rigting in die kunste.

Die opwinding om ’n kunswerk te sien gebeur as gevolg van die omgewing en die invloed van die landskap op die kunstenaar bly nog steeds vir my een van die beste kreatiewe improvisasieprosesse. So, Site Specific sien ek as ’n uitstalling van kunswerke vir ’n “site” en in dié geval was dit Plett. Ek skop vreeslik daarteen dat die dokumentasie in ’n galery uitgestal moet word, want my sienswyse is dat Plett die galery was. Om ’n katalogus te hê, ja, dit is uiters belangrik, en dokumentasie van die werke moet gegee/gesien word. Om dit egter galery toe te vat is ’n stap agteruit. maar dit is ’n persoonlike gevoel en nie almal deel dit nie. :)

Gaan dit ’n jaarlikse instelling wees?

Nee. Elke tweede jaar. Indien ons weer ons kragte herwin en slegs as ons borggeld ontvang om reis en verblyf en kunstenaarsgelde te betaal sal ons dit weer doen. Die groot vraag sal wees: Gaan ons dit weer in Plett doen? Die gemeenskap is reeds “ingebreek”, maar sal die opwindende gedeelte nie juis wees om dit elke tweede jaar na ’n ander landskap met ander uitdagings te neem nie? So dink ons byvoorbeeld sterk aan Karoo1. (www.karoo1.com) Maar volgende keer moet ons almal geld verdien.

Die kunstenaars is nie ’n kreatiewe tarief betaal nie en hulle moes self in Plettenbergbaai uitkom. Selfs die internasionale kunstenaars het hul eie vliegkaartjies gekoop. Die plaaslike restaurante en hotelle het wel verblyf en kos gratis aangebied. Dink jy hierdie kultuur van ruilhandel is volhoubaar?

Nee, beslis nie. Omdat dit die eerste keer was, en omdat ek goeie verhoudinge met die internasionale kunstenaars het, was dit moontlik om hulle te oortuig om ons te kom help om aan Site Specific aansien te gee en dit te vestig.

Die feit dat dit in Plett en by die see was, het heelwat van die Suid-Afrikaanse kunstenaars getrek. Hulle het dit gedoen uit ondersteuning en lojaliteit vir die eerste Site Specific. Hiervoor is ek hulle almal innig dankbaar. Ek besef maar alte goed hoe groot die opoffering is.

Dat soveel van die plaaslike Plett-besighede betrokke geraak het, is te danke aan die wonderlike verhouding wat een van ons organiseerders, Heather Greig (en haar pa Angus), met die gemeenskap het. Indien ons dit op ’n ander plek moes aangebied het, sou ons klippe gekou het. In die toekoms sal ons steeds vra vir borgskappe, maar met hoed in die hand wil ek nie vir altyd loop nie. Die ideaal is dat Site Specific soveel publisiteit sal lok dat borge deel wíl wees.

Talle kunstenaars het opgemerk dat die gewone agteraf pratery, jaloesie en rugstekery wat ongelukkig baie algemeen is in die kunsbedryf, ooglopend afwesig was tydens Site Specific. Dink jy dit is die gees van ruilhandel? Of die organiseerders wat so effektief en ongelooflik gaaf was?

Ek sou graag wou dink dat dit die mooi omgewing en die rustigheid van die see was wat almal gekalmeer het. Asook die feit dat daar nooit ’n gevoel van kompetisie geskep is nie en dat die werke nie permanent hoef te wees. Dit is so in kontras met die gewone uitstalgalery-prosedure dat almal net ontspanne gevoel het.

Tog dink ek wel dat indien die kunstenaars in die toekoms ’n kunstenaarsfooi sal ontvang, daar meer druk op hulle sal wees om te “perform”. Nie dat hulle dit dié keer nié gedoen het nie, maar dan is daar ’n verwagting om aan te voldoen.

Wat is die titel van jou volgende boek? En wat sluit dit in?

Sculpting the earth – Interventions with the landscape. Dit sluit al my werk in wat gemaak is na die eerste boek uitgekom het. Wat wel anders is in die tweede boek, is dat dit van my meer permanente beeldhouwerke wys. Dit is belangrik om te wys dat die natuur in die werke nog steeds die oorheersende kreatiewe invloed is, maar dat kliënte en die loop van my loopbaan tog anders verloop het oor die afgelope vyf, ses jaar. Die klem lê nog steeds op landkuns en die tydelikheid van die proses.

Wat is die nut van ’n boek uitbring in Suid-Afrika? Geld maak gaan ’n mens nie. Is dit ’n rekord van jou loopbaan? ’n Portefeulje wat mens kan rondwys, aangesien baie van jou werke tydelik van aard is?

Ja, so ’n boek is ’n portefeulje van werk wat ek gemaak het en nie meer bestaan nie. Dit is ’n “register” van werke wat mense nou kan sien en geniet. Hopelik is die beelde/dokumentasie sterk genoeg dat dit die rol sal vervul van ’n “uitstalling” soos ons dit op die konvensionele manier ken en verstaan in galerye.

Hoe belangrik is die proses versus die eindproduk in landskapkuns? Vat byvoorbeeld Hannelie Coetzee se werk wat jy vroeër genoem het. Sy het 13 klipstapels op die strand gepak; met elke hooggety is dit omgeslaan en dan het sy van voor af gepak. Vir haar was die proses meer belangrik as die finale 13 klipstapels. Hoe dra ’n mens dit oor aan die publiek? Hoe dokumenteer jy die “werk”?

Ja, dit is die vraag waarmee ek my lewe lank nog altyd worstel. Hoe kan ek die publiek die proses laat beleef?

Ek is bly Hannelie het dit so beleef. Wonderlik. Vir my was dit nog altyd die beste gedeelte van enige werk gewees, daardie proses wat jy deurgaan. Dit is soveel meer as net klippe balanseer. Dit is die verstaan van die klip se balans, sy lêvlak, sy persoonlikheid en sy weerstand teen jou en sy samewerking met jou. Ek is seker elke keer wat Hannelie hulle weer gaan pak het, het sy geweet hoe om elke klip weer aan te spreek, waar om aan hom te vat en hoe om hom te hanteer. Elke klip verskil en dit sal jy nooit in ’n foto-dokumentasie kan weergee nie.

Ek doen moeite om heelwat van my werke deesdae met video te dokumenteer en in ’n mate is dit ’n verduideliking van die proses waardeur die kunstenaar gaan. Maar die geheim ontduik my ook nog steeds. Hoe om dit wat jy beleef, vir die kyker te kan wys. Indien daardie resep gevind word, hoef die finale produk dalk nooit gewys te word nie. Soos die werke van Richard Long, is dit ’n reis deur die lewe, nie die prentjie nie.


Foto's: Reney Warrington