Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Terugflits: Die Harry Potter-reeks


André Crous - 2011-06-22

Untitled Document


Op 15 Julie word die laaste aflewering van die Harry Potter-filmreeks vrygestel: Harry Potter and the Deathly Hallows, Part II.  Dit kom ná tien jaar se films – agt in totaal – onder leiding van vier verskillende regisseurs en twee draaiboekskrywers. Weens die reuselengte van die totale produksie (die looptyd van al die films saam is meer as sewentien uur) moes sommige akteurs ook vervang word. Met die afsterwe van Richard Harris, wat Dumbledore in die eerste twee films vertolk het, is sy rol oorgeneem deur Michael Gambon.

JK Rowling, vir diegene wat nie haar naam geken het voor die vrystelling van die eerste Potter-film in 2001 nie, het nou wyd en syd beroemdheid verwerf vir haar skepping van dié towerwêrelde. Die eerste boek in die reeks, Harry Potter and the Philosopher’s Stone, is reeds in 1997 gepubliseer, maar dit was altyd Rowling se bedoeling om sewe boeke in die reeks te hê, selfs al was net vier reeds gepubliseer toe die eerste boek al verwerk is na ‘n filmweergawe.

Hoewel daar sewe boeke is, is daar agt films in totaal, aangesien die laaste boek in twee dele opgedeel is en só uitgereik word.

Hieronder volg ’n kort bespreking van die eerste vier films in die reeks. Ek sal in hierdie rubriek met die vrystelling van die laaste film in die reeks my oorsig oor die laaste vier films voltooi.

  1. Harry Potter and the Philosopher’s Stone (2001): Die eerste film skets die wêreld van Muggles en Towenaars met vindingryke detail en tussen al die pret deur kan ’n mens tog reeds aanvoel dat daar donker tye vorentoe wag vir die jong towenaar Harry Potter. Dit is in die VSA uitgereik as Harry Potter and the Sorcerer’s Stone, want die verspreiders was nie oortuig dat die publiek sou weet wat ‘n filosoof is nie.



  2. Harry Potter and the Chamber of Secrets (2002): Sekerlik die swakste film van die hele reeks en hier word daar net water getrap. Dit is die langste aflewering en het ook die slegste visuele effekte – die groot slang lyk soos iets uit slangetjies en leertjies. Dis nie moeilik om te sien hoekom Chris Columbus ná hierdie aflewering as regisseur vervang is nie.



  3. Harry Potter and the Prisoner of Azkaban (2004): Die visuele aanslag van Alfonso Cuarón se film is goed gekies om uit te beeld dat Harry se lewe by Hogwarts al hoe meer onheilspellend word. ’n Toneel wat te make het met ’n reis terug in tyd is ’n verbetering op die boek en die sang van die koor (“Double, double toil and trouble ... Something wicked this way comes”), wat deur middel van Shakespeare wys op donker ondertone, sal enigiemand koue rillings gee.



  4. Harry Potter and the Goblet of Fire (2010): Mike Newell, beter bekend as die regisseur van Four Weddings and a Funeral, se film is erg sentimenteel en sommige stukke dialoog is lagwekkend. Die film se storie vloei nie so lekker soos in ander aflewerings nie, maar die visuele effekte is goed en die kinders (almal behalwe Ron) begin behoorlik geloofwaardige jongmense word.