Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Kennisgewings | Notices

Klein Karoo Klassique 2011: ’n Fees van vokale en instrumentele klassieke musiek


2011-06-22

Kombineer ’n uithaler simfoniese opera galaprogram, een van die mees ontroerende gewyde klassieke koorwerke, kamermusiekkonserte met ’n vars artistieke inslag en vokale musiek vanaf die vroeë barok tot by hoogtepunte uit die klassieke en romantiese repertoire en selfs ’n paar ligte, meer hedendaagse konserte met kunsuitstallings, keurkos en fluweelsagte wyn en jy kry  die derde Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn van Donderdag, 4 tot Sondag, 7 Augustus 2011. ’n Wenresep om die frisste Karoo winter feestelik op te warm.

Die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO), weer onder die sjarmante leiding van Brandon Phillips, se Galakonsert sluit juwele uit die opera- en operette-repertorium in. Die soliste is Conroy Scott (bariton) en Friedel Mitas (sopraan). Die talentvolle jong Mitas, wat op Oudtshoorn grootgeword het, het onlangs die eerste Olitalia Rialto Beurs Kompetisie gewen. Die Opera Galakonsert word deur Absa moontlik gemaak.

Die KFO, St George’s Sangers, Scott en Mitas is ook saam met uitgesoekte Karoo-stemme in die Klein Karoo Feeskoor te sien in die fees se afsluitingskonsert, Mozart se Requiem. Dié feeskoor, met John Theodore as repetiteur, is reeds van die begin van Mei af aan die oefen. Hierdie uitvoering is, soos verlede jaar, onder die direkteurskap van dr. Barry Smith, stigter van die St George’s Sangers.

Klein Karoo Klassique word verryk met die teenwoordigheid van ’n ensemble van Suid-Afrikaanse vroeëmusiek spesialiste, bekend as die Cape Consort. Deur middel van historiese instrumente en nagevorsde uitvoeringspraktyk verken hulle gewilde én minder bekende hoogtepunte uit die barokrepertoire. Hulle bied drie uiteenlopende programme aan, met Monteverdi se monumentale Vespri-toonsettings, dramatiese musiek uit die baroktydperk en virtuoos vioolmusiek uit die 16de en 17de eeu.

En aan die romantiese kant van die klassieke spektrum, speel die vermaarde Suid-Afrikaanse begeleier Malcolm Nay en die besoekende Poolse tjellis Maciej Lacny, Schubert se welluidende Arpeggione-sonate, Brahms se bepeinsde eerste sonate en Fauré se poëtiese Elegie.

Die mezzo sopraan, Minette du Toit-Pearce, algehele wenner van die ATKV-Muziq-kompetisie in 2006, is in die fees se openingskonsert te sien, danksy die ondersteuning van die ATKV.

Die sopraan, Magdalene Minnaar en fluitspeler Liesl Stolz, begelei deur Mario Nell op klavier, se hoogs aangeskrewe Vuurvoël, ’n merkwaardige program van musiek wat deur voëls en voëlsang geïnspireer is en wat vroeër vanjaar by die Absa KKNK te sien was, word by Klein Karoo Klassique herhaal, veral omdat dit vir 'n Kanna-toekenning benoem is as beste debuutwerk oor alle genres.

Dié feesprogram sluit vanjaar ook twee ligter klassieke musiekkonserte in. Die Gugulethu Tenore sal tydens ’n ligte piekniekkonsert by Jamstreet se Plaasteater te sien wees. Dié tenore word bestempel as Suid-Afrika se eie Il Divo en sal gehore met hul sensasionele klank vermaak. Tydens Crazy Classics, by die Kango Grotte Restaurant, kry gewilde klassieke werke ’n nuwe baadjie én skop met die ritmes van klavier, kontrabas, trekklavier en stem.

Feesgangers kan by twee geleenthede in gesprek met kunstenaars tree. Onderwerpe is innoverende uitvoeringspraktyke en die revolusionêre impak van vroeë musiekpraktyke op die interpretasie van barokmusiek. Die gesprekke word gratis aangebied.

Besoekers aan die derde Klein Karoo Klassique kan ook weer uitsien na ’n keur van plaaslike kuns, kos en wyn. Kunsuitstallings word by verskeie kunsgalerye in die dorp aangebied en sluit 'n interaktiewe linosnee werkswinkel, aangebied deur Etienne van Zyl, in. Hoërskool Oudtshoorn bied tydens die fees hulle jaarlikse Jeugkuns en Fotoweek aan, waar werk van uitgesoekte kunstalent van skole vanuit die hele streek uitgestal word in die skoolsaal.

Daar is topgehalte kookkos te kies en keur met ’n wye verskeidenheid wat strek van eg Franse-disse tot vars plaaslik vervaardigde produkte. ’n Demonstrasie deur Francois Ferreira sal feesgangers toelaat om brandewyn, biltong en boerewors in ’n ander lig te beskou en feesgangers kan daagliks ook die wynlandgoedere in die omgewing besoek.    

Die volledige musiekprogram sal vanaf vandag (22 Junie) op die webblad beskikbaar wees by www.klassique.co.za en inligting rakende die wyn, kos, kuns en ander aktiwiteite sal vanaf 29 Junie op die webblad beskikbaar wees. Die gedrukte Feesgids sal vanaf 8 Julie by Computicket-takke in die Suid-Kaap, asook die Absa KKNK kantoor beskikbaar wees. Kaartjiebesprekings open Vrydag, 1 Julie by Computicket-takke of aanlyn by www.computicket.com.

Feesgangers kan vanjaar ’n beperkte aanbod pakket van kaartjies koop teen ’n spesiale afslagprys van R530, wat ’n volle R100 afslag is op die volprys van dié kaartjies. Die pakket sluit toegang tot die volgende agt konserte in: Openingskonsert met ATKV-Muziq-wenner, Vuurvoël, Sine Titulo: Virtuoos Barokvioolmusiek, Vespor da Concerto: Monteverdi vokale program, Amor, hai vinto, die Opera galakonsert, Schubert en Brahms Kamermusiekkonsert en die Mozart Requiem. Net 'n beperkte aantal pakkette is beskikbaar. Vir meer inligting skakel 044 203 8600 of e-pos info@klassique.co.za.

Klein Karoo Klassique 2011 word ondersteun deur Absa, ATKV, Van Loveren Wyne, Distell Stigting, Barrow Familietrust, Group Editors, verskeie hotelle, gastehuise en besighede in Oudtshoorn.