Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

Haarsny in 125


John de Wildt - 2011-06-22

Untitled Document

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 Ek het drie dae gelede in die woonstel ingetrek. Villa Barbarano 126. My vorige blyplek was die manskoshuis, waar ek vier jaar lank die lewe as koshuisbrak geniet het. Ek het my honneursjaar begin en kon gelukkig my pa oortuig dat die koshuislewe nie meer geskik is vir nagraadse studie nie. Ek het meer privaatheid nodig en dit het tyd geword om my eie potjie te krap. Met my karige beursgeldjies kan ek kwalik die huur betaal, kos koop en nou en dan petrol in my tjorrietjie gooi. Maar ek is vry.

Vanoggend voor die spieël het ek besef dat ek my hare sal moet sny. Dit is buite beheer en heeltemal te ongemaklik vir Pretoria se warm somer. Maar hoe? Geld vir luukshede soos haresny by ’n haarkapper is daar eenvoudig nie. Ek sal binnekort ’n plan moet maak. Miskien moet ek vir Jaap in die koshuis vra om sy knipper in te steek, maar ek voel nog nie lus om terug te gaan nie.

Toe ek by my deur uitgaan op pad biblioteek toe, stap ek amper in haar vas. Sy half dra, half sleep ’n groot asbliksak na die wheeli-bin aan die punt van die gang.

“Wag, ek sal jou help,” bied ek aan.

Sy volg my soontoe en hou vir my die deksel oop. “Dankie, ek is Sandra,” stel sy haarself voor.

“Ek’s Johan.”

Sy glimlag.

Sy lyk nogal oulik, selfs aantreklik, in haar kamerjas en pantoffels. Haar “ek-het-nou-net-opgestaan”-hare lyk woes. Ek herken haar van toe ons mekaar flussies in die hybak raakgeloop het.

“Kan ek vir jou koffie maak?” bied sy aan.

“Nee dankie, ek het nou net gehad en is op pad biblioteek toe om bronne vir my skripsie te gaan naslaan.”

Sy lyk effe teleurgesteld.

Dan raas ek met myself. “Jou fool! Daar laat jy nou net weer ’n gulde geleentheid deur jou vingers glip.” Dan onthou ek van my dilemma. “Ek wonder of jy dalk hare sny?” try ek my luck.

“Ek doen. Moes alewig my broers se hare vir skool kort hou en nou sny ek al die ouens se hare hier in Villa Barbarano. Soek jy ook ’n haarsny?”

“Short back and sides. Die lang hare maak my gek in die hitte,” sê ek terwyl ek die bos hare in my nek soos ’n poniestert vashou.

“Wanneer wil jy kom?”

“Vandag nog as jy kan. So twaalfuur?”

“Sien jou dan,” sê sy en glip by nommer 125 se deur in.

Skuins voor twaalf is ek terug en bêre my boeksak in my woonstel. Die plek is nog leeg en klink hol. Afgesien van my bed, die yskas, ’n stoel en tafel is daar nog nie veel nie. Ek hoop om die naweek nog ’n paar goedjies van die huis af saam te bring.

Terwyl ek opgewonde oor die haarsny aan nommer 125 se deur klop, hoop ek tog stilweg dat sy weet wat sy doen. Toe sy die deur oopmaak, is sy in ’n pienk eina-broekie en ’n oopmaag-T-hempie. Kaalvoet. Haar bos blonde hare val wild oor haar skouers. Heeltemal ’n ander prentjie as vanoggend … nie net aantreklik nie, sommer baie sexy.

“Trek uit jou hemp en kom sit.” Sy beduie met haar hand na die stoel in die middel van die vloer.

Die elektriese knipper is reeds ingeprop en lê op die tafeltjie met ’n verskeidenheid skêre en kamme. Die feit dat sy so goed voorbereid is, laat my effens meer gerus voel.

“Short back and sides. Nommer 3-kammetjie? Is jy seker?” vra sy.

“Laat waai.”

Daar is geen spieël voor my nie en ek besef ek kan nie sien wat sy aanvang nie. Toe sy die knipper aanskakel, laat die klakgeluid en die vibrasie daarvan my amper na my asem snak. ’n Koue rilling trek deur my lyf, my nek verstyf.

“Ontspan,” sê sy. “Ek weet wat doen. Laat sak jou kop.”

Dan voel ek die knipper in my nek vibreer. Die klank verander soos wat dit deur die boskasie beur. Die eerste snit is gemaak en omkeerkans is verby. Ek ontspan. Wat ook al die uitkoms, dit behoort ten minste beter te voel. Ons begin gesels.

Terwyl sy gesels en sny, voel ek haar bors saggies teen my rug vee. Sy staan naby aan my, haar sexy lyf millimeters van my af. Ek voel haar energie en ek wens sy wil stywer teen my kom staan. Ek skuif effens terug en voel haar onderlyf teen die bol van my rug.

Sy vat dit nie weg nie. Inteendeel, ek voel hoe sy stywer teen my druk. Intussen gesels en knip sy voort. Dan onderbreek sy die knippery en ek voel haar agter my beweeg. Wanneer ek weer haar borste teen my voel, besef ek sy het die hempie uitgetrek! Haar kaal borste vryf saggies teen my rug; haar tepels, nou styf, krap liggies. ’n Ereksie begin onwillekeurig in my dye ontwikkel.

Sy is klaar met die knipper en reik uit na die tafeltjie, vat ’n skêr. Ek sien haar mooi, vol borste vir die eerste keer. Dan kom staan sy voor my, haar bolyf op oogvlak. Sy glimlag stout. Haar oë val na my broek, waar my ereksie nou duidelik sy merk maak. Die glimlag word breër, haar oë glinster.

Terwyl sy aan my kuif werk en hier en daar afrond, wieg haar borste rustig voor my oë heen en weer. Is dit te goed om waar te wees? Droom ek? Ek kry die intense behoefte om aan haar borste te vat en aan die nippels te suig, maar hou my in. Laat sy maar eers klaarmaak; haar intensies is in elk geval duidelik.

Sy is klaar gesny en sit die skêr op die tafeltjie neer. Sy kom staan wydsbeen oor my bene, haar plat magie voor my mond. Ek sien haar naeltjiering en die klein tatoe van ’n vlinder halfpad by die pienk broekie uitsteek. Sy leun vooroor, vou haar arms om my nek, en haar vingers streel my pasgeskeerde kop. My tong reik uit na die naeltjiering in ek begin liggies daaraan lek, met my lippe daaraan trek. Ten spyte van die hitte slaan sy in hoendervleis uit, haar arms klem my kop vas.

Dan begin my vingerpunte in die waai van haar dye op beweeg, raak net liggies aan die streelsagte vel. My tong sluit by my vingers aan. Ek ruik haar natheid en my hart begin bons. Dan vryf my vinger oor die klammigheid van haar broekie en ek voel hoe my voorkop in die sagtheid van haar borste omvou word. My mond soek haar nippels, sy bied hulle aan.

Die situasie word té dringend vir ons albei. Sy vat my hand en lei my na haar bed. Sy knoop die broekie los en dit val grond toe. In haar wit katoenpantie val sy op die bed neer, haar voete op die grond. Ek stroop my broek en onderbroek af en my orgaan spring soos ’n jack-in-a-box kiertsregop. Ek sak tussen haar bene in en begin haar op die nat kol van haar pantie soen en suig. My tong speel tussen die rek van die broekie en die waai van haar been. Dan voel ek haar vingers vroetel en sy trek dit oop, ontbloot die geswolle, honger lippies. My tong beweeg instinktief soontoe.

Ek kan dit nie meer hou nie en dit voel of my penis wil bars. Terwyl ek opstaan om haar pantie uit te trek, vroetel sy in die bedkassie en haal ’n kondoom uit. Sy glip dit behendig oor. Sy lê op haar rug, haar enkels oor my skouers, haar mooi lyf voor my uitgestrek. Sy neem my piel en vryf dit deur haar sopnat poesie. Dan maak sy haar bene wyd oop en ek penetreer haar. Haar lyf wriemel op die bed, haar oë is toe. Sy prewel en kreun van plesier. Wanneer sy kom, byt sy twee van haar vingers vas om te keer dat sy gil. Dan verslap sy. Lê ’n rukkie stil.

Ek is nog stokstyf en lank nie klaar nie. Ek trek uit. Sy sit regop en ruk die kondoom vinnig af. Dan begin sy my gulsig lek en suig, haar hand op en af teen die skag. “Kom op my,” vra sy. Dit is te veel vir my, en my tone begin krul. My semen skiet met ’n boog tussen haar borste in, drup af teen haar maag.

Nadat ons gestort het, maak sy vir ons koffie. Dié koffie wat ek vanoggend verbeur het.

Dit wil lyk asof my besluit om by Villa Barbarano in te trek, tog die regte een was.