Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Doktor Elsa

Oor rook, stook ... en drake


Elsa Herbst - 2007-02-20


My vorige rubrieke het ek al rokend, of liewer, stokend, geskryf. Hierdie rubriek skryf ek sonder om dit eens te oorweeg om 'n sigaret op te steek. En wel om hierdie rede, vriende: ek het ophou rook! Ek is nikotienvry en skoon van dié vreeslike euwel.
 
Soms word ek wel oorval deur 'n skielike lus, maar dit verdwyn gou en dan voel ek weer vry en bly dat ek die nikotien-draak ore aangesit het.
 
En dis nou waaroor hierdie geselsie gaan: Of jy nou 'n ligte roker of 'n kettingroker is – hoe sit mens hierdie draak op sy plek?
 
Die groot geheim is natuurlik om nooit te begin rook nie. Dit is 'n groot geheim, want niemand waarsku jou ooit genoeg dat nikotien moerse verslawend is nie. En dat dit eintlik 'n ernstige dwelm is.
 
Dit vat net een sigaret om mens verslaaf te maak. Ja, vriende, reg gehoor! EEN sigaret! En in sommige gevalle, selfs minder as 'n sigaret. Julle wat rook, weet mos baie van ons het só begin:
 
“Vat 'n trekkie.”
 
“Nee dankie, ek wil nie.”
 
“Ag, VAT 'n trekkie, moet nou nie so 'n ou kak wees nie! Dis cool, man, vat tog net 'n fokken trekkie.”
 
“Ok dan, laat ek try ... Sies, maar dit proe sleg!” (Hoes-hoes, proes-proes, spoeg, stik ... kots.)
 
Maar wragtig, voor jy weet, rook jy 'n hele sigaret en kort daarna 'n hele pakkie en kort voor lank rook jy soos wat ek vir 'n halwe leeftyd lank gerook het – swaar en baie.
 
En ons bly glo dis lekker. Sou mense ons vertel hoe sleg dit is, dan dink ons hulle is dwepers en ons vee ons gatte aan hulle af. En stil-stil wonder ons of daar lewe is na rook.
 
Net om julle te beïndruk: nie net het ek opgehou nie; die meeste van my roker-vriende het kort ná my ook die draak gesteek ... ek bedoel ... ore aangesit. En dit is nie so moeilik soos wat elke roker hom- of haarself wysmaak nie. Glad nie! Die eerste week skreeu die nikotien-draak sonder ophou om gevoed te word. Maar elke keer wat jy hom ignoreer, raak hy swakker en swakker tot hy sy laaste rookasem uitblaas.
 
Alhoewel mens baie vinnig aan nikotien verslaaf kan raak – soos aan baie ander dwelms – kan mens dít ook vinnig uit jou sisteem uit kry. Net so vinnig soos wat jy verslaaf raak, net so vinnig kan jy jouself ontslaaf. (Dis 'n nuwe woord, spesiaal vir die rokers wat besig is met hul proses van ontslawing.)
 
 
Geld. Vryheid. Gesondheid.
 
Dit is die drie dinge waaroor alles gaan. Toe ek begin rook het, was dit goedkoop. Geen belasting is op sigarette gehef nie, dus het die prys van 'n pakkie nie 'n rol gespeel nie. Nou speel die prys 'n beduidende rol, want sigarette is feitlik onbetaalbaar duur. As jy vir 40 jaar lank 20 sigarette per dag rook, dan het jy R292 000 letterlik in rook laat opgaan. Per jaar werk dit jou R7 300 uit! Nee, vriende, dit is mos nou 'n vermorsing van goeie geld. Dit is amper jou klasgeld vir 'n jaar op universiteit of kollege, of 'n vliegkaartjie Europa toe! Dink maar self aan die ander nuttige dinge waarop jy daardie geld sou kon spandeer.
 
Die ander saak is vryheid. Mens word deesdae soos 'n krimineel behandel as jy rook, en later vóél jy ook soos 'n krimineel. Jy mag byna nêrens meer rook nie; jy moet buite in die reën in 'n koue, togtige hoekie gaan staan en puff – sulke vinnige trekkies! Ook nie bepaald aangenaam nie, of hoe?
 
Die grootste bevryding wat jy na 'n paar dae van nierook ervaar, is dat die nikotien-draak nie meer jou baas is wat jou daaglikse bestaan beheer nie. Dié monster dwing jou nie meer elke halfuur om die nikotien-onttrekking te voed nie. Jy is weer in beheer van jou eie liggaam en tyd, jy is baas van jou eie plaas en die draak word helaas ... klaas!
 
Oor gesondheid gaan ek nie veel sê nie; ons almal weet hoeveel skade sigarette jou liggaam besorg. Ek kan net meld dat my kroniese gehoes binne drie dae verdwyn het. 'n Mens se reuksin en smaaksin keer weer terug. Ook jou ander sintuie voel ineens skerper. Alles ruik baie beter – en óók slegter. Mense se huise stink vir my weer na kat-pie, nat honde en vrot rotte. (Something is rotten in the state of Denmark, kan ons maar sê.) Op dié manier besef ek daar was darem ook voordele verbonde aan my jarelange gestook, al was dit net dat ek die rotte nie kon ruik nie.
 
Gelukkig ruik 'n roos nou weer soos 'n roos!
 
Ten slotte, vriende: ek moet die verslawing nog 'n keer verduidelik, want dit is 'n vieslike draak wat met jou mors. Dis hoe dit werk: jy raak eers fisies verslaaf – dis daardie klein drakie wat elke halfuur gevoed moet word. Maar dan kom die groot draak – die psigologiese verslawing. Dis nou die draak wat met jou kop smokkel, wat jou wysmaak dat jy niks kan geniet sonder 'n sigaret nie.
 
Die groot draak is ANGS; daardie angsgevoel dat jy nie sonder sigarette sal kan funksioneer nie; daardie vrees dat jy 'n senuweewrak gaan word; daardie gevoel van beklemming dat jy die eenvoudigste taak – plesierig of onplesierig – nie sonder 'n sigaret in die bek kan geniet of verrig nie.
 
Die waarheid is presies die teenoorgestelde: daar IS lewe na rook. Jy kan jouself bevry van hierdie vreeslike verslawing en die lewe ten volle geniet. Glo my, jy word van niks ontneem nie; jy wen eerder al die pad!
 
Dit is soos alle ander verslawings: jy moet wíl ophou en dán oorgaan tot die daad. Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Druk daardie laaste sigaret dood! Of nóg beter: moenie die eerste een aansteek nie.