Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Om eerlik te wees ...

Om eerlik te wees ... Genade, Antjie!


Jasper van Zyl - 2007-02-20


Toe ek begin skryf het, het ek begin lees. Ek het enigiets gelees: tydskrifte, rubrieke, internetbladsye, gedigte, koerante, die agterkante van sjampoebottels, lirieke, boeke, inligtingsbrosjures. Noem dit, ek het dit gelees. Antjie Krog het gesê as jy lees, leef jy met 'n groter bewussyn.
 
Die meeste tieners van vandag sien op teen enige Afrikaans-les waarin poësie bespreek word. Ek moet erken: ek ook. En dit gaan nie oor "die manier waarop poësie behandel word op skolevlak”, soos ek eenkeer van 'n groot digter verneem het nie. Dit gaan nie oor die onderwyser nie. Dit gaan nie daaroor dat poësie “gay” is, soos van my vriende aanvoer nie. Een van my vriende het eenkeer met my gespot: “Jasper, jy is nie 'n man nie. Jy skryf gedigte en poems (sic!). Regte mans hou van rugby, bier en seks!”
 
Eintlik gaan dit mos bloot oor die gedig, of hoe? (Ek het 'n paar bundels op my rak wat ek so nou en dan uitkrap en dan daarin rondblaai: Gert Vlok Nel se Om te lewe is onnatuurlik, Wilma Stockenström se Monsterverse.) Maar nie eintlik nie. Ek het nie tyd om gedigte te ontleed nie. Ek het nie tyd of krag vir metrums, strukture of sekondêre betekenisse nie. Ek lees bitter min poësie.
 
Een van die dinge wat ek geleer het deur so baie te lees, is dat clichés 'n goeie skryfstuk onherroeplik opdonder. Gebroke harte, engelekore, skemers, verlore seuns en daardie soort stront pas nét nie meer in letterkunde nie. Die probleem is: alles wat oor die wêreld gesê kan word, is in 'n sekere sin reeds gesê. Nie noodwendig in die poësie nie, maar beslis in koerante, boeke en die media. Reeds gesê en lam gelê!
 
Dit waaroor nog nie geskryf is nie, bestaan nog nie. As mens oor iets wil skryf wat nog nie gesê is nie, moet jy bitter persoonlik skryf. En dit skep weer eiesoortige uitdagings. Hoe beskryf 'n mens die liefde sonder om oor “hart” of “siel” te skryf? Hoe skryf 'n mens oor hartseer sonder om oor “hart” of “siel” te skryf? Hoe skryf mens enigiets persoonlik sonder om oor “hart” of “siel” te skryf?
 
Maar hoe dan gemaak? Het die letterkunde uiteindelik in 'n cul-de-sac vasgeloop? Gaan dít wat ons in die toekoms lees, maar net 'n regurgitation wees van wat ons voorheen onder oë gehad het? Om die ooglopende te verwoord is belangrik – dis ál hoe mens aanbeweeg. Maar dis nou verby. Dis tyd vir die nuwe.
 
Iemand vra my nou die dag wat ek dink die pad vorentoe vir letterkunde, spesifiek poësie, is. Die geheim is om te skryf oor niks.
 
Maak dit nie sin nie? Om 'n gedig te lees en te probeer ontleed en telkens voor niks te staan te kom nie? Is dit nie ongelooflik cool nie? Sal dit nie great wees om 'n gedig te behandel in Afrikaans waaroor die onderwyser sê: “Hierdie gedig het geen besliste betekenis nie. Maak dit jou eie.”? Dis die uitgangspunt in my gedigte. Ek skryf nie mooi nie. Ek skryf nie samehangend nie. Ek skryf net. En ek glo nie 'n uitgewer sal dit verstaan of publiseer nie. Ek hoop nie so nie.
 
Want dis die hele punt, man!
 
Alfred Schaffer, 'n uiters talentvolle jong Nederlandse digter, het eenkeer gesê dat die dinge wat hóm as digter inspireer, “agterdog” en “onrus” is. Cool. Ek dink dis waarna ons moet strewe. Gedigte wat insinueer eerder as om te preek, wat liewer prikkel as praat. Toast Coetzer het 'n gedig in Nuwe Stemme 2 gepubliseer waarin hy skryf: “destyds het ouens soos van wyk louw en opperman/ pragtige gedigte oor die natuur geskryf/ ons het nie meer tyd vir sulke kak nie.” Touché.
 
Terloops, daai vriend van my wat vir my gesê het dat ek nie 'n man is nie omdat ek gedigte skryf, kom nou die dag na my toe en stop my 'n papier in die hand. 'n Gedig. Ek het net lag gekry. Hy’t my die dood voor oë gesweer as ek iemand vertel. So, ek skat ek is dood. Die greatste ding was: sy gedig was eintlik heel goed.
 
Skryf, bliksems, skryf! Skryf net wát jy wil. Skryf net hóé jy wil. Skryf nóg. En wat jy ook al doen (as daar al ooit vir jou slegte raad was): lees net as jy regtig moet. Antjie Krog se moer.
 
Tot volgende keer.
 
Jasper