Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Identiteit deur Saarkie ... "my darling be original"


Leon-Ben Lamprecht - 2011-06-21

Identiteit
Saarkie

 

Dis nie dat Saarkie se album Identiteit noodwendig sleg is nie; dis eerder dat dit vir my voel of dit nie genuine is nie.

Sien, Saarkie probeer baie hard om as hedonistiese rockers oor te kom (my eerste indrukke is dat hulle mik vir ’n Evanescense- of dalk ’n Nightwish-klank, maar dis dalk eerder oor hulle almal vroulike voorsangers deel).

Op die agterkant van Identiteit se cover staan die vyftal – wulps geklee (een het selfs suspenders aan) met kitaar, baskitaar, viool in die hand. Daar is liedjies met name soos “Lewe soos ’n rockstar” , “Lucky Strike”, “Devil in disguise” en “Jerk” op.

Hulle span selfs vir Jan Blohm in om saam te sing op “Nader aan my”.

En met die eerste luister klink dit ook rockerig: “My hart”, die openingsnit, skop af met ’n elektriese-kitaar-rif, en ’n punk-geïnspireerde koortjie. Dieselfde met “Superman in my oë” of die titelsnit of “Indoktrinasie”.

Die ding is, by nadere luister kom dit té afgewerk voor en dit wil vir my voel of die musikante in Saarkie nie gemaklik voel met hulle klank nie.

Dalk is dit blote projeksie, maar wanneer hulle byvoorbeeld in “Identiteit” sing “wie wil dieselfde lyk/ los jou label klere/ create your own trend/ my darling be original”; of in “Indoktrinasie” sing “revolusie resolusie/ kyk of jy jou weg kan vind/ ontsnap die ysterhand/ en kom aan die anderkant” kom dit eenvoudig ... hol voor. Asof hulle dit nie regtig bedoel nie.

Ek dink die punt wat ek probeer maak is dit: wanneer pop-sensibilities seëvier soos in “Lucky Strike” of “Wag vir my” of “Wie sal my bystaan” (al is die lirieke in laasgenoemde soms cringeworthy - voorbeeld: “die tyd het sy tol geëis/ wat moet ek dan nog bewys/ wat’s die prys”) is hulle baie luisterbaar.

Die melodieë is catchy – nie irriterend nie, maar lekker op die oor.

Op “Lucky Strike” en “Wag vir my” kry hulle dit selfs reg dat pop en rock en punk saam bymekaar braai en lekker gesels (eerder as wat dit ’n awkward kuier is waar een dronk raak en uitpass en die ander vroeg huis toe gaan).

En dis dan wanneer hulle eintlik op hulle beste is. Dis nie grensverskuiwend nie, en hulle gaan nou nie soos Hunter Kennedy vir hulle lirieke as “die volgende Breytenbach” beskryf word nie.

Maar daar is plek vir almal in hierdie wêreld: vir die rockers, vir die poppies, vir die jocks, vir dié wat hou van Oos-Oesbekistanse kookkuns, vir die digters en skrywers en skaters en dié wat nie in enige bepaalde kategorie val nie.

Wat ek eintlik vir Saarkie wil sê is om hulle eie raad, soos hier bo in “Identiteit” genoem, te volg: “my darling be original”.

Maar aangesien daar natuurlik nie regtig iets nuuts in die wêreld nie, is my raad dit (steeds uit “Identiteit”): “As jy aanhou om jou kyk/ hoe sal jy soos jouself kan lyk/ sal jy wees wie jy rêrig wil wees?”.

Wel? Sal julle?

 

  • Staan ’n kans om Saarkie se nuwe album Identiteit te wen. Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met jou naam en die woord "Saarkie" en jy mag dalk die gelukkige wenner wees.