Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Johan Combrink-gedenklesing: 'n Perspektief op Afrikaans


Prof Russel Botman - 2007-02-20

Toe ek onlangs saam met my gesin die Apartheidsmuseum in Johannesburg besoek het, het dit my opgeval dié museum se hardste kreet is die onreg wat in die naam van Afrikaans gepleeg is: die wetgewing, die skellende plakkate teen Afrikaans, die kinders in die strate van Soweto, die skote, die bloed, die foto van Hector Pietersen, en die Afrikaans van 1976.

In 1976 was ek ’n studenteraadslid aan die Universiteit van Wes-Kaapland. My taak was dié van skakelbeampte, en ek het met die Afrikaanssprekende gemeenskap van Bellville-Suid en die Kaapse Vlakte geskakel. Ná Pietersen se dood het alles verander. Die morele basis van ons moedertaal was verlore.

Die stryd wat hieruit gevolg het, het twee kante gehad. Enersyds was dit ’n morele stryd, ’n stryd om geregtigheid. Andersyds was daar ’n stryd om die taal, wat daarop uitgeloop het dat ons die taal geprivatiseer het: ons het dit tuis, in die kerk en op die speelterrein gepraat, maar in openbare forums is Engels gebruik. Die studente van UWK het hieroor ‘n doelbewuste en pynlike besluit geneem.

Daar in die Apartheidsmuseum besef ek toe: daar is ’n geslag van ons wat dié dinge uit aparte hoeke beleef het. Maar ons kinders is nou op hoërskool en universiteit; daar is ’n geslag wat dieselfde storie gehoor het, en nie noodwendig een wat gunstig is vir Afrikaans nie. Iemand skuld die inklusiewe jeug die inklusiewe waarheid.

Deel van dié waarheid is dat daar Afrikaanssprekendes in die stryd teen apartheid was: mense soos Allan Boesak, Jakes Gerwel en Daan Cloete. En ook mense soos Beyers Naudé, Nico Smith, Jaap Durand, David Botha en Dirkie Smit. ’n Ander deel van die waarheid is ook dat een van die kerke wat apartheid teologies veroordeel het, Afrikaans was: die NG Sendingkerk (tans deel van die Verenigende Gereformeerde Kerk), die grootste swart kerk in die Wes-Kaap.

Die taalspanning van die verlede het intussen gevolge opgelewer in die vorm van verskillende soorte Afrikaanssprekendheid.

Een daarvan is die fiktiewe bestaan van so iets soos ’n enkeltalige Afrikaanssprekendheid. Dit kom miskien nie baie algemeen voor nie, maar dit bestaan wel, al word dié werklikheid dikwels misken. Sulke mense sal normaalweg uit ideologiese beginsel weier om enige ander taal as Afrikaans te praat.

Dan is daar ook ’n etnosentriese Afrikaanssprekendheid waarin Afrikaans en Afrikanerskap as wisselterme gebruik word. Hierdie model kom al meer voor in die openbare debatte. Soms gebeur dit doelbewus en soms onbewustelik.

Wat ons nodig het, is ’n “glokale” Afrikaanssprekendheid. Hierbinne word gemaklik tussen Engels en Afrikaans, die globale en die lokale, beweeg. Hoe meer globalisering gestalte kry, hoe meer ontstaan daar ’n behoefte aan ’n geworteldheid in die lokale; dié twee dinge gaan saam.

Glokale Afrikaanssprekendes lewe gemaklik in ’n geïntegreerde taalwêreld, lees oorsese én Afrikaanse boeke, en so meer.

Verder moet ons in gedagte hou dat Afrikaanssprekendheid verskeie variante het: daar is taaldiversiteit binne een taal, taalvariasie. Afrikaans moet ’n tuiste wees vir almal van Durbanville tot Manenberg en verder.

In verband met taalverskeidenheid binne Afrikaans moet ons ook herbesin oor eerstetaal- en tweedetaalsprekers in Afrikaans. Dié onderskeid is nie so vanselfsprekend nie. Dit vorm egter ‘n belangrike onderbou vir ‘n inklusiewe Afrikaanssprekendheid.

Afrikaanssprekendes moet hulself toon as gekant teen alle vreemdelingehaat. Afrikaanssprekendheid moet insluitend wees van ’n ander Afrika-taal; dit moet gaan om meertaligheid. En Afrikaanssprekendheid moet so nierassigheid ondersteun; dit staan nie daartéénoor nie.

Wat die Universiteit Stellenbosch (US) betref, sy perspektief is gevestig in die universiteit se strategiese raamwerk. Dit neem sy uitgangspunt in die erkenning van die US se deelname aan die onreg van die verlede, en ’n verbintenis tot regstelling in die toekoms. Dié strategiese raamwerk skep ruimte vir die herstel van die morele basis van Afrikaans. Die US gaan dit nou operasionaliseer, dit wil sê praktyke daarvan skep.

Verder kom die US se perspektief na vore uit punt 5 van sy Visie 2012: die bevordering van Afrikaans in ’n meertalige konteks. Afrikaans bestaan in verhouding tot ander tale. Deel van die profiel van ’n afgestudeerde in die universiteit se leer- en onderrigbeleid is dat hy of sy meertalig sal wees. Nou verbonde hiermee is ’n verbintenis tot toegang met sukses: mense moenie net toegang kry nie, maar ook ondersteun word om sukses te behaal.

Die bestaande taalbeleid word tans vir hersiening oorweeg, in ooreenstemming met dié einste taalbeleid se vereistes. Dit behels ’n institusionele proses: op 17 Februarie is daar ’n Raadsgesprek, waarna ’n raamwerk op 23 Februarie aan die Senaat voorgelê word. Met instemming van die Senaat dien dit op 12 Maart voor die Raad. Op basis van dié raamwerk word dan aan die taalbeleid gewerk.

Die institusionele hersiening betrek die US Raad, vereis die instemming van die Senaat en benodig die deelname van al die statutêre liggame. Die geheim om dit reg te kry is om te streef na ’n verantwoordbare middelgrond. Dít is ons gesamentlike uitdaging.

Instellings dra ’n groot verantwoordelikheid. Nie alles wat na taal klink, gaan oor taal nie. Mense lééf ook in instellings: godsdienstig, akademies, kultureel, en so meer. Juis daarom is sulke instellings sfere van eenheid. Daar moet dus aandag gegee word aan gevoelens van vervreemding.

Die hoofsoeke is na ‘n grondwetlike, nierassige en nieseksistiese eenheidsgemeenskap, en in die totstandbrenging hiervan is instellings van wesenlike belang. Ná apartheid beteken dit dat instellings ook geregtigheid moet lewer.

Die eerste uitdaging is dié van politieke geregtigheid. Dit beteken onder meer dat die meerderheid omsien na die minderheid.

Die tweede uitdaging is dié van ekonomiese geregtigheid, wat weer beteken dat die welvarendes na die armes, sonder aansien van die persoon, sal omsien. Dit beteken dat die universiteit ook uit sy pad moet gaan om arm Afrikaanssprekendes te help om toegang te kry, en om hulle so te ondersteun dat hulle hul studie suksesvol kan voltooi. Dit behels kwessies soos beurse, hulp met vervoer en akademiese ondersteuning, maar ook betrokkenheid by skole. Die US móét eenvoudig sy diversiteitsteikens haal en sy vlakke van uitnemendheid verder lig.

  •  
    • Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van die Johan Combrink-gedenklesing wat prof Russel Botman, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Stellenbosch, verlede week op Stellenbosch gegee het.