Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Lincoln Lawyer: ’n Prokureur met sy hemp aan


Jacques Liebenberg - 2011-06-15

The Lincoln Lawyer
Regisseur:
Brad Furman
Kamerawerk: Lukas Ettlin
Rolverdeling: Matthew McConaughey; Marisa Tomei; Ryan Phillippe; Frances  Fisher
Looptyd: 118 minute

 

Hoe weet mens wanneer Matthew McConaughey in ’n “ernstige” fliek speel?

Hy trek nie binne 30 minute sy hemp uit nie.

(Nou moet mens hard dink om te onthou wanneer laas hy nié van sy hemp ontslae geraak het nie. Dit maak tog geldelik sin om jou ster se grootste bate ten toon te stel, dan nie?)

Mens sou waarskynlik ook kon vra of dié vleispaleis met sy voorliefde vir branderry en om kaalgat op sy bongo’s te trommel heeltemal gelukkig met sy loopbaan is. Hoe anders wanneer ’n akteur ná jare terugkeer na die soort rol en fliek wat aanvanklik van hom ’n ster gemaak het?

In The Lincoln Lawyer, ’n storie uitsonderlik suiwer omdat die hoofkarakter uit sy motor (in John Connelly se boek het hy sommer ’n paar) in plaas van ’n kantoor werk, is die prokureur Mick Haller, bekend om sy verdediging van die skuim van die gemeenskap, se skadu-pad so besaai van die onwaarskynlikhede dat dit grens aan fantasie. En tussendeur is sake so voorspelbaar dit raak soms eintlik lagwekkend.

My gunsteling is ’n stukkie kruisondervraging-“intrige” so reg uit Hofclichés 101. Die skoongesig-seun en hoofverdagte se knipmes is ’n sleutelbewysstuk in die aanranding van ’n prostituut en sy ma verduidelik hoekom hy die mes dra. Mens sien dit myle ver kom, maar die arme Josh Lucas, wat die staatsaanklaer speel, moet maak of dit hom platslaan. En dis nie ’n mooi gesig nie.

En, gelukkig vir ons held Haller, werk sake so mooi uit dat omtrent almal wat hy die laaste ruk verteenwoordig het of tronkstraf uitdien of iets dergeliks aangevang het, hom in sy uur van nood kan bystaan. Gooi daarby die skynbaar onvermydelike aanslag of twee op die held se geliefdes en diere en jy sit met The Lincoln Lawyer, ’n Vrydagaand-fliek waarvan ’n mens teen Maandagmiddag vergeet het.

Dis so vergeetbaar ’n mens kan nie eens onthou of die hoofkarakter vanweë sy geweldige trauma tot inkeer gekom of ’n kentering ondergaan het of bloot nou meer tyd saam met sy dogtertjie gaan deurbring omdat hy opnuut onder die indruk van die lewe se verganklikheid gebring is nie.

Gelukkig is Marisa Tomei oulik.