Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Beautiful Boy: ’n Metodiese afmerking van die rouprosesstappe


André Crous - 2011-06-15

Regisseur: Shawn Ku
Kamerawerk: Michael Fimognari
Rolverdeling: Michael Sheen, Maria Bello
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 3 Junie 2011

Beautiful Boy is die eerste van sy soort waarvan ek bewus is. Waar die omstandighede van kinders wat moord in die klaskamer pleeg al ondersoek is – kyk na Gus van Sant se Elephant, of die uitstekende Estlandse film Klass – is die ouers gewoonlik grotendeels uit die ondersoek gelaat. Beautiful Boy se twee hoofkarakters is die ouerpaar van so ’n seun wat sy medestudente doodgeskiet het en die storie handel om hul traumatiese soeke na antwoorde. Vanjaar by Cannes het ’n soortgelyke film, We Have to Talk About Kevin groot nuus gemaak en ek sien daarna uit om dit te sien.

Wat Beautiful Boy aanbetref, kan ek net sê dat die film op talle gebiede ’n teleurstelling is. Hoewel Michael Sheen, wat beter bekend is as Tony Blair in The Queen en as David Frost in Frost/Nixon, baie bekwaam die rol van ’n effens kil (maar glad nie koue nie) Amerikaanse vader speel, het aktrise Maria Bello, wat sy vrou vertolk, niks nuuts om te wys nie. Hoewel minder irriterend, is haar spel naby aan Nicole Kidman s’n in Rabbit Hole, wat vroeër vanjaar hier uitgereik is en hier geresenseer is.

Die paartjie se seun, Sammy, was die gom wat sy ouers nog bymekaar gehou het: heel aan die begin van die film is dit al duidelik dat die ouers apart begin lewe het en daarom, wanneer die emosionele uitbarstings uiteindelik kom, werp dit vir die kyker geen nuwe lig op die verhouding nie. Die keuse om die film te skiet in ’n soort dokumentêre styl, met kleure wat uitgewas is, is onnodig en laat die film eenvoudig goedkoop lyk.

Die film merk metodies die stappe van die rouproses af en bied min om die aandag te hou, veral wanneer dit duidelik raak dat die karakters ons nie kan verras nie. Tonele speel af soos hulle "moet" en ons kan draaipunte ’n myl vooruit sien. Beautiful Boy is nie die aangrypende film wat dit behoort te wees nie en dit is jammer, want die inhoud kan so ryk wees.

Dan sal ek nou maar wag vir We Have to Talk About Kevin. Ongelukkig klink dit, soos met baie ander rolprente, of die film so goed is dat dit waarskynlik nie Suid-Afrika toe sal kom nie.