Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Adjustment Bureau:


André Crous - 2011-06-15

Regisseur: George Nolfi
Kamerawerk: John Toll
Rolverdeling: Matt Damon, Emily Blunt, Anthony Mackie, John Slattery, Terence Stamp
Looptyd: 105 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 10 Junie 2011

Hierdie is my soort fliek, en een wat hoogstens een keer ’n jaar verskyn. Dit is stylvol, slim, meesleurend, en heelpad wonder ons wat volgende gaan gebeur – die film maak ons honger vir nog ’n stukkie inligting sonder om ons te frustreer met die weerhouding daarvan.

David Norris (’n puik vertolking deur Matt Damon) is ’n jong politikus wat op die vooraand van sy verkiesing as die jongste senator in die Amerikaanse Kongres uitvind dat die koerante, of waarskynlik eerder sy teenstanders, hul hande gekry het op onsmaaklike foto's uit sy studentedae. Ná die uiters opwindende openingsekwens, waarin hy verskyn op talle TV-kanale, met bekende persoonlikhede van Madeleine Albright en Michael Bloomberg tot Jon Stewart en Wolf Blitzer, gaan hy in die kleedkamers in om alleen te wees en aan sy toegewingstoespraak te werk.

Hier ontmoet hy ’n meisie, Elise, wat oënskynlik die meisie is waarop hy sy hele lewe gewag het. Hulle het ’n oomblik voordat sy weggeraap word deur veiligheidswagte, maar hierdie enkele ontmoeting verander hom in so ’n mate dat hy een van die eerlikste toesprake in die geskiedenis van die politiek maak. Hy maak ’n indruk op sy luisteraars en drie jaar later, wanneer hy weer staan vir senator, is hy nog vars in die geheue van die kiesers. En tog kan hy nie ophou dink aan Elise nie.

Maar terselfdertyd is daar ’n groep mans in donker pakke en donker hoede wat wil verseker dat dié twee mekaar nooit weer sien nie. Hierdie is lede van die "Adjustment Bureau", ’n organisasie wat glo die wêreld se beste belange op die hart dra. ’n Klein bietjie inmenging van hulle kant af bewerk ’n beter stand van sake, en dit is nodig, word ons vertel, omdat die toeval soms hul planne in die wiele ry.


The Adjustment Bureau
speel veilig met hierdie konsep van vrye wil, veiliger as ander stories waar die blote teenwoordigheid van ’n supermag wat alles vooraf weet en die vloei van die wêreld bepaal vir geen drama kan sorg nie, want daar kan geen verrassings wees nie. Die span van die "Adjustment Bureau" doen hul bes, maar kan nie altyd oral inmeng nie, want hulle is nie God nie. Maar die vraag rondom die presiese rol van die sogenaamde voorsitter bly onbeantwoord. Die voorsitter is bewus van die redes waarom alles gebeur en tog het hy alleen die groot plan. Dit lyk egter wel of die plan soms kan verander!

Die film het ook ander probleme. Hoewel Elise en David duidelik bymekaar hoort, want die film gee vir ons sulke tekens, is die aangetrokkenheid baie verwronge en voel dit eerder of die film hulle na mekaar toe dryf: daar is ’n gebrek aan betekenisvolle gesprekke en ’n mens sou die verhouding meer kon toeskryf aan wellus as enigiets anders.

Maar David is vasberade om by Elise te wees, ten spyte daarvan dat hy met die "herstel"-knoppie gedreig word. "I don't care what you put in my way; I'm not giving up!" Hy glo dat liefde alles sal oorwin en dit is net mooi hier waar die film sy gehoor onderskat. David se keuse tussen liefde en ’n lewe saam met Elise sal beteken dat hy sal uitmis op baie groot geleenthede in sy lewe. Trouens, hierdie geleenthede sou enorm wees. Wil julle raai wat hy kies? Hy is bereid en gereed om alles op te gee für Elise. Dit is ’n keuse wat ons sukkel om te verstaan, want sy interaksie met Elise is gebaseer op ’n paar verbode ontmoetings.


Kom ons los dit daar, want die film is eintlik baie vermaaklik. George Nolfi, wat ook die uiters intelligente Ocean's Twelve geregisseer het, is hier die eerste keer in die regisseurstoel en kwyt hom baie goed van sy taak. Daar is geen dooie oomblikke nie en die helder fotografie, ten minste van die eerste helfte van die film, dra by tot ’n gevoel dat die film in die regte wêreld afspeel, eerder as in ’n spesiaal geskape, onwerklike wetenskapfiksie-heelal. Hierdie gevoel van werklikheid is wat die film uiteindelik sy krag gee.

Die film is "hoë konsep"-vertelkuns van die hoogste graad, met ander woorde die hoofidee kan in ’n enkele sin opgesom word, en hierdie konsep voel heel vars en opwindend. Die lede van die "Adjustment Bureau", waaronder Terence Stamp en veral die jong Anthony Mackie, is uitstekend en bring onderskeidelik magtige vasberadenheid en bewonderenswaardige twyfel, selfs kwetsbaarheid, tot hul karakters.

As jy van wetenskapfiksie soos Dark City of Inception gehou het, of as jy iets meer werkliks verkies, dalk ’n politieke riller of ’n film oor sameswering, soos The Manchurian Candidate, sal jy gek wees oor The Adjustment Bureau. Dit bevat nou wel nie die beste paartjie op die silwerdoek nie, maar die magte wat hul saambind, is indrukwekkend.