Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Snars poëtika

Verse vir vyf sintuie


Bibi Slippers - 2011-06-15

Die week in woorde


’n Toneel uit Janni Younge en die Handspring Puppet Company se produksie Ouroboros


Terwyl ek nou verlede week so aangegaan het oor my ontmoeting met die werklikheid, hou ons dit dan nou maar by die hoorbare, sigbare, ruikbare, proebare realiteit, wat jy aan jou bas kan voel – al praat ons dan oor digkuns.

Ek was gelukkig om onlangs Janni Younge en die Handspring Puppet Company se produksie Ouroboros te beleef. En ek bedoel regtig gelukkig. En regtig beleef. Die produksie is geïnspireer deur ’n gedig van die Amerikaanse digter Billy Collins. Die storie spruit voort uit die woorde van die gedig “Aristotle” en kry lewe op die verhoog deur beweging, musiek, animasie – en natuurlik die nimlike poppe. Dit het my oë en ore en ruggraat laat tingel. En een beeld uit die gedig het my bygebly, uit die laaste paar reëls van die tweede strofe:

So much is crowded into the middle –
the guitars of Spain, piles of ripe avocados,
Russian uniforms, noisy parties,
lakeside kisses, arguments heard through a wall –
too much to name, too much to think about.

Dis daardie hopies ryp avokado’s. ’n Beeld vir al vyf sintuie. Veral nou, in ons winter, terwyl jy hope ryp avokado’s in jou naaste supermark of agtertuin kan aantref. En in jou hande hou. En oopsny en ruik. En eet.

Luister, dis nie waar dit stop nie. Daar is dié week op LitNet ook ’n onderhoud met Chris Chameleon oor sy toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte. Hy praat oor sy liefdesverhouding met haar werk – liefde met die tweede oogopslag noem hy dit. ’n Kyk en weer kyk.

Sien, op die tema van die gekyk-en-weer-kykery: Willem Boshoff is die week die fokus van die Sanlam Kunserfenis-artikel. Sy Kykafrikaans is alombekend, maar het jy dit al gehoor? Ja, reg, gehóór – klik hier om na voordragte van hierdie gedigte te luister.

Charl-Pierre Naudé se Metafoorpos is prentjiegedigte wat begin beteken eers as die woorde en beelde saampraat. Hy het vandeesweek twee van hierdie skeppings met ons gedeel, en Maaike Bakker het ’n visuele interpretasie van Gary Cummiskey se “Bonfire” ingestuur.

As jy nóg nie genoeg gehad het nie: ’n laaste gedig oor ’n geëtery waarin jy jou tande kan inslaan. Klik hier en kielie jou smaakklier, en jou honger vir goeie gedigte.

 

Op die web




Nuwe skryfwerk op LitNet




Raad en skryfskole