Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Die DA moet transformeer


Jason Lloyd - 2011-06-15

Untitled Document

Hoe die DA sy gekonsolideerde wit, bruin en Indiër-steun en ietwat verhoogde swart steun in die onlangse munisipale verkiesings gaan omskep in ’n party met inklusiewe strukture en nasionale beleid, gaan geen maklike taak wees nie.

In beginsel stem ek saam met Jakes Gerwel toe hy in ’n onlangse Rapport-rubriek geskryf het dat die wyse waarop Helen Zille rassegrense oorskry het, “alle non-racialists dankbaar (behoort) te laat”.

Die groot uitdaging lê egter daarin hoe die DA homself van tak tot op federale vlak gaan omskep in ’n party waarin alle Suid-Afrikaners gebalanseerd in sy strukture verteenwoordig word. En hoe die party sy beleid sal aanpas dat dit vir die oorgrote swart meerderheid aanvaarbaar sal wees.

Tans is die DA – soos Richard Calland in sy boek Anatomy of South Africa: Who holds the power? – oor die party geskryf het: “All men. And all white”.

Menige Suid-Afrikaners, met die party se “veelrassige” verkiesingsplakkaat nog vars in die geheue, sal natuurlik van my probeer verskil.

Die ironie is egter dat beide Patricia de Lille en Lindiwe Mazibuko, die vroue saam met Zille op die plakkaat, nie verkose DA-leiers is nie. De Lille het haar eie party, die Onafhanklike Demokrate, deur die DA laat opneem en is hiervoor beloon met eers ’n posisie in Zille se kabinet en daarna die pos as Kaapse burgemeester. Om plek te maak vir De Lille in Zille se kabinet is die bruin LUR van polisie, Lennit Max, uit die kabinet geskop. ’n Gekleurde is dus met ’n gekleurde vervang, terwyl die partystrukture leliewit bly.

Net so is die swart Joe Seremane deur die bruin Wilmot James in die oninvloedryke posisie van nasionale voorsitter vervang. Ironies genoeg spog James in die pas gepubliseerde boek Grape – Stories of the Vineyards in South Africa (from Slavery to BEE, 1652-2011) – geskryf deur homself, Gerwel en ’n ander skrywer – oor sy posisie binne die DA.

Volgens die DA se federale grondwet is die nasionale voorsitter net die voorsitter van die federale kongres wat een keer elke tweede jaar vergader. Dit is dus ’n seremoniële posisie sonder mag. Om James as die DA se tweede in bevel te beskou is dus misleidend – die wit James Selfe, voorsitter van die federale raad, is die éintlike onderkaptein. Selfe het baie meer magte en is verantwoordelik vir die organisering en administrasie van die DA, om besluite van die federale raad en federale uitvoerende komitee te implementeer. Hy is ook voorsitter van die federale uitvoerende komitee, ’n struktuur soortgelyk aan die nasionale werkkomitee (NWK) van die ANC, wat die party se daaglikse bestuur behartig.

Gerugte dat Zille Mazibuko bo die huidige parlementêre leier, Athol Trollip, verkies – wanneer die DA in Oktober ’n nuwe parlementêre leier kies – weerspieël die dubbelsinnigheid van die DA. As Mazibuko verkies word, gaan sy deur wit mans in die DA-koukus omring en oorheers word. Zille weet dat Mazibuko (31), wat in 2009 tot LP verkies is, te jonk en onervare is vir dié pos. Tydens die begrotingsdebat oor landelike ontwikkeling en grondhervorming Dinsdag in die parlement het ’n ANC-LP tereg na Mazibuko verwys as “my daughter”.

In haar onlangse onderhoud met Hanlie Retief in Rapport het Mazibuko niks substansieel oor die DA se wit leierskap en beleid gesê nie. Ek neem dus aan sy vind niks fout met die huidige DA nie. Boonop is sy tans ’n DA-agterbanker in die parlement wat diens doen as die party se “nasionale woordvoerder” – ’n pos wat ek nêrens in die party se federale grondwet kan vind nie. Is sy net ’n token-aanstelling om swart stemme te werf?

Die DA sal natuurlik argumenteer dat hulle ’n beleid voorstaan van ope geleenthede waar die beste persoon aangestel word – ’n beleid wat gelyke geleenthede vir almal impliseer. So ’n beleid is egter gebaseer op die gevestigde patrone van die verlede en nie op die nuwe realiteite van postapartheid-Suid-Afrika nie. Hulle is dus gekant teen die regstel van die onregte van die verlede. Hul plaaslikeregeringsbeleid, veral in Kaapstad, waar hul veral investeer in gebiede met ’n goed-ontwikkelde infrastruktuur, verbreed die gaping tussen ryk en arm gebiede. Arm swart en bruin gebiede word deur dié beleid verwaarloos.

Ook is die DA-leierskap gerieflik stil oor ’n voorval toe twee bruin DA-raadslede in die Nelson Mandela-metro gesê het swart skoolkinders moet bruin gebiede verlaat en na hul gebiede teruggaan. Dié voorval word tans deur die Menseregte-kommissie ondersoek.

Dit is nou ’n gulde geleentheid vir die DA om sy wit leierskap en wit beleid te verander. Dit sal kiesers in staat stel “om werklik met die DA te vereenselwig”, soos die party se hoofstrateeg, Ryan Coetzee, dit in 2007 in ’n interne partydokument gestel het.