Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Valiant Swart en Anton L'Amour


Reney Warrington - 2011-06-14

Untitled Document

Van kleins af het ek opinies gehad, asook ’n ongehoorde begeerte om hulle te deel. Daarby was die opinies meestal oningeligte, op die plek uitgedinkte wenners. Die pak slae, ekstra huiswerk, uitdrukkings van skok en die taaie wat Dowwe Dolla my mag gee as sy my KKNK-resensie van haar show lees, het my ook nie afgesit oor die jare nie.

So, al het ek Song vir Katryn gemis (ek hoor daar was twee seisoene?), so ook elke album en collaboration wat volkshelde Valiant Swart and Anton L’Amour al ooit aangepak het, daag ek Vrydagaand steeds heel braaf op by The Room @ Il Giardino* om my opinie te lewer oor, wag daarvoor, ’n Valiant-en-Anton-gig. En hier is die opinie dan ook.

Valiant Swart is nie bloot ’n kitaarspeler, liriekskrywer en sanger nie. Hy is ’n ouwêreldse entertainer, ’n package deal. Amper soos Lady Gaga. (Moenie julle wenkbroue vir my lig nie. Gaan YouTube “Lady Gaga”, “orange coloured sky” en “radio 1”, dan praat ons weer.)

Die eerste ding wat my opgeval het, is hoe verdomp nice Valiant is. Sy voete is plat op moeder aarde. Hy is vir seker bewus van sy talente, van sy uitwerking op sy gehoor. Enige entertainer móét wees. Hy geniet egter die magic wat hy skep saam met jou. Jy is nie bloot daar om te gil en CD’s te koop nie. (Nie dat daar iets fout daarmee is nie.)

Daar is min sangers wat ’n storie so boeiend van die verhoog af kan vertel soos Bruce Springsteen kan – met gemak en flair, sonder dat dit oorkom dat hy probeer beïndruk. Valiant het reg agter Bruce gestaan toe daardie talent uitgedeel is. Die staaltjies wat hy vertel is diep, die humor versigtig, die hartseer lig.

Valiant Swart se lirieke is hoendervleis-Afrikaans. Ek en Vrou, wat nog minder van Valiant geweet het as ek, het gereeld na mekaar geloer en gesê “wow”. Dit is poësie. Dit maak sin dat Lapa Uitgewers dit sou uitbring as die digbundel Toorwoorde roep my.

Valiant en Anton saam is nogal ’n treat. Hulle kompeteer soos twee stout skoolseuns. Hulle kyk wie kan elke slag die laaste noot speel, stel gereeld heildronke in op die WP en giggel oor hulle rook bínne die saal.

Die chemistry tussen hierdie twee wêreldklas muso’s is duidelik wanneer hulle speel. Valiant val weg met ’n liedjie. Anton hou Valiant se kitaar dop, luister na die ritme en dan jam hy saam aan die tipe folk en blues wat ek lanklaas gehoor het.

Valiant se grootste trekkrag, dit wat by baie sangers ontbreek, is dat die speel van sy musiek, die optree voor mense, vir hom die grootste plesier gee. Na ’n amper twee uur lange gig het hy ons gedreig met ’n encore, of ons nou een wil hê of nie. Ons het nie protes aangeteken nie.

  • The Room @ Il Giardino by 44 Stanley is uiters gepas vir ’n akoestiese konsert en kan moontlik een van die beste venues in Joburg word. Dit is groot genoeg om nie bedruk te voel nie, maar klein genoeg om nog intiem te wees. Daar is gemakstoele, banke en ’n heerlike kaggel. In die somer kan mens ook buite sit. Ek laat julle weet wie volgende optree.

Pictures: Reney Warrington