Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Snars poëtika

’n Oomblik in die son(paradoks)


Bibi Slippers - 2011-06-10

Die week in woorde


Die week is ek in die loop van my werk herinner aan die woorde van een van my gunsteling-liedjies, deur een van my gunsteling-kunstenaars. Joanna Newsom sing en speel die harp, en skryf ongelooflike lirieke. Regtig. As jy haar nog nie ken nie, gaan luister bietjie hier.  

Terug by my storie: terwyl ek gedigte keur dié week, lees ek ’n reël in een digter se gedig wat die woord sonparadoks bevat. Vir my klink dit toe nes een van daai digterlike samestellings wat mense soms maak in ’n poging om ’n gedig meer soos ’n gedig te laat klink – jy weet, somersoene, skoenlappervry en soldaat-dapper.

(By LitNet en Sanlam se SkryfNet Poësiewerkswinkel, wat as deel van die Woordfees aangebied is, het Danie Marais en Loftus Marais ook oor die verskynsel van “digterlike samevoegings” gepraat en die aspirantdigters aangeraai om bokkie-versigtige reënboogdraaie om sulke blomkettingwoorde te loop.)

'n Jong son-tipe ster, soos gesien op NASA se webblad.

Nou ja, ek skryf toe vir die digter ek dink sy moet die sonparadoks uithaal – dit probeer net, volgens my, heeltemal te hard. Ek het ’n baie beleefde e-pos teruggekry wat voorstel dat ek bietjie gaan kyk wat teoretici soos Carl Sagan oor die sonparadoks skryf. En wil jy meer ... sonparadoks (dankie Google) is toe nie net ’n saamgeflanste poging tot digterlikheid nie, maar ’n werklike teoretiese probleem met die wetenskaplike opvattings oor die vroeë jare van die aarde se bestaan. Die volle naam is Faint young Sun paradox – gedigmooi, man! Ek wens ek het dit uitgedink.

Die punt van die vertelling is maar net dit: as mens heeldag met jou neus in digbundels sit, is dit maklik om te vergeet dat daar ’n hele wye wêreld daarbuite is, verwyder van alliterasie en assonansie en beeldspraak en binnerym. En mens vergeet dit soms wel. Tot jy skielik gekonfronteer word met ’n sonparadoks en in die helder oomblik onthou wat jou gunsteling-harpspeler in haar liedjie “En gallop” sing: “Never get so attached to a poem/ You forget truth that lacks lyricism.” Touché, Joanna, en hallo werklikheid, ten minste vir ’n wyle.

 

Sonkolle vol kreatiewe skryfwerk op LitNet dié week



“Gaan lééf. Gooi jou deure oop. Snorkel kaal in die see. Besoek jou grootwordplek. Bid op ’n berg. Luister stip hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. Keer dan terug na jou binnekamer. En skryf met al duisend jou sintuie. Jou eie storie in jou eie stem.”

Carina Stander is ’n jong digter wat met duisende jare se wysheid geseën is. Sy gee dié week raad aan aspirantskrywers.
Daar is ’n hele handvol nuwe bydraes deur visuele kunstenaars wat Gary Cummiskey se gedigte herinterpreteer. Kyk hier.
Die eerste inskrywings kom in vir ons Herwonne-woorde-poësiekompetisie. Klik hier vir nog inligting. Klik hier om die inskrywings te lees.
Lees twee nuwe gedigte deur Arja Salafranca:

 

Kyk na foto’s van die bekendstelling van die digbundel Die lekkerste perske is ’n vy deur Anne-Greth Erasmus.

 

Digterlike draai


Ek het ’n draai gemaak by die derde InZync Poetry Session by Amazink in Kayamandi. Retha Ferguson het hierdie foto’s van die genooide digters geneem:
Adrian Different
Khanyi Mbongwa
Marlene van Niekerk

Maak solank ’n knoop in jou kuif: Fourie Botha se digbundel word binnekort bekendgestel. Lees hier meer oor die geleentheid.