Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Fiksie | Fiction

La Boheme


Ian Hendrix - 2011-06-09

Untitled Document

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Ian Hendrix se ernstige storie oor ’n meneer Gerritse, mevrou Gerritse en ’n kreatiewe opera-sopraan.

Die skoolsaal is paslik versier vir die geleentheid, en die toegewyste studente doen versigtig die afrondingswerk aan die tafelrangskikkings voordat die gaste aankom en deur die Jaar 10-studente na hul tafels begelei word. Die huishoudkunde-dogters is haastig besig om met meneer Gerritse die bedieningsorde in die kombuis te bevestig. Eers die hooftafel met die administrateur en sy gade, die burgemeester en sy gade, daarna word die stadsklerk en mevrou Viljee bedien, dominee en mevrou (dominee dokter) Bodenstein, en dan eers die skoolhoof en mevrou Gerber, voordat gaste aan die ander tafels min of meer gelyktydig deur die span netjies-geklede matriekdogters bedien word.

Meneer Gerritse weet alles van dié tipe formaliteite, want hy het voorheen in die diplomatieke diens gewerk, en spesifiek by die protokol-afdeling, waar sulke formele ordelikheid haarfyn beplan en bestuur word.

Volgens fluistergerugte op hierdie plattelandse dorp is meneer Gerritse “anders”, al is hy met ’n beeldskone vrou getroud. Nie dat dit so erg sigbaar is nie, maar julle weet wat ek bedoel. Sy hemde pas styf om sy gespierde bolyf, sy broeke se sitvlakke is net-net te noupassend, en as jy mooi kyk, is die gaatjies sigbaar waar hy – volgens stories wat rondloop – die twee diamant-oorkrabbertjies gedra het en waaroor die herrie losgebars het toe hy ’n funksie vir die staatspresident moes bestuur.

Die president het sonder omhaal sy vinger rondgeswaai en aangedring dat die mannetjie met die oorringe gepos word waar hy nie vir kameras en vriende van die president sigbaar is nie. Ten spyte daarvan dat hy Duits, Frans, Spaans en Russies vlot magtig was, het die president nie gedink veeltaligheid kan nuttig in die diplomatieke diens aangewend word nie.

Die skool se seniorleerlinge is mal oor meneer Gerritse se taalklasse, en die vreemde aksent waarmee hy sommige Afrikaanse en Engelse woorde uitspreek, dra by tot die vermoede dat hy eintlik “anders” is. Mevrou Gerritse is die dorp se hoofbibliotekaresse, en koop nooit klere op die dorp nie – selfs nie eers by Maxi se Exclusive Boutique nie. Gefluisterde gerugte beweer die hoofbibliotekaresse se modieuse klere word alles van oorsee af ingevoer. Daar is ook vae fluistergerugte in omloop dat mevrou Gerritse en haar stadsvriendinne hulself op partytjies geniet met aktiwiteite wat die plaaslike dorpsmense dalk nie sal goedkeur nie.

Soos klokwerk kom die berig van die ingangsportaal af aangestuur” “Die Administrateur en sy gade het aangekom en klim nou uit die ampsmotor. Die burgemeestersmotor wag om te parkeer ... Maak gereed ...”

So kom al die eregaste almal aan, klim almal uit die pikswart Duitse ampsmotors met die ampsvlaggies op die neus, en word die optog in die voorportaal opgestel volgens die protokol-orde wat deur meneer Gerritse opgestel is.

Die skool se kadetorkes, wat tot dusver sagte beskaafde agtergrondmusiek gespeel het, val stemmig weg met die volkslied terwyl almal op aandag staan en die berge en kranse antwoord gee. Met die laaste simbaalslag van ou Vettie Boemstieks se kirtjs-kirtsj kom die uitgelesenes in beweging en stap die saal binne waar die gewone gaste staande op die prosessie wag. Die kolligte wat spesiaal vir die geleentheid by English High geleen is, word aangeskakel en soos wafferse vermaaklikheidsterre begelei die ligte letterlik die uitgelesenes na die hooftafel, die tweede hooftafel en die gastetafels. Die matriekseuns skuif die stoele hoflik en behendig reg sodat die uitgelese sitvlakke tot rus kan kom.

Verskuil agter die een dekorstuk wat van die laaste operette-opvoering oorgebly het, beloer meneer Gerritse selfvoldaan sy gladde organisasie.

Soos afgespreek, neem meneer Spies sy plek agter die mikrofoon in, en toe hy die verpligte en gebruiklike kuggie kug om seker te maak die klankstelsel werk, word die ligte verdof en die kollig direk en dramaties op die podium gefokus.

Na die dubbelsinnige oopskopgrappie van seremoniemeester Spies, en die gebruiklike ongemaklike gegiggel wat daarop volg, neem die belangrikheid van sy rol en plig besit van meneer Spies. Hy spreek die Volk toe – of dan ten minste die Volksraad en Senaat, al klink dit of sy stem eintlik met (of “tot”?) die Staatspresident in Rade spreek.

Meneer Gerritse staan steeds in die beperkte ruimte agter sy loerskerm en skud sy kop in ongeloof vir die Spies-man se ongelooflike “ongevoeligheid vir die situasie”.

Toe Spies weer asem skep voor sy volgende aanslag op die gaste se geduld, voel meneer Gerritse ’n hand op sy linkerboud. Voordat hy weet wat gebeur, reik ’n tweede hand om sy lyf wat sy strategiese liggaamsdele doelgerig bevoel. In die beperkte ruimte agter die dekorstuk kan hy nouliks omdraai om die mens aan wie die hande behoort, te sien. Stom geskrik besef hy hy durf ook nie praat nie, want dit kan ’n ander gelol afgee as die voelende hande aan iemand met onvoldoende respek vir die geleentheid behoort. Soos meneer Spies wat nie weet wanneer om nie dubbelsinnige grappies te vertel nie.

Meneer Gerritse se fluistervraag: “Nee man, wat doen jy?”, word met stilte beantwoord, maar hy kan sweer die lyf wat hy van agter teen sy boude en rug voel, het kurwes eiesoortig aan die vroulike geslag.

Spies se verwelkomingstoespraak kom onverwags met ’n “amen” ten einde, en meneer Gerritse se voelende besoeker verdwyn terselfdertyd geruisloos by die saal se sydeur uit voordat die identiteit verder nagevors kan word.

Die burgemeester is besig om die administrateur amptelik voor te stel, en meneer Gerritse besluit om sy uitkykpos te verlaat en sake in die kombuis te kontroleer. Op pad daarheen raak hy toenemend bewus van ’n ywerige stuwing in sy broek en besluit om eers by die personeel se “here” in te gaan en die nodige verstelwerk te doen sodat stuwings en stulpings nie te duidelik sigbaar is wanneer hy sy noodsaaklike werk in die helder-verligte kombuis moet doen nie.

Hy staan by die krip en hoor ’n beweging by die deur voordat die ligte afgeskakel word. In die pikdonker het meneer Gerritse nie tyd om ’n rede of ontsnaproete te prakseer voordat ’n liggaam teen hom nestel nie. Hierdie keer is daar nie twyfel dat dit ’n vroulike bors is wat teen syne druk nie. Hy wil beswaar maak, maar die sagte hand oor sy lippe verhoed dit. En die donker serp waarmee hy geblinddoek word, bevestig dat dit ernstige sake is wat hier afspeel.

Die fluisterstem is hees en dwingend: “Ek het die deur gesluit. Speel saam en geniet dit. Jy het hard gewerk aan die funksie en verdien pret terwyl die volk toegespreek word. Sake in die kombuis is onder beheer, en ons het minstens sewe minute beskikbaard vir pret.”

“Wie is jy?”

“Ek is jou spook,” hoor hy terwyl die besoeker se een hand oor die groeiende stulpsel in sy broek streel.

“Jy groei vinnig ... maar ons moet jou vir later spaar.”

Meneer Gerritse probeer die serp verwyder, maar die kleiner hand se sterk greep op sy groeiende manlikheid laat hom besef sy sien wat hy wil doen, al sien hy niks deur die blinddoek-serp nie.

“Kom nou, speel saam. Ek beloof jy sal dit geniet.” Sy lyfband word losgegespe en die boonste knoop van sy broek losgeknoop. Hy probeer keer, maar hy ontgeld dit toe die vroulike handjie om sy eie vingers sluit.

“Hou jou hande tuis totdat ek toestemming gee of jou vra om vatterig te raak! Ons het nie tyd om te mors nie, Johannes Trichard Gerritse.” Sy broek val op die vloer en sy onderbroek volg dieselfde pad.

Sy plaas sy regterhand op haar linkerbors. Sy fluister: “Sjoe jou hand is kouer as myne. Groot musiekgeeste is al deur koue hande geïnspireer”, en gee ’n aanmoedigende gerusstellende drukkie op sy harder wordende en groeiende liggaamsdeel.

“Dit is verkragting waarmee jy besig is!” Hy probeer weer keer, maar voel hoe haar mond oor sy harder wordende groeiende uitstulpsel sluit. Die sagte byt op die voorpuntjie is net genoeg om hom te oortuig dat hy aan die kortste end sal trek indien hy nie saamspeel nie. Asof geoutomatiseer val hy by die ritme in waarmee die geheime besoeker nou sy geswelde groeiende uitstulpsel in haar mond vertroetel. Haar tong rol die uitstulpsel teen haar verhemelte en haar lippe sluit behendig vaster om die skag terwyl sporadiese suigaksies die hedonistiese genot verhoog.

Hy voel die opwelling in die saadsak en besef hy moet die saak probeer beredder. Sy hoor hoe sy asemhaling verander. “Hou terug, nou is dit my beurt, Johannes Trichard Gerritse. Ek gaan nou omdraai en dan doen jy wat hierdie harder wordende groeiende uitstulpsel duidelik graag wil doen.”

Hy weet instinktief dat sy nou vooroor buk en met haar hande op die wasbakblad steun terwyl sy wag dat sy maksimaal-gestyfde liggaamsdeel haar bevredig.

Sy neem hom in haar goedversorgde vroulike handjie en lei hom na haar natheid. Hy vind die pad in die donker – soos ’n touleier voor ’n span osse. Sy stoot terug en hy glip in die nattigheid in. Sy beweeg vorentoe en hy stoot weer in. Dieper en met meer selfvertroue stoot en trek hy nou ritmies in en uit. Sy wieg saam met hom vorentoe en agtertoe. Dan trek haar spiere saam, sy knyp hom vas en hy kan nouliks in- of uitbeweeg. Haar onderdrukte gilletjie dwing hom onvermydelik rukkend en spuitend oor die kruin en meneer Johannes Trichard Gerritse se asemhaling jaag nog toe sy besoeker ’n handvol toiletpapier in sy hand stop.

Die geritsel van klere dui daarop dat sy besig is om aan te trek. Hy hoor die sleutel in die deurslot draai. Dan weet hy dat sy nie meer saam met hom in die klein ruimte is nie. Hy verwyder die serp, soek die ligskakelaar in die skemer, kam sy hare en orden sy klere tot ’n vlak van sosiale en openbare aanvaarding.

Buite hoor hy die applous wat die einde van die administrateur se toespraak aandui. Hy besef die eerste gang moet bedien word.

Voordat hy hom oor die volgende stap in die protokol-orde kan bekommer, kom die span huishoudkundestudente met hul gestyfde wit kopdoekies en voorskote uit die kombuis uit, elkeen met ’n voorgereg in die hand, doelgerig op pad na ’n toegewyste tafel. Die matriekseuns verwyder die borde en eetgerei betyds en die jong dames stap weer binne met die volgende dis. Die gaste gesels, die prerent-wyn van die KWV en Oudenbosch wat met ’n spesiale dranklisensie in die skoolsaal bedien word, doen wat wyn veronderstel is om te doen.

Meneer Gerritse is selfvoldaan oor die verloop van die uithangaand om die skool se 50ste bestaansjaar te vier.

Die res van die spyskaart word sonder voorval of krisis bedien. Uiteindelik word die nagereg en laaste koffie bedien.

Meneer Spies neem weer sy ereplek agter die mikrofoon in, en toe hy die verpligte en gebruiklike kuggie kug om seker te maak die klankstelsel werk, word die ligte weer verdof en die geleende kollig weer direk op die podium gefokus.

“Geagte meneer die administrateur en mevrou die administrateursvrou, meneer die burgemeester en mevrou die burgemeestersvrou, ...” ensovoorts draf hy die protokol-lys deur.

“En gewaardeerde oudskoliere, ouers, oudouers, familielede en ander gewaardeerde gaste. Dankie vir die vreugde wat u teenwoordigheid vanaand aan ons skoolgemeenskap besorg het. Voordat ons geagte herder en leraar die slotgebed doen, is dit my behoefte om die span agter die skerms te bedank. Sonder die kombuisspan, kelners en kelnerinne sou hierdie funksie nie kon gebeur nie.”

Die ligte handeklap versteur nie die Spies-relaas nie. Hy hervat:

“Maar bowenal moet ek u nou voorstel aan die Man in Bevel. Meneer Gerritse se toetrede tot ons skool se personeel bring kundigheid en gespesialiseerde kennis en ervaring uit die beste sosiale kringe na ons skool. Dit is aan meneer Gerritse te danke dat hierdie funksie sonder die geringste probleem verloop het. Kan ons asseblief die ligte verhelder sodat u meneer Gerritse kan sien ... Baie dankie ... Daar is hy ... En die twee aantreklike dames by hom is sy vrou en haar identiese tweeling-suster. Mevrou Gerritse se steun en verdraagsaamheid en geduld toe ons skool haar man oorgeneem het, is bedankenswaardig. Haar tweelingsuster het toevallig vroeër vanmiddag uit Rome aangeland nadat sy die rol van Mimi in La Boheme voor vol waarderende sale gesing het. Ons hoofmeisie en hoofseun sal nou ruikers aan meneer Gerritse, mevrou Gerritse en haar tweelingsuster oorhandig. Ons gemeenskap bring daarmee ons hulde aan haar status as gevierde internasionale operasangeres.”

Spies giggel. “Miskien moet meneer Gerritse vir ons vertel hoe hy die twee identiese susters uitken. O, nou sien ek. Een het ’n ligblou serpie om haar nek!” Hy giggel weer. “So ’n slim plan om die susters te identifiseer sal vanselfsprekend nie in die donker effektief wees nie.”

Die twee identiese ruikers is aan die identiese tweelingsusters oorhandig, en ’n groot bottel Old Spice aan meneer Gerritse.

Terwyl Dominee nader staan om die slotgebed te doen, hou die een tweelingsuster haar hand na meneer Gerritse uit en fluister nouliks hoorbaar: “Swaer, jy het seker nog my serpie by jou?”

Soos ’n bom tref dit hom! Sy het die leidraad voorsien, maar hy was te dom om verder te dink as die sekskepade wat hom onbeplan te beurt geval het. “Sjoe, jou hand is kouer as myne. Groot musiekgeeste is al deur koue hande geïnspireer.”

Che gelida manina, se la lasci riscaldar? ...Hoe koud is jou handjie! Wil jy dit nie laat warm maak nie?

Verdomme, dit is die aria wat Rudolfo vir Mimi sing teen die einde van die vierde bedryf van La Boheme!

En toe weet meneer Gerritse dat hy vroeër vanaand in goeie hande was.

Die stel goue diamantoorkrabbetjies wat hom by die staatspresident in die moeilikheid laat beland het, pryk aan die ander tweelingsuster se ore. Daar waar hy dit vroeër vanmiddag aangesteek het nadat hulle saam gebad het. Soos wat dit ’n liefdevolle getroude paartjie betaam.

Dominee Bodenstein het intussen geamen, en die gaste aan die hooftafel beweeg na buite volgens die protokol wat meneer Gerritse bepaal het.

Sy vrou en haar tweelingsuster staan weerskante van meneer Gerritse, en hy voel ’n opwelling in sy broek, want hy weet mevrou Gerritse se ligblou serpie en haar suster se donkerblou serpie is die enigste anderse kenmerk waaraan enige persoon hulle uitmekaar sal ken. En meneer Gerritse wonder of mevrou Gerritse en haar tweelingsuster geheime vir mekaar het.

Tuisgekom het hy ’n draai geloop, sy tande geborsel, en toe hy in die hoofslaapkamer kom, sien hy drie stelle kussings op die groot dubbelbed.

Meneer Gerritse weet dat protokol die lewe reguleer. Soos voorgereg, middelgereg en nagereg by formele etes. Beskaafde rasse begin met ’n voorgereg, en eindig met nagereg. Die stuwing tussen sy bene bevestig dat hy gereed is vir ’n tweede porsie voorgereg – al is dit net ter wille van gelykberegtiging van mevrou Gerritse en haar tweelingsuster.

Toe die twee identiese susters die kamer binnekom, is hulle albei poedelnaak. Hy soek na die goue diamantoorkrabbetjies, en sien een krabbertjie aan een oor van elke suster.

En toe weet meneer Gerritse: die gerugte wat rondloop dat hy “anders” is, is waar. Hy is per slot van rekening met ’n vrou getroud wat van hom ’n anderse, gelukkige, tevrede avontuurlustige man maak. Al gebruik sy haar tweelingsuster behendig en kreatief in daardie proses.