Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Fast Five: Al hoe vinniger al hoe vrotter


Jacques Liebenberg - 2011-06-09

Regisseur: Justin Lin
Kamerawerk: Stephen F Windon
Rolverdeling: Vin Diesel, Paul Walker, Jordana Brewster en Dwayne Johnson
Looptyd: 130 minute

 



’n Mens kan veel – en nie veel daarvan goed nie – van die vyfde Fast & Furious-fliek sê, maar een ding staan soos ’n paal bo water: In die snikhete Rio de Janeiro is Dwayne Johnson se FBI-karakter die enigste een wat deurgaans soos ’n vark sweet.

Dit daar gelaat.

Vele brullende motors, testosteroon, sjoebroekies en niksseggende Neanderdal-geluide vermom as “dialoog” later, is die einde vir die Fast & Furious-konsessie (hoewel skynbaar wel in splintergewaad) steeds nie in sig nie.

Van Rob Cohen se oorspronklike, genotvolle daai-wilde-manne-en-hul-bokspringende-krismislig-renmotors-fliek is daar min oor. Dáár was darem nog ’n tikkie oorspronklikheid en joie de vivre te bespeur; selfs ’n poging tot karakterontwikkeling, sou mens kon sê. Die Vin Diesel/Paul Walker-kombinasie het goed gewerk en het Cohen se stout-seuns-met-duurder-speelgoed-benadering mooi aangevul. Selfs bleeksiele in 1,1 liter-motortjies het hulle op pad terug huis toe verbeel hulle looi daai tjor dat hy rook en tuis wag ’n warm Amasone in ’n denimbroekie en wit T-hemp, gewapen met ’n bier en ’n moersleutel.

Sedertdien, en sonder Cohen en stuk-stuk ook sonder Diesel en Walker, het die wiele van Tokio tot Mexiko maar erg afgeval. Diesel is darem sedert no 4 terug, maar al die silinders wil steeds nie vuur nie, hoewel Justin Lin, regisseur sedert no 3, hard probeer om die jaagtoertjies so skouspelagtig moontlik te maak. En paradoksaal is dit darem een aspek van no 5 wat wrintiewaar werk.

Die redenasie agter dié soort flieks is foutloos. Die teikenmark is pragtig vergestalt deur die jeugdige viertal met hul selfone, gebrekkige humorsin en aandag-afleibaarheid in die ry agter my. En as daar nou een ding is wat Hollywood goed kan doen, is dit om dié teikenmark vir elke liewe sent van daddy en mommy se geld te melk. Dit verg nie veel nie: Mooi mense in skrapse kleertjies, een of twee one-liners, en ’n verskoning om chaos te kan saai.

’n Mens is nie te bekommerd oor Walker se loopbaan nie. Sy beste fliek is Pleasantville en net omdat Reese Witherspoon hom “pin” en só die kleurrevolusie ontketen. Maar die hart bloei vir Diesel en Johnson, wat albei beter as hul gemiddelde fliek is. En in dié fliek blyk dit nog duideliker, want daar’s geen kans om enige mate van identiteit of teenwoordigheid te vestig as elke karakter se totale dialoog uit 25 woorde bestaan nie. So, al wat jy eintlik hoef te doen vir daardie tjek van miljoene rande, is om op te daag.

En daarby, en dis een van die groot Hollywood-ironieë, ondergrawe flieks soos Fast & Furious se aksietonele net mooi al die goeie werk wat deur hiperrealistiese treffers soos The Bourne Identity gedoen word. Maar die teaterstoele word naweek ná naweek volgepak en daarom sal mens seker die een of ander tyd moet besef: Nee, Hollywood onderskat nié mense se intelligensie nie.

O ja, en sit tot héél aan die einde, anders gaan jy naïef genoeg dink dis vaya con dios.