Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Hangover II – Véél swakker as sy voorganger


André Crous - 2011-06-09

Regisseur: Todd Phillips
Kamerawerk: Lawrence Sher
Rolverdeling: Bradley Cooper, Ed Helms, Zach Galifianakis, Justin Bartha, Mason Lee
Looptyd: 100 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 27 Mei 2011


Wel, dis veel swakker as sy voorganger. Trouens, dit is so swak dat dit swak sou gewees het selfs al was daar nie ’n voorganger om dit mee te vergelyk nie. Dis waar dat die film grotendeels ’n herhaling is van die eerste film, The Hangover, wat groot sukses behaal het toe dit in 2009 uitgereik is. Maar hierdie keer verstik die film aan toilethumor en meer homofobie as wat ek in ’n lang tyd in ’n Hollywood-film gesien het.

Nes die eerste film, handel die storie hier om ’n groep vriende wat op die vooraand van een se troue op die kus van Thailand so uitrafel dat hulle die volgende oggend op ’n vreemde plek (’n hotelkamer in Bangkok) wakker word, omring deur spore van absolute losbandigheid, en moet uitpluis wat presies die vorige aand gebeur het en waar ’n vermiste lid van die groep hom bevind. Dié kan ’n heel ryk beginpunt wees, soos een van my gunstelingfilms uit die 1980’s, The Night Before, bewys, maar in die huidige film is veral die doelbewuste onder-die-belt humor, in die lyn van Sacha Baron-Cohen se Brüno, en die teenwoordigheid van akteur Zach Galifiniakis as die hoogs kinderagtige Alan ’n steen des aanstoots.

Kommersiële films bevat nie gewoonlik soveel naaktheid nie, maar dié film wil almal in die gehoor duidelik wys wat ’n ladyboy – of Thaise kathoey – is, en wat die ladyboy met een van die karakters aangevang het. Dit is een van daardie oomblikke wat jy jou oë wil sluit in skaamte vir die paadjie wat die filmmaker kies om te loop. Die spel van die rolverdeling is dikwels ook maar flou (arme Justin Bartha weet gewoonlik nie wat om ná sy dialoog met homself te maak nie), maar Bradley Cooper, wat gelukkig meer as enige ander karakter op die skerm verskyn, is die gom wat keer dat die film uitmekaarval.