Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Ons: Standpunte van annerkant die treinspoor: Wyngaard omseil omstrede kwessies


Jason Lloyd - 2011-06-08

Ons: Standpunte van annerkant die treinspoor
Heindrich Wyngaard
ISBN: 9780620496155


In sy bundel rubrieke skryf Heindrich Wyngaard veral oor “kwessies wat hul bestaan in die bruin gemeenskap het of wat bruin mense in die eerste instansie raak”, dus oor die kompleksiteit van (bruin) Afrikaanssprekendheid in ’n postapartheid-Suid-Afrika. Hy skryf ook oor ander sosiaal-politieke kwessies, maar keer elke keer terug “tot die storie van die bruin mense – of dan liewer ‘swart Afrikaanse mense’ – en hoedat hulle sin probeer kry uit die omstandighede in die land …”

Sy boek Ons – standpunte van annerkant die treinspoor bestaan uit van sy rubrieke (wat hoofsaaklik in Rapport en ook in Die Burger verskyn het), essays en toesprake sedert die laat 1990’s.

Die storie van bruin mense voor, gedurende en ná apartheid bly egter ’n storie van ongemak. Dit is immers ’n gemeenskap van gemengde afkoms, gemengde identiteite; Christene en ook Moslems – verskillende taalgroepe; hoofsaaklik Afrikaans, maar ook Engels.

Vanuit sy “bruin werkersklas-, dronkdrinkende, dog godvresende en rugbyliefhebbende plattelandse gemeenskap” slaag Wyngaard wel daarin om die verhaal van arm en minderbevoorregte bruin Afrikaanssprekendes binne-in die oorwegend wit Afrikaanse media te plaas.

Identiteit, naamsverandering en vooruitgang onder bruin mense is van die temas in die bundel. Die essay oor die “naamsverandering van Saartjie Baartman” is een van slegs twee nuwe stukke. Dit vertel die leser van die dag in 2002 toe besluit is om Saartjie se naam te verander na “Sarah Bartmann”, maar kom kort om konstruktiewe voorstelle aan die hand te doen oor hoe om dié “onreg” ongedaan te maak. Niks keer tog byvoorbeeld die minister van kuns en kultuur om Saartjie se naam in “Afrikaans” in ere te herstel nie? Die bruin gemeenskap, en bepaald die Khoi-mense, kan tog hierop aanspraak maak, en sodoende kan ’n (klein) gedeelte van die kultuurhistoriese erfenis van die “eerste mense” herstel word.

Die ander nuwe stuk is “Emo Adams en die kleur van liefde”, wat handel oor sterstatus onder bruin mense en die neiging van bruin sterre om met wit mense te trou.

Hoewel die boek ’n belangrike bydrae lewer tot (bruin) literatuur in Suid-Afrika – ’n land waar dit doodsonde is om oor “bruin kwessies” te praat – bied dit min of geen intellektuele en konstruktiewe oplossings of voorstelle tot die vraagstukke onder bespreking nie.

Waar is die skok-effek of lokaas in die boek?

Ek het meer uitdagende leesstof verwag. Nou vermoed ek eerder ’n luiheid aan die skrywer se kant, hoofsaaklik omdat hy net twee nuwe stukke geskryf het; nie sonder aktuele skok-effek nie.

Of is dit regtig luiheid? Is dit dalk Wyngaard se manier om omstrede kwessies te omseil? Ironies genoeg verwys hy na die digter Sandile Dikeni as “te reguit en te eerlik” en wens hy dat hy, soos die ontslape Amerikaanse skrywer James Baldwin, net ’n “eerlike skrywer” kan wees.

Hy laat egter na om omstrede kwessies, veral in die Afrikaanse gemeenskap, te pak. Soos byvoorbeeld Jakes Gerwel se standpunt dat swart Afrikaanses hulle nie “herken of hoor” in die hoofstroom Afrikaanstalige media nie.

’n Essay waarin hy Henry Jeffreys se redakteurskap by Die Burger beskryf as “’n revolusie wat nooit plaasgevind het nie”, het hy uitgelaat. Patricia de Lille se sogenaamde “Allan Hendrickse-uitverkoop-styl”-aansluiting by die DA word nie genoem nie.

Wyngaard bly ’n waardige deelnemer aan die komplekse openbare diskoers oor bruinwees in postapartheid-Suid-Afrika. Sy boek mis egter hier ’n gulde geleentheid. Soos William JH Boetcker opgemerk het: “Om jou selfrespek te behou is dit beter om mense kwaad te maak deur te doen wat jy weet reg is, as om hulle tydelik tevrede te stel deur te doen wat jy weet verkeerd is.”

Daarom twyfel ek sterk dat Wyngaard in die geskiedenis opgeteken sal word as ’n “eerlike skrywer”.