Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Liggewig-rame vir swaargewig-konsepte in E du Perron-lesing


Carina van der Walt - 2011-06-02

Untitled Document

Op Dinsdagaand 31 Mei het die een-en-twintigste toekenning van die E du Perron-kultuurprys plaasgevind. Die wenner is Anton de Kom. Dit is die biografie van ’n Surinaamse Nederlandse skrywer.

Vanjaar word vir die eerste keer ook ’n E du Perron-lesing gehou. Antjie Krog is uitgenooi om hierdie baanbrekersrol te kom vervul. Sy gebruik daarvoor Kaapse kaalkoppe, ’n uitgawe van die Vlaamse strokiesprent Suske en Wiske. Raam vir raam verduidelik sy die Mandela-ingegewe konsepte verdraagsaamheid, vergifnis en versoening.

Raam 1: Route 62 op pad na Montagu

Krog se belangstelling in strokies kom al ’n lang pad, vanaf Bitterkomix van Anton Kannemeyer tot een van haar seunskinders se betrokkenheid by die strokiesprentwêreld. Die kontak met Suske en Wiske lê opgesluit by ’n familiebesoek in Montagu. Dáár het sy hierdie spesifieke vrolike raam (raam 1) van tekenaar en skrywer Marc Verhaegen raakgesien. Dit kom voor in Kaapse kaalkoppe. Die verhaallyn het veral haar aandag getrek.

’n Besoek aan Nederland beteken vir Krog: “Hoogs interessante projekte, verbindings en geleenthede wat uitgedruk word, soos Winternachten en Poetry International.” Die rol van die skrywer is vir Krog in die Nederlandse samelewing breër uitgewerk as in Suid-Afrika. Nederlandse skrywers neem deel aan debatte én skryf daaroor. Of dit gaan oor sokker, dienslewering of politiek maak nie saak nie. Dinge gebeur.

Self vermoed Krog dat haar Nederlandse leserspubliek uit vroue bestaan wat poësie lees. Die Nederlandse vertaling van haar laaste bundel, Verweerskrif (2006), met die titel Lijfkreet (2006) verkoop steeds uitstekend.

Raam 2: Voortrekkergeskiedenis

Maar in my Nederlandse raamwerk is dit juis haar drieluik met polities-maatskaplike kritiek op Suid-Afrika wat soos soetkoek verkoop. Country of my Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009) is almal in Nederlands vertaal. As leser vererg mens jou soms oor die verandering van die titel met die vertaalslag, want Country of my Skull het De kleur van je hart (2000) geword. Kort daarna verskyn die digbundel Kleur komt nooit alleen (2002) tot verwarring van die Krog-leser – soveel “kleur”-titels! Watter een is die bundel en watter een die politieke verslag?

’n Onafgebakende oeuvre spreek van veelsydigheid. Met haar E du Perron-lesing geniet Krog die kreatiewe vryheid hier en laat sy ’n onbekende kant van haarself sien. Tog sluit hierdie Suske en Wiske-strokie aan by Begging to be Black en die breër konsep van onderlinge verbondenheid, soos wat Mandela daaraan gestalte gee. Sy wys op Nederlanders en Belge se verweefdheid met Suid-Afrika se koloniale én moderne geskiedenis. Persepsies, normatiewe waardes en singewing word volgens die strokiesformule in Suske en Wiske-hulle se pogings saamgetrek om die goeie saak te ondersteun en daarvoor te veg.

Raam 3: Khayelitsha met armoede en suksesse

Die verhaallyn begin met professor Barabas se soektog na die wees-nie-bevrees-nie-viooltjie. Professor Wildebeest vind hierdie viooltjie in Suid-Afrika, maar sy elikser het nie die verwagte uitwerking nie. Dit verwyder nie ’n spinnekopfobie nie. Dis baie beter en pure fantasie! Dit verwyder vooroordele. Dit bevorder verdraagsaamheid. Maar professor Wildebeest verdwyn. Suske en Wiske en hulle groep, altesaam ses Belge, gaan Suid-Afrika toe om die blommetjie te red en professor Wildebeest te vind.

Die setlaarsgeskiedenis van Suid-Afrika ontvou vir hulle in ’n KLM-reisgids. Daarna leer Sidonia, Jerome en Lambik die Afrikaner, die Voortrekkers, Paul Kruger en die Anglo-Boere-oorlog in Pretoria ken (raam 2). ’n Ander deel van die groep, Suske, Wiske en professor Barabas, leer die armoede in Khayelitsha ken. ANC-suksesse soos klinieke, huise en crèches word aan hulle uitgewys (raam 3).

Raam 4: Wat die geheime elikser alles kan beteken.
Raam 5

 

 

 

Albei groepe word agtervolg deur skurke met veelkleurige maskers. Die finale scene speel af op Robbeneiland – internasionaal gelaai met vergifnis as betekenis. Daar in die kalksteengroef het professor Wildebeest die geheime elikser ontwikkel (raam 4). Maar ’n gemaskerde skurk daag op en skiet die laboratoriumfles in flarde (raam 5). De elikser is tot niet. Niemand tree op nie en beide die blom en sy elikser is verlore. Dit spoel weg in die geut van die strokiesprent. Realiteit tree in. En die lessie? Verdraagsaamheid is ’n fantasie. Dit het niks te make met die realiteit nie. Die polisie daag op. ’n Geveg volg en die skurke word gearresteer. Suske is hartseer. Dan daag Mandela as ikoon van hoop en vergifnis op. Hy is nié fantasie nie (raam 6).

Raam 6: Mandela

Raam 7: ’n Diepe wedersydse verbondenheid

Tog wys Krog deur middel van strokiesprenttegniek daarop dat die ikoonstatus van Mandela hom terselfdertyd ontkrag. Hy is so realisties geteken dat niemand met hom (en dus waarvoor hy staan) kan identifiseer nie. Hy verteenwoordig ’n onnavolgbare morele outoriteit. Sy vergewings- en versoeningsgesindheid lê ingebed in sy bewussyn van ’n diepe, wedersydse verbondenheid (raam 7). Dit stel hom intuïtief in staat tot die teenoorgestelde van ’n verwagte reaksie. Daarom kan hy die tekortkominge van sy vyande tegemoet tree met vergifnis en versoening. Dit maak hom verdraagsaam.

As Krog daarop wys dat Obama teenproduktief te werk gegaan het en die Moslem-probleem vergroot het met Osama bin Laden se uitskakeling as reaksie op 9/11, sit almal regop. Amerika is toonaangewend in Nederland. Maar ons stadsraadslid knik instemmend met rooi oortjies. Sy besef ook hier in Tilburg werk onverdraagsaamheid teenoor Moslems nié. Wie durf hier Mandela as voorbeeld te volg en die eerste kontra-intuïtiewe aksie te neem?

Raam 8: Spinnekopfobie

Ten slotte doen die strokiesverhaaltekenaar en -skrywer, Verhaegen, wél ’n kontra-intuïtiewe stap vir sy verhaal. In die laaste raam (raam 8) klop Lambik aan Suske en Wiske se voordeur. Hulle is weer tuis. Hy is geklee in die kostuum van ’n reuse-spinnekop! Boodskap? Jou vrees vir spinnekoppe is oorbodig, want binne-in sit ’n vriend. Of, vra Krog byna met ’n knipoog, is jou vriend ’n spinnekop?

Krog se lesing balanseer tussen lig- en swaargewig. Dis presies reg vir ’n gemengde gehoor van akademici en ‘n doodgewone, geïnteresseerde publiek. Daarom is hierdie lesing toonaangewend in ’n nuwe tradisie van die E du Perron-prys. Bedankt!

Antjie Krog ontspanne na die lesing. Die bankie beeld Tilburg se geskiedenis plus kompetisie vir Bafana Bafana uit.