Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Voelers


Marius Ackermann - 2011-06-01

Untitled Document

Die weersiens was onverwags. Skaars drie maande na sy dood, en veel gouer as wat Huberta gedink het dit sou wees. Daar was ook ’n element van skok. Nadenke oor reïnkarnasie was nie juis deel van haar pligstaat as sekretaresse in die Departement Dierkunde en Entomologie nie.
    
Toe sy een oggend weer die Departement se stoorkamer binnegaan, sit die kakkerlak haar ewe hups op heuphoogte en betrag. Sy het hom aan die voelers herken, die skraal, sensitiewe vingers wat in ’n vorige lewe so mooi kon beduie: Kom, kom in, hier is ons alleen … Toe hy boonop omdraai, flink teen die boekrak opbeweeg en oor die lywige derde uitgawe van Grobler & Du Toit vir haar loer, was daar by haar geen twyfel nie. Dis hy!
    
Die vreemde omstandighede van professor Grobbie Grobler se dood (aan sy hart, na-uurs, in die Departement se stoorkamer) het genadiglik nie ’n skinderveldtog ontketen nie. Nie soseer uit  meegevoel vir naasbestaandes nie, maar omdat spekulasie oor wie die nuwe departementshoof sou wees, dadelik alle aandag in beslag geneem het. Professor Petra Preutzenburg was die vanselfsprekende keuse. Selfversekerd, slank en aantreklik. ’n Ystervrou wat selde die soom van haar gevoelswêreld lig – vandaar die vraagteken oor gerugte dat sy die doodstyding met ’n reëndans en ’n gedempte Yes! Yes! Yes! begroet het.
    
Die universiteitsowerhede se verwagte stap in die rigting van regstellende aksie het egter ’n sprong geword. Ten spyte van professor Dhlamini se aansien as mens en gerespekteerde akademikus, was sy aanstelling vir almal ’n verrassing, en vir prof Petra ’n persoonlike teleurstelling.
    
Dis teen hierdie agtergrond dat die immer ondersoekende Grobbie Grobler besluit om vanoggend die skemerte van die stoorkamer te verlaat, en na ’n lang afwesigheid die personeelteekamer te betree. Die gesteelde stoorkameruurtjies van vroeër het intussen weer instelling geword, maar in die plek van destydse smeulwarm passie is daar nou ’n waardige, stil teerheid. Huberta bring gereeld vir hom koekkrummels, en laat hom by geleentheid toe om vinnig oor haar hand te hardloop.
    
Met die deurkosyn as verkenningspos gebruik Grobbie sy lang voelers om die atmosfeer in die teekamer te peil. Aan die onderpunt van die lang tafel lag en gesels die junior dosente, maar hoe hoër hoe stroewer: Professor Preutzenburg drink nog steeds rooibos, haar ysblou oë kort-kort soos messteke in die nuwe departementshoof se rigting.
    
Tot sy ontsteltenis sien Grobbie dat die Departement vanoggend besoek ontvang van die vermaarde en bebaarde insektekundige en geëmeriteerde professor TJ (Thar) du Toit, voormalige kollega en mede-outeur van Grobler & Du Toit. Gaslesings se voet, dink Grobbie terwyl hy versigtig nader beweeg. Die ou bokram is sweerlik hier om weer sy oë op hubare Huberta te laat rus.
    
Terwyl hy teen die een tafelpoot oploop, verwonder Grobbie hom aan die fyn kniekoppies van die junior damespersoneel. Wat het hy nie alles destyds gemis toe hy ewe vernaam aan die bopunt gesit het nie!  
    
Huberta het jou werklikwaar ’n groot sjokoladekoek by die tuisnywerheid aangeskaf. Als ter ere van bokram Thar, natuurlik. Wrewel laat Grobbie besluit om ’n bietjie te stir.
    
Terwyl professor Dhlamini ’n paar mooi dinge oor Thar du Toit sê, glip Grobbie ná ’n kort naelloop onder die plastiekdeksel in.
    
Daar is hoorbare teleurstelling toe Huberta met gebaar die deksel oplig en ’n paar sjokoladebesmeerde voelers die Departement Dierkunde en Entomologie begroet.
    
"Iphela!" is al wat ’n ontstelde professor Dhlamini uitkry voordat die indringer vinnig by die deur uitskarrel. Skielik is niemand meer lus vir koek nie. Huberta lyk nie kwaad nie, net teleurgesteld. Ystervrou Preutzenburg glimlag agter haar teekoppie. Al hierdie ophef oor ’n ou fossiel wat kom kuier; om van die geskrik vir ’n simpele gogga nie eens te praat nie!
    
"Jy moes dit nie gedoen het nie – dis gemeen! Prof Thar hou van sjokoladekoek, en hy’s baie eensaam!" Huberta se stem tril van verontwaardiging.
    
"En jy laat my soos ’n kokkerot voel," beduie Grobbie terwyl hy stadig met hangvoelers teen die rak opkruie. Dis ’n bedeesde kakkerlak wat hom bo-op Grobler & Du Toit tuismaak voordat Huberta die stoorkamerdeur agter haar toeklap.
    
Dae sleep verby, en Huberta bly weg. Grobbie gebruik die skielike afstand in hulle verhouding vir grondige selfondersoek. As dit so is, dan is dit maar so. ’n Rustelose, ondersoekende gees kan nie deur ’n liefdesteleurstelling aan bande gelê word nie, en daarom besluit Grobbie om die Departement ’n bietjie op voelers te neem. Dis ’n gevaarlike avontuur wat te eniger tyd onder hak of hiel kan eindig, maar wat de hel!
    
Kort-kort gewaar iemand ’n kakkerlak: in die biblioteek, in ’n lesingsaal, ’n klomp keer in die dames se kleedkamer. Niemand wis dat dit een en dieselfde insek is nie, en woorde soos "plaag" en "higiëne" duik skielik in teekamergesprekke op.
    
’n Paar dae later kyk professor Preutzenburg met onverbloemde afkeer na die see van gesigte voor haar. Sy behartig nie meer eerstejaarsklasse nie, maar ’n maagkiem maai onder die doserende personeel, en hier staan sy. Hoe anders, as die Departement van kakkerlakke krioel? Standaarde, standaarde – als ’n kwessie van standaarde.
    
Terselfdertyd wag ’n gespanne Grobbie vlak buite die lesingsaal. Hy het in sy vorige lewe gelees dat ’n kakkerlak die één ding op aarde is wat ’n kernontploffing sal oorleef. Hy het egter rede om te glo dat Petra Pretzel ook daartoe in staat is! Hy skud hom reg, hef “La cucaracha” as ’n strydlied aan, en skiet die lesingsaal binne. In ’n oogwink is hy by die podium, waar die professor besig is om haar studente vanaf ’n hoë hoogte toe te spreek.
    
Met die punt van prof Petra se duur Italiaanse skoen as tydelike basiskamp, oordink Grobbie vir ’n paar oomblikke die geskiedkundige aard van sy sending. Met ’n "Ysberg, hier kom ek," vertrek hy op sy epiese tog.
    
"Dit was jy – ek weet dit!" Huberta se wange pof van pure ontsteltenis. Sy was in haar kantoor toe ’n paar verskrikte eerstejaars daar instorm. Prof Petra staan al vir vyf minute en gil, en sy wil nie sê hoekom nie.
    
Grobbie staan ’n entjie weg, voelers halfmas.
    
"Dit kan nie so aangaan nie; dis nou finaal. Dis verby tussen ons. Hierdie nuwe verhouding … dit … dit was geDoom van die begin af!" Huberta is nie net kwaad nie. Sy tob al heelmôre of sy vir Grobbie van prof Thar se huweliksaanbod moet vertel, en dat die kantore (stoorkamer inkluis) oormôre gefumigate gaan word.
    
Die volgende oggend drink die personeel weer saam tee. Die maagvirus het laat los, maar prof Petra is afwesig met siekverlof. Stres, lui die gerugte.
    
Prof Thar is ook by, besig om jonger personeellede oor die loutere vreugde van handboekskrywery in te lig. Vir doeleindes van illustrasie het hy die omvangryke derde uitgawe van Grobler & Du Toit byderhand.
    
Terwyl ’n goedige prof Thar enkele herinneringe met sy gehoor deel en ’n immer beleefde professor Dhlamini na sy horlosie loer, kom ’n kakkerlak oor die tafel na hulle toe aangestap. Stadig en doelgerig, kop omhoog.
    
Die einde sal hopelik vinnig wees, en aan die hand van professor Dhlamini. Dalk wag daar ’n volgende lewe in ’n nuwe gedaante. Boonop vind Grobbie groot berusting daarin dat hy die afgelope paar dae meer opwinding beleef het as gedurende sy twee-en-dertig jaar in die akademie. Hy het ’n vol tweede lewe gehad.
    
"Een ding wat julle moet besef, is dat skryf harde werk is. Ek en my kollega professor Grobler het baie pret gehad, maar dit was harde werk," maan prof Thar.
    
Die kakkerlak huiwer effens, maar hervat sy tog na die bopunt van die tafel. Hy het ’n afspraak met die noodlot.
    
"Ek is verheug om te verneem dat die werk steeds voorgeskryf word, en van nut is. Seshonderd een-en-twintig bladsye val nie sommer uit die lug nie!" Prof Thar tel Grobler & Du Toit op en weeg dit in die krom vingers van sy hand. "Ek weet, want ek het die meeste skryfwerk gedoen. Ek wil nou nie uitwei nie, maar daar was ook ander dinge wat my mede-outeur se aandag in beslag geneem het." Thar du Toit glimlag betekenisvol.
    
Die kakkerlak gaan staan. Hy draai sy kop in die rigting van prof Thar, voelers skielik laag en reguit, soos lanse.
    
Die stormloop het skaars begin, of een van die junior lektore gil en wys met haar vinger. Huberta knyp oë toe en draai haar kop weg. Prof Thar ontwaak uit sy monoloog, lig Grobler & Du Toit se Entomologiese aspekte van plaagbeheer in Suid- en Suider-Afrika ’nfraks hoër, en bring dit met ’n donderende slag op die gogga neer. Koppies en pierings ratel. Personeellede snak na hulle asem. Huberta storm by die deur uit.
    
"Haar senuwees is nog bietjie rou ná kollega Grobler se dood," sê prof Thar terwyl hy na ’n servet soek om die reste mee te verwyder. Prof Dhlamini knik begrypend.
    
’n Kakkerlak is ’n taai ding, en die kop het die slag oorleef. Met die eerste veeg verstar prof Thar se oë, en sy mond val oop. Hy sluk, rol alles haastig in die servet toe, byt op sy tande en druk die pakkie dat hy kraak. Dis ’n wasbleek oud-hoogleraar wat die oorblyfsels in die teekamer se vullismandjie deponeer voordat hy in sy stoel terugsak. Is dit wat die ouderdom aan ’n man doen? Sodra groen weivelde begin wink, sien jy gesigte?  

Almal lag en gesels weer, dankbaar dat die kakkerlak én die boekdemonstrasie iets van die verlede is. Professor Dhlamini moet ’n vergadering gaan bywoon. Hy maak verskoning, en skuur haastig agter ’n starende Thar du Toit verby.