Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Verander die kiesstelsel


Jason Lloyd - 2011-06-01

Untitled Document

Die herskikking van die politiek in die nabye toekoms is te ver en daarom lê dit nie opgesluit in die versterking van die (reeds) flou opposisiepartye nie, maar eerder in die diepgaande herbesinning en verandering van die huidige kiesstelsel.

Die geskiedenis leer dat baie Afrika-bevrydingsbewegings suid van die Sahara na ongeveer 25 jaar na bevryding en/of onafhanklikheidswording hul land in die moeilikheid in regeer. Dit is omdat hulle eers die ekonomie verwoes. Die gevolg is politieke ontstabiliteit, wat die eens stewige pilare van ’n grondwetlike demokrasie vernietig. Daarna vaar die werkersklas die strate in en eis daadwerklike politieke en ekonomiese veranderinge.

In Suid-Afrika (indien dit wel gaan gebeur – die gevaarligte flikker reeds) is ons nog ongeveer 10 jaar daarvandaan weg.

In Afrika – en ook in Suid-Afrika – waar veral die voormalige onderdrukte meerderheid hoofsaaklik met hul harte eerder as hul koppe stem – bewys die geskiedenis dat opposisiepartye dit moeilik vind om die bevrydingsbeweging by die stembus te klop. Die diktatuur van Robert Mugabe se Zanu-PF in Zimbabwe is geen onbekende voorbeeld nie.

Bygesê, die oproep tot die verandering van die huidige kiesstelsel en dat die belang van die kieser bo dié van ’n politieke party geplaas word, is niks nuuts nie.

Die gevolg was reeds die aanwysing van die (Frederik Van Zyl) Slabbert-kommissie, wat in 2003 ’n gemengde stelsel aanbeveel het ingevolge waarvan 300 parlementslede (LP’s) in kiesafdelings verkies word en 100 uit proporsionele lyste aangewys word. Dit sou die huidige geslote proporsionele kiesstelsel – waar al 400 LP’s van lyste aangewys word – moes vervang het.

Dié voorstelle (wat intussen stof iewers op ’n rak vergader) – met die kiesafdelinggedeelte geskoei op die Britse Westminsterstelsel – is ’n goeie verbetering op die huidige stelsel, omdat kiesers nie direk betrokke is by die kies van hul LP’s is nie.

Dit is ’n partygedrewe stelsel, omdat LP’s wat in die meeste gevalle onbekend is en glad nie in die kiesafdeling van sy of haar kiesers woonagtig is nie, in kiesers se kele afgedruk word.

Ek het egter bedenkinge oor die kommissie se voorstel dat ’n kiesafdeling drie tot sewe LP’s moet hê, omdat die konsep van aanspreeklikheid hierdeur verlam sou word. Dit sal ’n gestry onder LP’s meebring oor wie ’n betrokke kiesafdeling se belange op die hart dra – en andersom.

Reeds daarom sou ek voorstel die land moet in 240 kiesafdelings – elk vir een LP – verdeel word. Dit sou die weg baan vir die vestiging van ’n gesonde kieser-LP-verhouding, omdat die LP sou besef dat, indien hy of sy nie hardwerkend is nie, sy of haar kans op herverkiesing skraal sou wees.

Die oorblywende 160 LP’s kan proporsioneel van lyste af aangewys word. Dit sou meebring dat kleiner partye, soos die PAC en VF+, deur die proporsionele gedeelte van uitwissing in die parlement gered sou word as hulle nie daarin sou slaag om ’n kiesafdeling te wen nie.

Tesame met veral die kiesafdelingstelsel lê die antwoord op die volle herskikking van die politiek opgesluit in die vorming van “persoonlike identiteitsvorming” in die politiek. Dit sal die fokus verskuif weg van die belang van die politieke party, wat meestal ideologies van aard is.

Hier dink ek  veral aan die oorbeklemtoning van die eenvoudige lering van Madiba dat daar “goeie” en “minder goeie” mense in alle gemeenskappe en politieke partye is. In die proses van die nominasie van kandidate vir die verskillende kiesafdelings moet die klem dan veral daarop val om “goeie” mense as LP’s te kies.

Dit sou dan meebring dat kiesers minder fokus plaas op en stem vir ’n politieke party se handelsmerk, en meer op die karaktergesteldheid van die kandidate. As die “goeie” die norm word vir nominasie of verkiesing in ’n kiesafdeling, sal dit dan ook outomaties oorspoel tot binne partye se onderskeie strukture.

Dit, en die skrapping van die klousule in die Grondwet wat verhoed dat ’n LP van party verwissel sonder om sy of haar setel te verloor, sal ’n totale herskikking in die politiek teweeg bring.

Dit sal die huidige diktatoriale beheer van partyleiers oor hul LP’s verminder. Die oorsigsrol van die parlement en provinsiale wetgewers sal sodoende versterk word en dit sal bydra tot die groei en uitbou van ons ontluikende demokrasie.