Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Brekfisbrief; 02/06/2011: Siklus van mens en troeteldier


Perdebytjie - 2011-06-01

Die mens stap ’n pad met troeteldiere. Wie onthou nog daardie kleintydse wens vir ’n hondjie, katjie of voëltjie? My eerste troeteldiertjie was ’n oú worshondjie wie se nonna ouetehuis toe moes gaan. Hy was nie gewoond aan kinders nie, dus taamlik iesegrimmig, maar ’n goeie leerskool vir kinders om respek teenoor diere aan te leer! Hy was ’n moeilike kwispelstert, met ’n aksie teen al wat ’n groot hond is. Ons oop (goeie ou dae sonder heinings) werf is daagliks van kant tot kant gepatrolleer en ’n vele hakskene en fietswiele is geknibbel in die proses.

Na sy dood was daar my sussie se basterbrakkie, Taffie, met wie ek altyd gesels het terwyl ’n onwelkome kêrel by my gekuier het. Hy was ’n goeie aandagafleier en die knaap het gou die boodskap gekry. Taffie het onder ’n motor beland en toe my sussie die oggend kliphard skreeu: “Hy’s dood, hy’s dood!” het ons gedink dis my pa wat die tydelike met die ewige verwissel het!

Intussen was daar ’n klein geel budjie, genaamd Sooisie. Hy kon heerlik praat en as my pa saans ’n doppie whiskey vir hom en my ma skink, het hy soos water gemurmel en die geluid van ysblokkies nagemaak! Na my troue, is Sooisie saam op my nuwe lewenspad en hy’t ’n goeie twaalf jaar oud geword.

Soos baie jong getroude paartjies, het ek en manlief vir ons ’n hond aangeskaf om te oefen vir die koms van pienkvoete! Oubaas was ’n kruising tussen ’n Rottweiler en ’n Mastif. Wat ’n slim hond! Manlief was in die kommando’s en is jaarliks opgeroep vir drie weke. Een jaar moes hy gaan vir ’n honde-opleidingskursus, en Oubaas is saam. Daar was net opregte honde en Oubaas is vinnig die bynaam, Plaashond, gegee. Wel, Plaashond en sy baas het die kursus loshande geslaag met die hoogste punte! Oubaas was met ons tot met die koms van ons vierde kind. Een koue oggend wou hy nie meer opstaan nie en ek en my huishulp het hom in die motor gelaai. By die veearts het ek bygestaan en my byna bewusteloos gehuil toe my getroue ou dier na veertien jaar, sy laaste asem uitblaas.

Daarna volg toe ’n langbeen Jack Russel en Bouvier. Otto is verlede jaar dood en ek het reeds daaroor geskryf. Saterdag is klein Rassie na veertien jaar ook die ewigheid in. Ek het heeldag gehuil, veral toe ek sy kosbakkies was en bêre en sy laaste pakkie snoepies toemaak en regsit vir my seun se hond! Later het ek sy bedjie in die son gesit, sy kombersies en winterjassies gewas en opgevou. Alles staan nog netso in die waskamer en elke keer as ek daar verby loop kry ek ’n knop in my keel! Hy was so ’n dapper ou hondjie en het nog vir oulaas ’n plas op die veearts se vloer gemaak en gegrom toe die naald in sy pootjie ingaan. Soos hy geleef het, so het hy gesterf … altyd paraat, altyd gereed vir aksie, al kon hy nie meer een voet voor die ander sit nie …

Nou gaan die siklus voort. My seun het ’n jong hond en my dogter en haar man ook. Saterdae gaan hulle hondeskool toe en ek word gereeld gebel om te vertel hoe slim die diere is! Ouma sal maar regstaan om die viervoete op te pas totdat, wie weet, daar dalk ’n pienkvoet is!

Groetnis

Perdebytjie