Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Abel Pienaar gee sy mening oor die Jesus Seminaar


Abel Pienaar - 2011-05-31

Abel Pienaar reageer op die artikel “Die Jesus Seminaar vier sy eerste kwarteeu: nabetragtings van ’n buitestander” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Sakkie Spangenberg.

Sowat nege jaar gelede het ’n paar Bybelwetenskaplikes, onder andere Sakkie Spangenberg, besluit om Suid-Afrikaners bekend te stel aan oop gesprekke oor ’n nuwe hervorming binne die Christendom. Dit het veral gegaan oor ’n kritiese interpretasie van die Bybel en die ortodokse siening van God en godsdiens.

Sakkie Spangenberg en sy mededenkers het in hulle nuut-dink en dekonstruksie direk aangesluit by die idees van “nuwe hervorming” wat reeds sterk in Europa en die VSA teenwoordig was. In die VSA veral was daar ’n belangrike rolspeler wat na vore getree het: die Jesus Seminaar. En hulle hoofdoelwit was om godsdienstige geletterdheid in die VSA te bevorder. Dit het natuurlik vir ons in Suid-Afrika baie gehelp met ons eie proses van eietydse soeke.

In Spangenberg se artikel “Die Jesus Seminaar vier sy eerste kwarteeu: nabetragtings van ’n buitestander” laat hy ons bietjie kyk na wat en hoe daar gevorder is met die oop religeuse gesprek tot nou. En dit help ons om ons eie vordering te evalueer.

Natuurlik is Spangenberg nie regtig ’n buitestander soos sy artikel se titel aandui nie. In nasionaliteit, ja – hy’s ’n Suid-Afrikaner en die Jesus Seminaar-groep is hoofsaaklik Amerikaners – maar in denke en oriëntasie is hulle van dieselfde plek. 

Daarom was ek baie nuuskierig om te lees wat Spangenberg se belewenis was rondom die Jesus Seminaar se groei en vordering die afgelope 25 jaar. Ek wou graag sien wat die Jesus Seminaar kon vermag binne die konteks van die na-oorlogse VSA, waar fundamentalisme en konserwatiewe Christen-groepe al meer politieke mag verkry het. Veral omdat daar parallelle getrek kon word met ons konteks van na-apartheid-Suid-Afrika en die fundamentalistiese groepe wat ook hier al meer politieke mag verkry.

In die VSA, soos hier in Suid-Afrika, het die godsdienstige ongeletterdheid ook daartoe gelei dat kinders en volwassenes hoogs beïnvloedbaar staan voor ideoloë en onrealisties omgaan met hulle werklikheid. Net soos daar, het dit ook hier gelei tot ’n onkritiese navolging van regeerders en politici as “God se gesalfdes of instrumente”.

Spangenberg se artikel bespreek die Jesus Seminaar (en die Westar Instituut) binne hulle konteks; dit is net jammer dat hy nie die parallelle met Suid-Afrika meer bewustelik en doelbewus uitgelig het nie. Want net soos in die VSA is ook hier in Suid-Afrika die beste manier om Christelike fundamentalisme teen te gaan, om mense van vroeg af te voorsien van kennis oor die Bybel en die oorsprong van die Christelike godsdiens.

Die vraag wat ek het, is: Het hulle of ons daarin geslaag?

Robert Funk, wat as die vader van die Westar Instituut en die Jesus Seminaar beskou word, het wel gehelp dat vele Bybelwetenskaplikes en teoloë in Europa en VSA uit hul studeerkamers kom en die markplein begin betree. Vele boeke en publikasies het as gevolg daarvan die lig gesien. 

Dink maar net aan skrywers soos Marcus J Borg (een van die lede van die Jesus Seminaar), biskop John Selby Spong, Don Cupitt, Lloyd Geering en Andries van Aarde se gewildheid, ’n bewys dat al hoe meer mense ontvanklik geraak het vir hierdie nuwere kennis en insigte. 

Dit kon egter nie naastenby kers vashou by die gewildheid van konserwatiewe Christene en fundamentalistiese skrywers en hulle publikasies nie. Hierdie skrywers het ook die Jesus Seminaar en sy idees (veral oor die navorsing oor die historiese Jesus) as van die bose uitgemaak en het die Seminaar se bevindings met mag en mening deur tradisionele geloofstandpunte teengestaan.

Spangenberg kom tot die gevolgtrekking dat die Seminaar wel suksesvol was in sy doelwit om godsdiensgeletterdheid te bevorder. Ek hou van sy optimisme, maar vermoed dat daar in die realiteit nie regtig ’n groot skuif gekom het nie. Ek dink die realiteit is veel eerder dat ons wat identifiseer met die Seminaar se doelwitte, nes hulle ook, nog nie die groter publiek kon bereik met die boodskap van ’n eerlike, oop, kritiese en eietydse denke nie.

Alhoewel ons leef in ’n globale wêreld waar die diversiteit van tale, kulture en godsdienste deel is van die realiteit van elke dag, is die gemiddelde mens nog geslote en onkrities in sy of haar denke rondom God en godsdiens. Daar is ook in die Christendom nog min beweging weg van die meesterverhaal van “sondeval, verlossing en eindoordeel”. 

Binne die Christendom word die Christelike godsdiens nog as die enigste ware godsdiens gesien en word die Bybel nog as die onfeilbare woord van God gelees. Bitter min van die godsdiensgeletterdheid is sigbaar by die deursnee-Christen: letterlike interpretasie van byna alle Bybeltekste is nog orals aan die orde van die dag. 

Spangenberg noem ook dat daar tydens die 25-jarige feesvieringe in Oktober 2010 aangekondig is dat die Seminaarlede hulle die volgende paar jaar met die vraagstuk van God gaan besig hou. Hulle noem dit “The God Seminar” – ek hou daarvan. Dit wys vir my dat hulle ook besef dat voordat die prentjie van God in mense se koppe nie verander nie, die res van hulle navorsing en doelwitte nie gaan slaag nie.

Hulle betree egter nou ’n gevaarlike terrein. Want nou word teïsme vierkantig op die tafel geplaas en uiteindelik sal hulle dit moet dekonstrueer tot by ’n plek van postteïsme of ateïsme. Interessante tye lê voor. Hierdie oop gesprek vra eerlikheid, sensitiwiteit en “guts”. Ek's egter baie opgewonde oor hierdie wending.

Ek is dankbaar vir Spangenberg se artikel, want hy help ons om weer te besef dat, net soos die Jesus Seminaar in die VSA nog baie werk voor het om hulle mense godsdienstig geletterd te kry, ons hier in Suid-Afrika dieselfde uitdagings, en dalk meer, het om ons mense te help om eietydse, oop, verantwoordelike en “volwasse” Christene te word.

Hierdie artikel gee my hoop en terselfdertyd maak dit my opgewonde om te sien hoe die openbare religieuse gesprek wel momentum kry. En ek besef nou dat die Jesus Seminaar ’n belangrike rol gespeel het in die oop gesprekke wat deur die Nuwe Hervormingsnetwerk begin is en wat nou ook deur die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit en projekte soos Monoloog vir Dialoog verder geneem word.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<