Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 01/06/2011: Die dag van die groot skrik ...


Namib - 2011-05-31

Ry nou annerdag in Damarland vir kwaadgeld rond (weet julle hoe mooi is ons land nou?) en daar langs ’n kampvuur hoor ek die storie van ’n ene Oom Awel wat so ’n versigtige man was wat so lekker kon skrik. Niemand het egter sommer met hom oor die skrikkerasie gek geskeer nie want hy was ’n gerespekteerde man in sy gemeenskap en daarby nog legendaries sterk ook en kon ’n man dan dalk op sy moer kry as hy vir die oom loop staat en kwaad maak. Maar dinge gebeur mos maar in die lewe en sy kleinseun wat die storie met smaak vertel, dié kan dit nie doen sonder om te lag dat die trane loop nie:
Oom Awel en twee van sy seuns was met hulle ou lorrie, wat veels te swaar gelaai was met ’n vrag pak-klip wat hulle gaan laai het in die veld om nuwe krale naby die opstal te gaan bou. Agterop was die vyf “laaiers” wat dan ook saamgery het. So karring die ou lorrie langsaam teen ’n bult uit en dis toe dat hulle ’n snaakse geluid onder die lorrie hoor en Oom Awel kry dadelik die gedagte van daai “proshaft” se “bearings” wat hy so bietjie nagelaat het om te ghries laaste keer, wat nou protesteer. Toe hulle die eerste gelyktetjie tref, gee hy die opdrag vir stilhou en sommer dadelik klim hy uit en gly onder die lorrie in ... hy wéét dan mos nou wat die probleem is. Hy vat-vat so om te voel aan daai “universal” toe die eintlike probleem sy kop uitsteek. Die regteragterband wat al sy beste dae gehad het, onder hierdie magtige vrag van klip, besluit hy het genoeg gehad met die lewe en tree uit diens uit met een moerse geknal. So tussen die moerse stofwolk wat ontstaan, kom Oom Awel onder daai lorrie soos ’n koeël uit ’n geweer uitgeseil en hy kom so in een beweging op sy voete en laat waai die veld in. So op ’n ampere 50 meter verder, toe sy asem beginne kort raak, kom hy tot verhaal, briek en kyk agtertoe en skree: "Wat die donner was dít??"

Namib