Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Christo Lombaard gee sy mening oor die Jesus Seminaar


Christo Lombaard - 2011-05-31

Christo Lombaard1 reageer op die artikel “Die Jesus Seminaar vier sy eerste kwarteeu: nabetragtings van ’n buitestander” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Sakkie Spangenberg.

Oor Bybelinterpretasie sit Spangenberg se turf, en myne:

  • Ons albei is krities oor hoe mense die Bybel gebruik, en ons wil historiese stippellyne natrek om aan te dui, as sake verkeerd geloop het, waar en hoe dit gebeur het.
  • Ons albei wil die wêreld van nou ’n beter plek maak deur hierdie foute uit te wys en beter weë voor te stel.

So ’n ingesteldheid maak egter altyd dieselfde twee probleme los:

  • om die antieke wêrelde waarin die Bybel tot stand gekom het en eeue later fundamenteel-invloedryk geïnterpreteer is, op geldige wyse sosiologies in verband met vandag te bring; en
  • om te weet hoe om dan nou beter te wees, want om vrot kos of selfs net melkkossies uit te wys, is altyd makliker as om iets gesonds en voedsaams op die tafel te plaas.

Omdat ons ook maar mens is, is albei laasgenoemde take onmoontlik om goed te doen.

Daarom sit ons turf. Die breedheid van eksegetiese, teologiese, algemeen- en kerkhistoriese, filosofiese, sosiologiese, sielkundige en ander insigte wat benodig word om iets geldigs te kan sê wat hierdie punte raakvat, vra net te veel. Selfs al sou ’n super-akademikus dit ’n keer kon regkry, sou dit ook maar net op ’n manier wees: hy/sy sou werk met die insigte van sy/haar tydsgleuf. Môre, oormôre is die geldigste uitlating van vandag daarom – húlle taal oor ons … – maar net nog ’n dom dogma2 uit die verlede, omdat die arme bloedjies ook maar nie anders kon nie.

So sít ons turf.

Tog bly mense soos Spangenberg, en ek, aanhou analiseer wat met die Bybel gemaak word – goed én sleg – en bly ons aanhou probeer om beter weë voor te stel.

Hoekom hardkoppig bly analiseer, interpreteer, weer probeer? Die alternatief sou wees om in te gee, sodat die oorweldigend-gewilde swak Bybelinterpretasies onuitgedaag bly. (Die onlangse wêreldeinde-voorspellings wat uit Bybeltekste uitgewurg word, is maar een voorbeeld.) Wat Bybelwetenskaplikes doen, is dus eties gegrond: ons wil mense, en die samelewing, bevry van veral skadelike, of ook andersins ongeldige, Bybelinterpretasies. Binne die driehoeksinteraksie van die populêre synsraamwerk waar God, Bybel en gelowige mekaar diepgaande raakpraat, wil baie Bybelwetenskaplikes dus ’n swak sodanige driehoeksinteraksie ondermyn. (So ’n ingesteldheid op samelewingsdiens loop direk parallel aan wat ekonome, ingenieurs, taalkundiges, kunstenaars en dies meer in die samelewing probeer regkry.) Hierdie is daarom ook onontkomelik ’n teologiese oefening: ons wil beter oor God kan praat, miskien selfs wil ons God beter napraat, as die Bybelinterpretasies en geloofsuitinge waarvan ons die mankemente raaksien. So ’n etiese en teologiese roeping bly maar altyd ’n randverskynsel. Jou ondersteunersgroep (“fan club”) is klein. Die waagmoed wat dit vra, is dienooreenkomstig groot.

Tog doen Bybelwetenskapilkes – dié wat wil – hierdie ding verskillend. Ook maar net sowel, want ten minste sal ons geskiedenisskrywers in die toekoms, as hulle goed is, kan raaksien dat ons mekaar nie heeldag staan en warmvleg het in ons minderheidsinterpretasies nie. Ons kan góéd van mekaar verskil. Al sê kritici van hierdie intellektuele werk soms, arms omhoog gegooi: “Maar waar laat dit ons nou, as selfs die kenners nie kén nie?”, sou die teendeel iets geheel terneerdrukkends wees: dat akademici wat op die rande van die menslike verstaansafgronde beweeg, máák of hulle alles weet, finish en klaar.

So verskil ek en Spangenberg ook.

Spangenberg3 is baie vromer as ek. Hy bid meer, en mooier, as ek. (Van dié kant van Spangenberg kan sy grofgeskut-kritici maar gerus kennis neem.) Hy het juis daarom nog hoop: dat ’n beter verstaan gevind, en wyd aanvaar, sal kan word. Daarvoor het hy ook ’n instrument: die vlymskerpe rede. Spangenberg gebruik intelligensie en logika om deur nonsens (eintlik: non-sens) te sny, om uit te wys waar die geloof nie sin gemaak het nie, of nie meer sin maak nie. ’n Meer rasionele benadering tot geloofsake sal vir ons ’n beter geloofslewe oplewer. Gesuiwer van die stowwerighede (“fuzziness”) waarmee die Christelike geloofsgeskiedenis ons dikwels opgesaal het, sal ons die geloofsperd beter, en bloots (ongeveinsd), kan ry. Die kop bring ons “nader, my God, aan U”. Hierdie is ’n vroomheidsingesteldheid wat baie opreg is; wat intens-harde lees- en dinkwerk verg; wat hoop om deur klaarheid van interpretasie, bewus van al die probleme wat daarmee gepaard gaan, te dring tot ’n intieme saamleef met God. Ek dink, daarom glo ek.

Dit is op presies hierdie punt dat ek van Spangenberg verskil. Al gebruik ek ook die kop, vertrou ek dit nie. Al gooi ek my (ligte) gewig volledig in by die Aufklärungsprojek, om my rede in te span om die antieke geloofsgeskiedenis raker te sien, om die interpretasiegeskiedenis van die Bybel beter te verstaan, om moderne geloofsuitdrukkingswyses dieper te begryp – al doen ek al daardie dinge intellektueel, vertrou ek die rede nie. Om die metafoor dalk te ver te druk: al wat ek as akademikus het, is my kop; al wat ek as (ver)Westerse Christen het, is my verstaansraamwerk; maar al kap iemand my kop af, sal ek steeds bly glo.

Die vertroue op die rede om vir ons die geloof in ons tyd te máák werk (omdat ons, onverklaarbaar, eksistensieel daartoe gedronge voel) is naamlik, vir my, net so sterk ’n mitologiese oefening as wat ons telkens in die geloofsgeskiedenis vind:

  • as, byvoorbeeld, antieke Israel in die laaste halfmillennium voor Christus ’n grootse Mosesfiguur probeer konstrueer om hulle Jahwismes te probeer verenig
  • as, byvoorbeeld, die eerste-eeuse Christelike kerk wondergeboorteverhale rondom Jesus van Nasaret probeer konstrueer om aan hulle tydgenote te bewys: maar hy is Hy
  • as, byvoorbeeld, die na-Konstantynse kerk ’n allemintige hiërargiese Gods- en kerkbeeld daarstel om die Westerse wêreld as ewige Godstad/Godstaat te probeer verstaan
  • as, byvoorbeeld, Suid-Amerikaanse en Afrika-teoloë sedert die middel van die vorige eeu ’n God soek wat minder Europees en meer revolusionêr is, wat onderdrukkende samelewingstrukture wil vernietig
  • as, byvoorbeeld, ’n kunstenaar of prediker in ons tyd Jesus probeer skets as iemand wat MIV-positief is, om sodoende iets oor dié pandemie van ons tyd te probeer sê;

dan

  • is al daardie interpretasies ewe geldig, daarin dat dit ’n Godsverstaan vir ’n spesifieke samelewings- en tydsgleuf probeer verwoord

en dan

  • is al daardie interpretasies ewe ongeldig, daarin dat dit in ’n (doelbewuste/onbewuste) poging om kontekstueel-relevant te wees, ’n Godsverstaan wat hoogstens vir ’n blitsige oomblik diepgaande kan sin maak, ’n rakleeftyd gee wat dan daarvan maar net weer dooie dogma maak.

Ditto, IK.

Die rede kán, maar kán nie, my geloof red nie.

Al vereenselwig ek my hart en siel met die Westerse kultuurprojek waarbinne die intellek alles pák, al maak ek ’n lewe daaruit en vind ek my sin daarbinne, vertrou ek dit nie. Ek is dus dom genoeg, en slaaf van my tyd genoeg, om vir hierdie kultuurtrajek te val. Maar ek is net-net bangbroek genoeg om nie te dink dít is die alles, die hoogste, die beste nie.4

Dus:

  • Die rede is dood; lank lewe die rede.
  • Die rede gee lewe; lank lewe die dood.

Dit behoort uit bogaande duidelik te wees dat ek dit nie sê omdat ek ’n afkop gelowige, ’n zombie, is nie: ek glo nie onnadenkend, onintellektueel, onkrities, onbevraagtekenend nie. Juis deur die denke heen, omdat daardie denke my wys dat dit alles niks is nie (à la Prediker, en die Franse eksistensialistiese filosowe), bly God die moontlike, buite-om en bo-oor dit alles.5

Binne my chaotiese intellektuele hedonisme lyk die driehoeksverhouding van hier bo só:

  • Onkenbaar, maar onontkenbaar, is God.
  • Onverwoordbaar, maar verwoordend, is die Bybel.
  • On-gelooflik, maar nie ont-God nie, is ’n gelowige.

Miskien is mistiek maar die woord om so ’n interaksie te benoem?

So nie, help my met ’n ander benaming.

Anders sit my turf maar net weer.

 

Eindnotas

1 Christo Lombaard doseer Christelike Spiritualiteit aan Unisa.

2 Ek is baie onregverdig met die gebruik van die woord dogma hier. Dogma beteken gewoon “leerstuk; samevatting van geloofsinhoude”. Dit verdien na regte nie die negatiewe konnotasie wat dit in die spreekwoordelike volksmond gekry het nie. Maar nou, om daardie negatiewe emosies gekoppel aan tradisionele kerkleer wat populêr as verouderd, afgeleef, uitgedien beskou word, te verwoord, gebruik ek maar dié woord ook so hier. Met apologie.

3 Kollega Spangenberg, ek probeer jou gelowig-intellektuele binnegoed hier verwoord. Ek probeer diep kyk en raaksê, maar my oë is sleg en my woordeskat min. As ek jou mislees, help my op ’n keer beter verstaan.

4 Gelukkig het die Grieks-Westerse denke inherent aan homself die vermoë dat dit op sigself kan keer, om die eie kortsigtighede raak te sien. Dit kan sigself nie keelaf sny nie: daarvoor is die Westerse denke te hardnekkig. Maar hierdie kultuurprojek het spieëlmomente, waartydens dit sigself in glorie en fout kan raaksien. As ons dít saam kan besef, koekeloer ons vir ’n wyle in daardie spieël. Soos nou.

5 Ek kan die ateïsme se waarheidsaanspraak daarom nie aanvaar nie; om dieselfde rede (dus omdat dit op presies dieselfde kultureel-gebonde waarheidsaansprake berus) is die fundamentalisme vir my bloot valse waarheid.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<