Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Pirates of the Caribbean – Jack Sparrow sit geen voet of haak verkeerd nie


André Crous - 2011-05-31

Regisseur: Rob Marshall
Kamerawerk: Dariusz Wolski
Rolverdeling: Johnny Depp, Penélope Cruz, Ian McShane, Geoffrey Rush
Looptyd: 135 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 20 Mei 2011


Glo dit of nie, hierdie is my gunstelingfilm van Rob Marshall, wie se aartstylvolle Chicago en Memoirs of a Geisha ek nie kon verdra nie. Dié vierde aflewering van die reeks oor seerowers met maskara – eintlik net een: die weergalose Jack Sparrow – is nou wel nie so goed soos die eerste een nie (wat nou al voel soos dekades gelede: dis uitgereik in 2003), maar dit bied soliede vermaak vir ’n goeie twee uur lank. Hoewel Orlando Bloom en Keira Knightley ongelukkig nie meer deel is van die vermaak nie, staan Penélope Cruz haar man verbasend goed; haar karakter gee aanvanklik voor om Jack Sparrow te wees en hierdie gender bender sal sorg vir breë glimlagte. Ook die aksietonele is geskoei op vroeëres en selfs al het die robuuste orkesmusiek van Hans Zimmer min verander in die loop van die vier films, bied dit steeds dieselfde oordrewe woema aan die aksie, soortgelyk aan die James Bond-films.

Die regie en die redigering is aan die begin effens lomp; daar word byvoorbeeld onnodig lank gedraai voordat Cruz se karakter se ware identiteit onthul word, terwyl die dekor en beligting beter gebruik kon word. Die visuele effekte is soms ook nie heeltemal so goed soos wat ’n mens van hierdie tipe kommersiële film sou verwag nie, maar grotendeels is dit voldoende.

Johnny Depp se Jack Sparrow is sy karakter van ’n leeftyd en hy sit nie ’n voet of ’n haak verkeerd nie. Die film se narratief is bra dun so tussen al die gevegte en bombastiese musiekstukke deur en hoewel laasgenoemde groot plesier verskaf in die oomblik, los dit die kyker nie met ’n gevoel vir die oorkoepelende verhaal nie. Ons het te make met ’n sprokie, vol meerminne en ’n "fontein van ewige jeug", wat die film ’n klimaks gee soortgelyk aan dié van Indiana Jones and the Last Crusade. En binne die raamwerk van so ’n fantasie is alles seker goed en wel vir ligte vermaak – die film is veel beter as sy voorganger, maar daardie eerste film van die reeks, jare gelede, bly steeds nommer een.