Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: De la Rey Marais gee sy mening oor die Jesus Seminaar


De la Rey Marais - 2011-05-30

De la Rey Marais reageer op die artikel “Die Jesus Seminaar vier sy eerste kwarteeu: nabetragtings van ’n buitestander” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Sakkie Spangenberg.

Agtergrond

Spangenberg lewer in sy artikel verslag oor die 25ste bestaansjaar van die Jesus Seminaar te Kalifornië van 13 tot 16 Oktober 2010. Alhoewel hy as buitestander inkyk op die doelstellings, werksaamhede en uitkomste van die Jesus Seminaar, raak hy ook betrokke deur ons van die hedendaagse konsekwensies van sy gewaarwordinge bewus te maak. As leergeleentheid staan hoofsaaklik die ondergenoemde ses aspekte van sy artikel uit:

1.  die doel en werksaamhede van die Jesus Seminaar
2.  die invloed van ’n staatsgedrewe (burgerlike) godsdiens op gemeenskappe
3.  die God Jahweh teenoor die begrip Drie-eenheid
4.  die nadelige rol en invloed van godsdienstige fundamentalisme binne gemeenskappe
5.  die noodsaaklikheid van religieuse geletterdheid vir die 21ste eeu
6.  die noodsaaklikheid van ’n verdiepte kritiese benadering tot die interpretasie van die Bybel.

Ek kyk graag saam met Spangenberg na die genoemde kwessies en lewer soms vanuit my eie didaktiese verwysingsraamwerk bykomende kommentaar.

1.  Die doel en werksaamhede van die Jesus Seminaar

In 1985 het die Jesus Seminaar tot stand gekom met die uitsluitlike doel om Bybelse mitologie van die werklike historiese feite van die Bybel te onderskei. Sedert 1985 het die Seminaar die maagdelike geboorte van Jesus, sy opstanding uit die dood, wonderwerke soos vasgevang in die Evangelies en meer as 80 persent van Jesus se leerstellings verwerp as fiksie. Genoemde Bybelse inhoude is verwerp omdat die Seminaar daarvan oortuig was dat die inhoud legendaries van aard is en dat daar nie ’n enkele historiese feit ter ondersteuning daarvan bestaan nie (Wikipedia 2011: Jesus Seminar).

Volgens die Seminaar verloor die Evangelies hul historiese rugsteuning omdat hierdie boeke rapporteer aangaande dinge wat vir die hedendaagse mens as totaal onmoontlik voorkom, byvoorbeeld die onmoontlikheid om uit die dood te kan opstaan of iemand anders uit die dood te kan opwek, op water te kan loop of wyn van water te kan maak (vgl Atwill 2005:1-354; Ehrman 2009:1-283; Harpur 2004:1-218).

Die voorafgaande gee volgens Spangenberg aanleiding tot ’n verdere doelstelling van die Seminaar, naamlik om godsdiens-geletterdheid in die VSA te bevorder, bloot om mense te beskerm teen godsdienstige en politieke opruiers, kwaksalwery en uitbuiting.

2.  Die invloed van burgerlike godsdiens op gemeenskappe

By wyse van konteksskepping aangaande burgerlike (etniese) gode, godsdienste en handelinge verwys Spangenberg op ’n baie insiggewende wyse na die boek Daniël en verduidelik hy hoe fundamentalistiese Christen-groepe die betrokkenheid van die VSA in die Midde-Ooste verwar met die stryd tussen die ou Grieke en Perse. Darius bedank, volgens die Bisitum-inskripsie, sy god Ahura Mazda vir sy oorwinning oor die rebelle, terwyl George Bush I in 1992 God bedank vir die val van die Oos- en Wes-Berlynse muur.

Met bostaande in gedagte verduidelik Spangenberg dat uitsprake binne godsdienstige verband dikwels die oorsaak kan wees van polarisasie, aangesien “my of ons God” teenoor “jou of julle God” gestel word. Dit kan die persepsies laat ontstaan dat “my God” beter is as “jou God”.

Die gedagte dat burgerlike of etniese gode ook bepaalde unieke en voorskriftelike wense sou kon openbaar, kom onwillekeurig by my op. Ek dink aan die baie voorskriftelike en diskriminerende wyses waarop daar byvoorbeeld in die naam van godsdiens teenoor vroue en kinders opgetree word. Die gebruik van bisarre godsdienstige rituele kan ook hierby ingesluit word (vgl Walker 2010:1-290).

Spangenberg verwys tereg ook na Suid-Afrika se geskiedenis van rassediskriminasie (apartheid) en die samespel tussen godsdiens en politiek gedurende dié tyd.

3.  Die God Jahweh teenoor die begrip Drie-eenheid

Dit is opvallend dat daar vir een Opperwese so baie verskillende name in die Ou Testament gebruik word. Hierdie name word vertaal met neutrale aanspreekvorme, naamlik: Here (Jahweh en Adonai) en God (El, Eloah en Elohiem). In hierdie verband is Elohiem (die verhewe skepper van die heelal) en Jahweh (die persoonlike God wat ’n verbond met die mens sluit) van belang. Elohiem (Arabies Allah) is tans die God van Islam. Die Hebreeuse Jahweh (Here) word die meeste in die Ou Testament genoem en word ook aanvaar as die God van die Bybel en Jode. Met die tyd is al hierdie name van gode op een hoop gegooi om sodoende monoteïsme na te streef.

Wat die Drie-eenheid betref, glo baie dat hierdie konsep uniek is aan die Christelike geloof. Dit is egter deur die Christendom oorgeneem uit ander gelowe en is totaal vreemd vir die Joodse kultuur. Drie-enige gode kom andersins in die meeste kulture, soos dié van die Grieke, Romeine en Germane, voor.

Met voorgaande as agtergrond toon Spangenberg aan dat die God van die Bybel (Jahweh) dus geensins die God van die Drie-eenheid (God van die Christelike belydenis) is nie. Hierin sien ons ook die rede vir godsdienstige konflik tussen die Christelike en vele ander gelowe.

Met die belydenis van die Drie-eenheid plaas Spangenberg ook weer eens ’n vraagteken agter die aanspraak van die Christendom op monoteïsme.

4.  Die nadelige rol en invloed van godsdienstige fundamentalisme binne gemeenskappe

Godsdienstige fundamentalisme kan gesien word as ’n vaste en onaantasbare lewensingesteldheid teenoor bepaalde gelowe en oortuigings. Die oorheersende denkwyse van die fundamentalisme is dat hulle oor ’n sentrale heilige skrif beskik wat in alle opsigte onfeilbaar is. Die letterlike vertolking van hierdie heilige geskrifte is ononderhandelbaar. Hulle maak ook beswaar teen enige vorm van vernuwing van hul geloof (Marais 2011:9). Spangenberg dui aan dat hierdie aanspraak van godsdienste dat hul alleen die “waarheid” sou kon hê, vir die doel van goeie verhoudinge deur elkeen hersien behoort te word. Hy dui ook aan dat konserwatiewe evangeliese geloof en ingesteldheid aanleiding kan gee tot bepaalde politieke optredes, wat tot groot nadeel kan wees vir die mense wat daarby betrokke is.  

5.  Die noodsaaklikheid van religieuse geletterdheid vir die 21ste eeu

Die 21ste eeu het meegebring dat mense in die algemeen die tradisionele godsdienste bevraagteken. Verbeterde wêreldwye kommunikasie, veral deur die elektroniese media, asook die gepaardgaande kennisontploffing, het moontlik hierdie verskuiwing in ingesteldheid veroorsaak (Onfray 2008:1-246).

Veral die intellektuele sekularisme haal die mitologiese en godsdienstige inligting uitmekaar en gee nuwe betekenisse aan die “verborge strukture” daarvan. Daar word dus ontslae geraak van gode, gelowe, kerkisme en dogma (Marais 2011:12).

Met die rasionele en doelbewuste dekonstruksie van dogmas en gelowe aan die orde van die dag is dit volgens Spangenberg noodsaaklik dat hierdie proses vinnig moet plaasvind, bloot om mense te beskerm teen godsdienstige indoktrinasie met die doel om die massas onder die juk van byvoorbeeld skadelike ideologieë te bring.

6.  ’n Verdiepte kritiese benadering tot die interpretasie van die Bybel

Schutte (2011:2) laat hom in sy brief “Bybel deur mense gekanoniseer” soos volg uit: “Baie kerklidmate glo lankal nie meer alles wat in die Bybel staan nie. Hulle het dus spontaan vir hulself ’n kleiner kanon in die groter kanon geïdentifiseer vir eie gebruik.”

Samevatting

In sy geheel sien ek Spangenberg se artikel as insiggewend en van besonderse belang vir die godsdiens van die 21ste eeu. Hy lewer goeie verslag oor die Jesus Seminaar en die situasie van veral fundamentalistiese godsdienstige denkwyses in die VSA. Hy toon ook die voortspruitende probleme wat die VSA hierdeur beleef, vir die leser aan.

Spangenberg slaag daarin om in min bladsye ’n magdom inligting saam te vat. Sy bibliografie is omvangryk, wat meebring dat die leser voorsien word van ’n magdom addisionele inligting.

Hy sluit 23 eindnotas in wat verdere waardevolle konteks aan die onderwerp verleen. Hierdie insigte maak dit vir die leser baie makliker om Spangenberg se gewaarwordinge op ons hedendaagse godsdienstige situasie in die RSA in verband te bring.

Ek wens Spangenberg geluk met ’n baie relevante artikel vir ons tyd.

Bibliografie

Atwill, J. 2005. Caesar’s Messiah. The Roman conspiracy to invent Jesus. Berkeley CA: Ulysses Press.

Ehrman, B. 2009. Jesus, interrupted. Revealing the hidden contradictions in the Bible (and why we don’t know about them). New York: Harper Collins.

Harpur, T. 2004. The pagan Christ. Is blind faith killing Christianity? New York: Walker & Company.

Jackson, J.G. 1985. Christianity before Christ. New York: AA Press.

Marais, D. 2011. “Post-moderne godsdiens, kritiek en sekularisme”. Midrand: Toespraak by die NHN.

Onfray, M. 2008. Atheist Manifesto: The case against Christianity, Judaism, and Islam. New York: Arcade Publishing, Inc.

Schutte, F. 2011. Bybel deur mense gekanoniseer. By, 14 Mei 2011.

Walker, B.G. 2010. Man made God. A collection of essays. New York: Stellar House.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<