Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 27/05/2011: B-graad lewens


Adriaan - 2011-05-26

Soms wens jy die lig wil jou meer genadig wees met ‘n invalshoek wat die hele meganisme wat jy ‘n lewe noem soos ‘n Vermeer vasvang. Jy sien jouself huiwer in ‘n kombuis, ‘n ongewillige rat, dalk tussen pype sonder gewete. Jy in een hoek teenoor ‘n skommelende wasmasjien in die ander. Die dag kolk soos ‘n Roger Ballen wolk doringdraad bo jou kop. Die agtergrondmusiek jaag jou gevoelens op hol. Jy lees weer die gebruiksaanwysings van jou verjaarsdaggeskenk om te kyk wat skort want die geheim tot ‘n B-graad lewe is alles in die fyn skrif. Dit wat niemand op ag slaan nie en selfs die held net-net te laat kleinkry. Die masjien het meer geword as net die ding met die knoppies wat die klere skoon uitspoeg. Gesamentlik vorm julle die meganiese dierasie van wat jy veronderstel is om te wees. En soos enige toneel in ‘n B-graad lewe wat opbou tot breekpunt tree die held na vore om iets verdomp onnosel kwyt te raak soos: “Wanneer skuur ons weer skaambene?”

By die werk wag ‘n brief vir jou van Die Knop Ster. ‘n Brief met groot woorde. Jy wonder of iets weer blink gevryf moet word ... Miskien is daar ‘n boek in die pyplyn en daarom die polities korrekte verskyn en verdwyn. Tog is jy so gatvol posduiwe gevoer op straat wat weggevlieg het van die huis. ‘n Huis soos enige ander huis waarin oumas hulle kleinkinders almal kaffertjies genoem het. Dalk ‘n huis met vensters van onversperde lig waar jou ma op haar ma ingeloop het met ‘n ander vrou doenig en julle, julle troetelname soos ‘n taal afgesweer het.

Of in ‘n ander deel van die wêreld (want dit is wat aksiebelaaide B-graad lewens doen, dit flits van een niksseggende raam tot die volgende) wag jy op jou vrou met ‘n bierblaas wat wil bars en jou DRUGSMART CUP wat die tyd dophou. Net sodat twee strepies vir die soveelste keer kan getuig dat jou pis THC/COC/AMP/MET/OPI/MDMA skoon is. Net sodat jy die 25/05/2011 op die prop kan aanbring want dit wat jy het sal jy nooit weer op die spel plaas nie.

Dan besef jy die fabel het met die louere weggestap en die waarheid kry ‘n troosprys.

Adriaan