Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Vals alarm – eindtyd kom en gaan. Wat nou?


Alta Pretorius - 2011-05-26

Untitled Document

Noudat die sogenaamde Eindtyd van 21 Mei 2011 gekom en gegaan het en die aarde draai nog steeds, wat nou van die volgende verdoemingsdatum?

Miljoene mense het regoor die wêreld gewonder of daar dalk waarheid kon steek in die voorspelling van Harold Camping, wat ’n fortuin spandeer het om die nuus te versprei dat 21 Mei 2011 D-dag sou wees.

Camping, ’n 89-jarige afgetrede siviele ingenieur, het ’n multimiljoendollar-medianetwerk geskep – hoofsaaklik danksy skenkings van sy aanhangers. Sy radiostasie Family Radio Internationalhet voorspel dat 200 miljoen mense op 21 Mei 2011 deur “wegraping” gered sou word en dat dit sou saamval met die wederkoms van Jesus na die aarde. Die res van die ongelowiges sou in die volgende paar maande tot Oktober 2011 geleidelik sterf weens aaklige rampe en siektes.

Die boodskap is in 61 tale uitgesaai en meer as 5 000 reuse-advertensieborde is versprei om die boodskap te verkondig. Hoe nader dit aan die datum gekom het, hoe meer mense het nog donasies geskenk, van hul besittings verkoop of weggegee, probeer seker maak dat hulle geestelike lewe in orde is en opgewonde gewag om weggeraap te word van hierdie wrede wêreld. Camping se skatkis het snel gegroei.

Die Eindtyd sou glo begin omstreeks 6 nm Amerikaanse tyd op Saterdag 21 Mei 2011 en die eerste tekens sou vernietigende aardbewings in Nieu-Seeland wees.

’n Feestelike atmosfeer het geheers rondom die radiostasie, waar aanhangers in godsdienstige kostuums gedans en gesing het. Ander het verkies om tuis voor die televisiestel vasgenael te sit om die eerste tekens eerstehands te kan waarneem.

Maar helaas! 21 Mei het gekom en gegaan en geen noemenswaardige rampe het die aarde getref nie.

Mense wat hulself fisies en geestelik daarvoor voorberei het, was verslae en kon nie verstaan waarom niks gebeur het nie, al het Camping se vorige Eindtydvoorspelling van 1994 ook nie waar gekom nie. Hy het immers gesê hierdie keer sou dit ongetwyfeld die ware Jakob wees. Hy het kwansuis bewyse in die Bybel gevind om sy voorspelling te staaf.

Intussen wys Bybelkenners daarop dat Jesus dit in Matteus 24:3 duidelik stel dat selfs Hy nie weet wanneer die Eindtyd kom nie: “Niemand weet wanneer daardie dag en uur sal kom nie, nie die engele in die hemel of die Seun van die mens nie. Net die Vader weet dit.”

Vreemd genoeg was Camping nêrens te sien die dag na die mislukte voorspelling nie. Van sy aanhangers bespiegel nou dat hy dalk tog weggeraap is, want wat anders sou van hom geword het? Sy radiostasie, wat op www.familyradio.com gehoor kan word, saai nog steeds uit, al sê die webtuiste daar is 0 dae oor voor die Oordeelsdag. Die program om 6 nm Sondag 22 Mei het gegaan oor seksuele ontrouheid en egskeiding. (Matteus 19:9 is aangehaal.)

Natuurlik het die sosiale netwerke soos Twitter en Facebook gegons na die tyd – meesal spottenderwys verwys na die vals alarm wat soveel mense geflous en sommiges finansieel geruïneer het.

Maar wat nou van die volgende verdoemingsdatum wat vanuit ander oorde voorspel word?

21 Desember 2012 word reeds eeue lank aangedui as die éintlike verdoemingsdag. Doemprofete maak seker ons weet dat die Maja-kalender op daardie dag ten einde loop. Tog vreemd dat die Maja-profete egter nie hul eie ondergang kon voorsien nie – reeds eeue gelede!

Gaan ons hierdie voorspelling ook afmaak as maar net nóg ’n vals alarm of doemprofesie wat probeer munt slaan uit mense se naïwiteit?

Of gaan jy met skreeuende remme in jou spore tot stilstand ruk, jou prioriteitslys met ’n nuwe oog begluur en jou lewe naarstiglik begin herorganiseer ingeval dit hiérdie keerwaar is?

As jy, soos die meeste van ons, taamlik skepties is, sal jy maak asof dit jou nie juis traak nie, dog nietemin stilweg begin navorsing doen. Tik op Google “2012 last day” – en siedaar! Binne ’n breukdeel van ’n sekonde doem meer as 100 miljoen verwysings voor jou wydgesperde oë op! Tik dit op YouTube en jy word oorval met die meeste video’s wat nog ooit gemaak is oor iets wat nog nie gebeur het nie!

Nou kan mens nie verhelp om te wonder nie: Behoort ek my daaraan te steur? As miljoene mense alreeds lankal besig is om hul lewenstyl aan te pas ten einde voor te berei vir die sogenaamde einde van die wêreld, behoort ek argeloos voort te sleur met my daaglikse bestaantjie? Sênoumaarnet ...

Wat dink ons eie wetenskaplikes, teoloë en gewone mense daarvan? Hoe raak dit ons hier in Suid-Afrika?

Die eindtydmanie is besig om te borrel en dreig om oor te kook. Afgesien van die Maja-doemprofesie word ander kataklismiese voorspellings knaend onder ons neuse gevryf. Ewe skielik is die nuwe modewoord eskatologie – oftewel die leer oor die laaste dae. 

Dit raak al hoe moeiliker om te ignoreer. Boonop wemel dit van sogenaamde “eindtydtekens” rondom ons.

Doen self ’n proefneming: kyk of jy dit dalkies kan regkry om één dag nuus te kyk of koerant te lees sonder om deur een of meer van die volgende gekonfronteer te word:

  • oproer
  • oorlog
  • hongersnood
  • aardbewing
  • tsoenami
  • vloed
  • vulkaan
  • orkaan.

Sien jy wat ek bedoel? Elke woord laat iets voor jou geestesoog opdoem wat jy onlangs in die media gesien het: aardbewing in Nieu-Seeland, tsoenami in Japan, opstande in die Midde-Ooste, ens.

As jy nou rêrig kriewelrig wil voel, gaan lees Matteus 24:6-8 waar al hierdie dinge reeds twintig eeue gelede voorspel is.

Natuurlik help die sterrekundiges ook nie met hulle vooruitskouings nie. Op D-dag gaan die planete glo hulself in sulke besonderse posisies bevind dat dit uniek sal wees en die aarde se magnetiese veld totaal deurmekaar gaan krap – en dan is die vet in die vuur!

Die pole sal nie meer weet of hulle noord of suid is nie, oseane sal wonder of hulle moet kom of gaan, aardplate gaan mekaar rondskuif, berge sal vuur spoeg van opgekropte benoudheid en die hele aarde gaan sidder en beef!

Die arme mensies sal paniekbevange rondhol met een oog op die sak met noodvoorrade en die ander oog op die naderende planeet Nibiroe wat ons glo gaan tref of rakelings gaan verby swiep.

Selfs die son gaan vreemd optree, en begin nou reeds met sy streke. Dis net die een sonstorm na die ander en NASA kan dit nie meer wegsteek nie, want die aarde word al hoe warmer.

’n Mens kan maar net hoop dat die groot moondhede oor geheime planne beskik om as teenvoeter te dien, maar hoe op aarde gaan hulle, met hulle swak rekords, ’n stortvloed rampe stuit?

So – wat maak ’n mens nou? Besluit jy dis nóú die tyd om maar te vergeet van jou dieet en oefenprogram en soveel smulkos te eet as waarvoor jy lus het? Of soveel geld moontlik te bestee aan al daardie luukshede waarvoor jy tot dusver te suinig was?

Of gaan jy een van die volgende doen?

  • vinnig vrede maak met jou vyande – ingeval die oordeelsdag naby is
  • tyd bestee aan mense vir wie jy omgee, maar afgeskeep het
  • jou ontferm oor mense wat swaarkry en hulle probeer help
  • vir oulaas ’n tas vol ou klere na die plakkerskamp neem
  • geld onder die armes uitdeel.

Hoewel dit wonderlik empaties klink, mag dit dalk ’n onbesonne waagstuk wees, want daar was al soveel eindtydvoorspellings in die verlede wat nie gerealiseer het nie. Wil jy die kans vat om jou naam op 22 Desember 2012 met ’n plank te slaan? Soos Harold Camping waarskynlik op 22 Mei 2011 moes doen na sy duur foutiewe voorspelling?

Skeptici, veral wetenskaplikes, reken dis alles bog.

Johan Brink, ’n kernfisikus wat jare lank aan die WNNR en UNISA verbonde was, sê reguit: “As natuurwetenskaplike is ek baie skepties en my voorspelling is: dit gaan nie gebeur nie!Hoekom sê ek so?

  1. Dis onmoontlik om in die toekoms te kan sien. Selfs Nostradamus het níks pertinent voorspel wat waargekom het nie. Sy kwatryne in brabbeltaal het gelei het tot foutiewe interpretasies, soos die voorspelde bloedbad in Europa in die 1980’s, of dat Suid-Afrika die veiligste plek op aarde is!
  2. Die eindtyd is al duisende kere voorspel, soos nou ook met die Camping-fiasko. Agterna is daar altyd rasionalisasies waarom dit toe nie gebeur het nie. Wat maak 21/12/2012 anders? 
  3. Wat maak die kalender van die Majas kwansuis so spesiaal? Waarom sou dit beter wees as enige ander kalender en verband hou met die einde van die wêreld?”

Dalk is die eindtyd wel op pad, reken Francois Durand van Johannesburg Universiteit, maar dis deur ons eie toedoen en nie as gevolg van buitefaktore nie. Hy sê:

  1. Ons stuur af op ’n mensgemaakte ramp, want ons sal twéé aardes nodig hê om in al die behoeftes van die mensdom binne dertig jaar te voorsien. Na raming gaan daar dan tien miljard mense op aarde wees.
  2. Daar sal geen vis meer wees nie. Ons verloor tans 150-200 spesies per dag. In die middel van die Stille Oseaan is ’n drywende eiland van ’n miljoen vk m rommel wat daagliks deur omliggende kontinente gevoed word (die sogenaamde Great Pacific Garbage Patch).

Durand trek die strop nouer om Suid-Afrika, want:

  1. Binne vyf jaar gaan 85 persent van Suid-Afrika se riviere onherstelbaar besoedel wees.
  2. Suurmynwater met metale soos uraan besoedel tans meedoënloos die grondwater van Noordwes en Gauteng.
  3. Suid-Afrika word oorstroom met miljoene mense van regoor Afrika vanweë die gebrek aan voedsel en water aldaar. Die gevolg? Ons bronne droog ook op.

Skrywers soos Jock Whitehouse en John van Auken beskou dit as ’n wonderlike geleentheid vir die oorlewendes van die Apokalips om saam ’n nuwe en beter werklikheid te help skep. Hulle hoop op ’n goue era sonder versoekings en boosheid – ’n tyd van geestelike vrede.

Hoewel die Bybel deurgaans die laaste dae profeteer, word geen besliste datum aangedui nie. Wanneer Jesus se dissipels Hom vra wanneer die eindtyd sal kom, is Sy antwoord: “Niemand weet wanneer daardie dag en uur sal kom nie, nie die engele in die hemel of die Seun van die mens nie. Net die Vader weet dit” (Matt 24:3).

Clifford Heys, ’n leraar van Onrusrivier, stem saam: "Oor die datum kan ek my nie uitspreek nie. Ek weet nie en Jesus weet ook nie. Ek steur my nie veel aan die doemprofete met hulle datums nie, maar wel aan die naderende dood. Die datum van my dood mag nog voor 21 Desember 2012 wees – en ek wil gereed wees.”

Tot watter slotsom kan mens dus kom? Behoort ’n mens jou te steur aan eindtydvoorspellings?

Wie weet? Net mooi niemand op aarde nie! Almal bespiegel of gee ’n siniese snork van miskenning, maar elkeen moet uiteindelik maar self besluit wat sy siening is.

Gaan jy vir veiligheid noodvoorrade aanhou, jou lewe en verhoudings in orde kry ingeval daar ’n oordeelsdag aan’t komme is, of maar net voortploeter op jou welbekende paadjie? Berus daarby dat Gods water maar oor Gods akker moet loop?

Of gaan jy soos die sabeltand-eekhoring Scrat in die Ice Age-flieks verbete probeer om jou laaste akker te bewaar, al ontketen dit ’n katastrofiese kettingreaksie? Hoop jy om ook in die proses meegevoer te word na die goue poorte van die Akkerhemel?

Dalk moet jy ophou stres oor al hierdie onsekerhede en Heys se eenvoudige voorbeeld volg. Hy sê: ”Ek dra in my baadjie se sak ’n akker waarvan ek voortdurend bewus is – ’n ikoon om my te herinner aan die dood. Maar nie die dood as ‘die einde’ nie – eerder ’n dag van ’n verrassende ontwaking.”
Hy vat dit saam in ’n neutedop:

  1. “Net so min as wat ek bewus is van die oomblik as ek aan die slaap raak, sal ek nie bewus wees van die oomblik van my dood nie.
  2. Net soos ek bewus word van my wakker word met nuwe krag en ’n nuwe dag, sal ek ontslaap en wakker word en bewus wees van ’n nuwe werklikheid.
  3. Die akker ontkiem en groei weer. So ook ek!”


Bykomende bronne

  • www.familyradio.com
  • Ronald Bonewitz: Maya Prophecy
  • Mark Heley: The Everything Guide to 2012
  • Jock Whitehouse: The Ledge of Quetzal
  • John von Auken: DVD Prophecy: Understanding our Times and Beyond
  • Attie Barnard: Fokus op meer as 100 vrae oor die eindtyd
  • Die Bybel: Afrikaanse vertaling 1983