Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Bokomo-brekfisbrief

Bokomo-brekfisbrief; 26/05/2011: Die posman en die brakkie


Johannes Comestor - 2011-05-25

In die oom se lewe het dit skielik aand geword. Hy is darem nog hier en is maar hier rond. Hy wil nie na die radio luister nie. Die platvloersheid en swak Afrikaans irriteer hom. Hy wil ook nie televisie kyk en sien hoe die hordes dans en hoor hoe hulle skreeu nie. Hy verkies om in sy leunstoel te sit en te lees wat hy wil. Van die grootste probleme wat ’n dag oplewer, is om die potlood en die boekmerk op te spoor. Soos Zero Niemand (SêNet, 26.03.2011) trek hy ’n kniekombersie nader, want dit is winter. Hy het ook ’n voetstoeltjie en voel in aardse terme goed toegerus.

Hy het eintlik nie meer kontak met die mensdom nie. Dinge het te vinnig en te veel verander. ’n Mens is jou lewe nêrens meer seker nie. Hy het nie geld om op allerhande ditjies en datjies op die internet in te teken nie. Hy wil nie hier en daar brokkies inligting bymekaarmaak en dit dan dadelik en onverteerd as tweedehandse kennis versprei nie. Hy beskou nie ’n resensie nie en nog minder ’n boekaankondiging oor ’n Ehrman-boek as evangelie (SêNet, 17 deser). Hy lees liewer ’n Ehrman-boek behoorlik en doen dan verslag (SêNet, 2.04.2009).

Hy verkies om eerder substansiële gedrukte werke te lees en die internet net vir aanvullende naslaanwerk te benut. As hy ’n boek klaar gelees het, wonder hy: Wat daarvan? Voorheen het hy om den brode geskryf. Hy het toe agtergekom dat ’n mens moet nadink oor wat jy gelees het en die boek weer so ’n bietjie moet deurgaan en dan moet skryf wat jy daarvan verstaan. Deur op jou eie manier ’n saak te formuleer, verstaan jy beter en jy kan selfs jou eie idees byvoeg.

Dit is dan wanneer hy hom uit die leunstoel oplig en na sy lessenaar gaan en begin tik. Dalk is daar mense "daar buite" (soos hulle graag sê) wat sal lees wat hy skryf. Dikwels is hy verbaas oor wat alles uitkom, maar hy weet nie eintlik wat die buitemense daarvan sal dink nie. Hy gee werklik nie ’n flenter om nie. Dit is immers wat hy dink en dit is goed genoeg vir hom.

Wanneer sy skrywe verskyn, is dit soos die koms van ’n baba na ’n moeilike geboorte. Dit is belangrik dat daar geen gebreke moet wees nie. As die ou man foute gemaak het en hulle is reggemaak, is hy diep dankbaar. As hy opnuut na die teks kyk en nog leemtes ontdek, ontmoedig dit hom. Hy het dan so baie moeite gedoen.

Hy kyk uit oor die see. Hy bly hoog. Dit is omtrent nog net die welsyn wat hom opsoek. Sy sê altyd hy woon na aan die hemel, maar hy dink nie so nie. Sy weet dat hy tevergeefs probeer om hom teen sy prestigelose dood te verskans. Dalk moet hy volgende keer by haar kla oor die vlieg wat te min kere ’n vlinder is. Hy sien ’n bootjie op die see en kyk deur sy verkyker. Op die boot staan geskryf: "Welwillendheid". Daardie boot gaan sink, dink hy. Daar is nie meer welwillendheid nie.

Onder in die straat sien hy die posman. Die posman wil graag die pos ongesteurd aflewer. Hy aanvaar graag konstruktiewe hulp van welwillende mense wat hom help om ten beste boodskappe te besorg. Wat die posman nie verdra nie, is as daar op ’n mislike manier kritiek teen sy beste pogings uitgespreek word. Hy is nie die soort wat vyf of ses keer ’n dag met boodskappies kom wat hy hier en daar geplunder het nie. Hy kom een of twee keer in ’n week wanneer hy boodskappe het wat hy reken die moeite werd is.

Die posman is skrikkerig as iets met substansie, soos ’n rottweiler, hom aanval, maar vir ’n liggewig chihuahua is hy nie bang nie. Hy skop dan met mening, met die doel om seer te maak. Die ellendige hondjie hou dan dae lank aan met tjank. Hy het verskillende name maar is deesdae ’n gelowige Kobus se ongelowige skoothondjie. Dit is in daardie hondjie se gene om moeilikheid te soek. Hy sal dus nie hoor nie en aanhou om skoor te soek en respek in te boet.

Die ou man gaan sit by sy lessenaar en tik: Die posman en die brakkie.

Johannes Comestor