Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

’n Ridder in ons midde: Nederlandse folklore


Carina van der Walt - 2011-05-25

Untitled Document

Op die oggend van 29 April was dit weer sulke tyd: die dag waarop “lintjes” uitgedeel is. Jaarliks word op die dag voor Koninginnedag (30 April) koninklike onderskeidings aan lede van die publiek toegeken. Dit is ’n groot eer om ’n “lintje” te kry tydens die “lintjesregen”, soos daarna verwys word in die volksmond. Amptelik staan dit bekend as die uitreiking van die Orde van Oranje-Nassau.Net soos poësie, liedere, verhale, sprokies, dansvorme en beeldende kuns behoort niekerklike tradisies en rituele soos hierdie tot die Nederlandse folklore.

Ridder in die Orde van Oranje-Nassau: Hilda van der Plaats

Die Orde van Oranje-Nassau is op 4 April 1892 wetlik ingestel. Hierdie orde is ná die militêre Willems-Orde en die Orde van de Nederlandse Leeuw die derde Nederlandse orde. Die doel hiervan is om mense uit die burgerstand ’n koninklike skouerkloppie te gee vir besondere en onbaatsugtige dienslewering in die samelewing. In 1994 is die stelsel ingrypend hersien en meer demokraties gemaak. ’n Toekenning geskied slegs na veelvuldige benoemings deur die publiek. Elke benoeming moet dokumentêr ondersteun word.

Sedert 1996 het die Orde van Oranje-Nassau ses graderings, waarvan die laagste orde lidmaatskap inhou.

  • Ridder Grootkruis
  • Grootofficier
  • Commandeur
  • Officier
  • Ridder
  • Lid.

Vanjaar het 37 mense in Tilburg ’n “lintje” gekry. Elf persone het ’n hoër onderskeiding as slegs lidmaatskap behaal. Een van hulle is Hilda van der Plaats, wat tot ridder geslaan is in die Orde van Oranje-Nassau:"Het heeft Hare Majesteit behaagd …" Haar koninklike onderskeiding is toegeken op grond van 25 jaar se vrywilligerswerk in verskeie organisasies. Enkeles daarvan is Stichting Palet, wat ’n multikulturele samelewing ondersteun, Stichting Boog vir die ondersteuning van geïmmigreerde bejaardes, en stigtings wat Surinaamse bejaardes en Russiese straatkinders ondersteun. Van der Plaats is oortuig daarvan dat ’n multikulturele samelewing ’n verryking van die samelewing is. Dit was en is steeds haar lewenswerk. Sy doen dit met ’n warm hart. Daarmee verteenwoordig sy ’n spesifieke en herkenbare Nederlandse lewensbeskouing, wat bekend is vir sy verdraagsaamheid. Hierdie lewensbeskouing staan egter onder toenemende druk van konserwatiewe politieke uitinge. Dit lyk asof daar geen plek meer in Nederland is vir byvoorbeeld Surinamers, Marokkane, Turke en Pole nie.

Orde van Oranje-Nassau met die lyfspreuk van die koningshuis, "Ik zal handhaven", in Frans
Afrikoon-munt van die 75ste bestaansjaar van die ATKV in 2005


Die Orde van Oranje-Nassau mag jy slegs een maal in jou lewe op jou skouer gespeld kry – tydens die uitreiking. Daarom is ’n foto daarvan vir die ontvanger, soos Van der Plaats, besonder kosbaar. As plaasvervanger van die orde het sy ’n kleiner gestrikte “lintje” gekry sonder die kroon, die Hugenote-kruis met die Nederlandse leeu en die lourierkrans daaraan. Dit is om op spesiale geleenthede te dra. Dan geld ’n streng kleredragkode. Sy het ook ’n oorkonde gekry wat sy êrens in die huis op ’n ereplekkie kan hang.

Al het Suid-Afrika geen koningshuis wat onderskeidings uitreik nie, herinner dit my tog bietjie aan die ATKV met sy Afrikone-munte en oorkondes tydens sy 75ste bestaansjaar in 2005. Ek hoop nie die mense wat onselfsugtig vrywilligerswerk doen vir Afrikaans moet nog ’n verdere 75 jaar wag vir erkenning nie! Dit word tyd dat Afrikaans (of die ATKV as oorkoepelende organisasie) dankbaarheid in tradisie omskep en in stand hou. Sy sprekers, skrywers en lesers het dit broodnodig: so ’n bietjie Afrikaanse folklore.