Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Snars poëtika

Politiek en poësie


Bibi Slippers - 2011-05-20

Die week in woorde

Dit was Woensdag dié week stemdag in Suid-Afrika en die politiekery het hoog geloop.  Lamppale het behoorlik geblom van die beloftes en die gevryery na stemme (en meegaande moddergooiery) het epiese proporsies aangeneem.

Op digterlike front vier die politiek ook tans hoogty – maar dié keer is dit (genadiglik) nie die gewone binnepolitiek nie, eerder ’n paar merkbare pogings tot grensverskuiwing en ’n boek wat oorkook van opinies oor en ervarings uit eie bodem.   

Op Vrydag 6 Mei het ek die tweede InZync Poetry Session by Amazink in Kayamandi bygewoon. Ek was by die eerste een ook, maar soos met digbundels is dit die tweede een wat die ware
toets is, en hierdie een het nie teleurgestel nie. 



As jy die geleentheid misgeloop het, kyk gerus hier na die foto’s.

Daar was ’n groot opkoms en iets elektries in die lug. Die digters wat genooi is om deel te neem is Marius Crous, Blaq Pearl van Afrikaaps-faam, Mambesi Goje en Danie Marais. Dit was ’n veelkleurige, veeltalige en multimedia event – maar moenie meegesleur raak deur reënboog-diskoers nie. Die InZync-sessies is nie soseer belangrik omdat alles vlot en maklik verloop nie. Ek dink dis juis die moeilike oomblikke en die plekke waar kulture clash wat interessant en belangrik is, en SLiP verdien lof vir die ruimte wat hulle skep vir ontmoetings tussen tradisies en gebruike wat nie altyd stryk nie. 

By tye gedurende die aand se verrigtinge was dit duidelik dat die language barrier steeds die grootste struikelblok in terme van wedersydse respek is. Dit was opvallend hoe verskillende mense in die gehoor gereageer het op dit wat hulle verstaan, teenoor dit wat hulle nie verstaan het nie. Dit het my laat dink aan Willem Boshoff se kunswerk Abamfusa lawula. Die kunswerk is ’n grafiese uitbeelding van politieke slagspreuke in Afrika-tale, met Engelse vertalings in fyn druk tussen die reëls. Dit maak dat diegene wat die slagspreuke verstaan, ver kan staan en uitmaak wat aangaan, terwyl mense wat op die Engelse vertalings staatmaak, nader aan die kunswerk moet beweeg om te kan lees en verstaan. 

Boshoff praat in sy beskrywing van die kunswerk ook oor die mag en effek van die see stemme wat destyds hierdie slagspreuke in die strate uitgeskree het. Wat my weer terugbring by die verskil tussen die geskrewe en die gesproke woord, waaroor ek by ’n vorige geleentheid hier geskryf het. 

Hierdie onderskeid is ook een van die punte wat meningsverskille by kritici ontketen oor Letters to South Africa, Umuzi se bundel briewe aan Suid-Afrika waarin digters die land aanspreek met aantygings, lotbeklagings en liefdesbetuigings. Lees my onderhoud met Carla Potgieter van Umuzi-uitgewers hier, en vind uit wat sy oor die onderwerp te sê het.

By die Franschhoek Literary Festival het ek die voorreg gehad om Sindiwe Magona te hoor optree – haar voordrag van haar brief aan Suid-Afrika het die hele gehoor in vervoering gehad.  Mama Sindiwe het ons by tye laat giggel en soms ook gewys hoe vies sy is, maar wat my ná die optrede bygebly het, is haar hartseer oor die mense wat versaak word, en hoe haar woorde ’n eie lewe kry wanneer sy hulle met die gehoor deel. 

Malika Ndlovu se gedig oor Hangberg spook ook nog steeds by my. Dit het ’n vokale inleiding waarvan daar geen teken op die papier is nie, iets wat teen die ruggraat af kruip en vir lank onder jou vel bly kriewel.

Vyf digters wat verlede September deelgeneem het aan die Kollokwium wat aanleiding gegee het tot die Letter to South Africa-boek het ingestem dat ek die opnames van hul optredes daardie aand op LitNet mag plaas. Luister na die opnames deur op die onderstaande skakels te klik.

  1. Danie Marais
  2. Leon de Kock
  3. Zandra Bezuidenhout
  4. Andries Bezuidenhout
  5. Melt Myburgh

Frederik de Jager het tydens ’n gesprek oor Letter to South Africa by Protea Boekwinkel op Stellenbosch gesê om ’n performance poem op papier te lees is soos om bladmusiek te lees – dit kan nie met die aanhoor van musiek vergelyk word nie. Al oortuig ek jou dié week van niks anders nie, hoop ek my predikasie is genoeg om jou lus te maak om ’n voorlesing by te woon. Ek kan nie ’n beter toekoms of dienslewering vir almal belowe nie, maar ek kan jou belowe dat jy anders na woorde op papier sal kyk as jy hulle eers uit die mond-van-die-hand-wat-die-pen-vasgehou-het gehoor het.


Kyk, lees en luister aanlyn



Allen Ginsberg se gedig “America” het as influistering gedien om digters aan te moedig om self op ’n kreatiewe manier met Suid-Afrika in die rede te tree. Luister hier na ’n opname van Ginsberg wat die gedig voorlees.
Twee verse uit Danie Marais se debuutbundel, In die buitenste ruimte,is deur Diek Grobler in komiese animasiefilms omskep. Kyk na video’s van “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” en “Saturday Nite Live” op YouTube.
Blaq Pearl, een van die sterre van Afrikaaps, was ’n genooide digter by die tweede InZync Poetry Session. Hier is ’n video van die gedig “Ignorance”, wat sy ook by die InZync-sessie voorgedra het.
Sindiwe Magona is ’n bekroonde skrywer en digter. Lees Karlien van der Schyff se resensie van haar digbundel Please take photographs hier.
Die beskeie digter Erns Grundling, wat sy brief aan Suid-Afrika by die Franschhoek Literary Festival voorgelees het, het ons in 2008 vertel hoe dit voel om in Groot verseboek opgeneem te word. Lees die onderhoud hier.
Willem Anker, wat deur Leon de Kock beskryf is as “the thinking man’s poet”, is waarskynlik meer bekend vir sy toneelstukke en sy bekroonde roman Siegfried. Lees Desmond Painter se resensie van Siegfried hier, of Marius Crous se onderhoud met Willem oor prosa en drama.
Lees ’n resensie van Malika Ndlovu se boek Invisible Earthquake hier.

Nuwe skryfwerk op LitNet


 

Inligting vir nuwe skrywers

Daar is in die nabye toekoms twee werkswinkels onder leiding van bekende skrywers vir nuwe skrywers wat graag hul talente wil slyp, en ’n kompetisie wat kontantpryse en publikasiegeleentheid vir jong skrywers bied.