Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Oorvloed en ontneming: Tannie Essie in die paradys (Of: My drie dae in die hel)


Bibi Slippers - 2011-05-19

Ek leef van vrugte – vandag
Essie Honiball, geredigeer deur Johan Nel
Uitgewer:
Benedic Boeke
ISBN: 9780981440828
Prys: R160.00

 


Dit neem sommige mense jare om oor traumatiese gebeure te praat. Party kom nooit so ver nie. Ander konfronteer die demone van die verlede met pen op papier. Vandag tokkel ek uiteindelik my eie trauma op die sleutels van ’n skootrekenaar uit.

As kind het ek eenmaal ’n trok vol hoenders op pad na die slaghuis sien ry. Ek het vir ’n baie lang tyd daarna nie weer my mond aan KFC gesit nie, en dis nogal iets vir iemand uit my familie. Op hoërskool soen ek soveel paddas dat ek ’n reputasie as ’n diereliefhebber opbou, en sodoende genoop word om ’n vegetariër te word. Hierdie stuip hou net tot op universiteit, toe ek verlief raak op ’n karnivoor en my aan ’n skaamtelose vleislus oorgee. Daarna woon ek in Nieu-Seeland en raak bevriend met ’n mak skaap genaamd Weet-Bix. Ek word weer ’n vegetariër, dié maal vir altyd. In 2009 word ek byna onterf toe ek (via die internet) uit Australië aankondig dat ek nou ’n vegan is. Die enigste troos vir my familie is dat ek in dieselfde asem aankondig dat ek op pad is huis toe. Hulle verligting hieroor is (net-net) meer as die irritasie oor my jongste dieetfoefie.

Die ding waaroor ek sukkel om te skryf, gebeur in November 2010. Ek lees Ek leef van vrugte – vandag, ’n heruitgawe van Essie Honiball se gewilde boek wat in 1979 vir die eerste maal verskyn het. Die lees is op sigself nie té traumaties nie, ten spyte van die irriterende spasiëring en setwerk.1 Dis dit wat daarop volg wat my steeds sommige nagte laat wakker skrik, halfdood van die honger, aan die kerm en kwyl: die vrugtedieet.

Ek was reeds vir 11 maande ’n relatief gedissiplineerde vegan toe ek op 1 Desember 2010 my vrugtedieet begin. Die plan is om vir ’n week van vrugte te leef. Vandag en vandag en vandag en so voort vir sewe dae en sewe nagte. ’n Selfopgelegde reis deur ’n koswoestyn,2 nie om heiligmaking of reiniging of enige goeie rede nie. Net sodat ek kan sê “I did it.” Ek ignoreer tannie Essie se raad (’n drie dae lange watervas en ’n oorgangsdieet vooraf) en loop die bul sommer koue kalkoen by die horings.

Dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Die boek vertel die verhaal van Essie Honiball wat weens gesondheidsprobleme na ’n vrugtedieet oorgeslaan het. Die gebeure wat aanleiding gegee het tot haar besluit om ’n vrugtedieet te volg, en die aanvanklike sosiale ongemak wat sy as gevolg van die dieet ervaar, word in haar eie woorde vertel. Sy verduidelik ook aan die hand van haar eie ervaring wat die dieet behels, en beantwoord algemene vrae oor die dieet. Verder vertel sy staaltjies en deel die verhale van ander mense wat as “baanbrekers” van hierdie dieet beskou word.

Een hoofstuk word ook afgestaan aan die verhale van mense wat die dieet gevolg het om gewig te verloor, en daar is ’n hoofstuk wat die leefstyl van diegene wat die dieet volg, beskryf, met voorstelle, resepte en verhaaltjies oor Essie se eie ervaring, en ander vroue se “vindingrykheid”. Hierdie hoofstuk het my by verskeie geleenthede laat proes van die lag. Dit begin met ’n lang besinning oor “die huisvrou” en hoe sy haar vervelige dagtaak meer opwindend kan maak deur eksperimentering met, uh ja, vrugte.

As tydsdokument sorg dit vir interessante leesstof, maar as inspirasie vir opwindende en vooruitdenkende eters en gasvroue kan dit nie met kontemporêre kookboeke en blogs kompeteer nie. In hierdie gedeelte begin die inligting oor wat die dieet behels ook verwarrend raak, met sekere beskrywings van maaltye wat glad nie eers vegetaries in nie, wat nog te sê net uit vrugte bestaan. Dit word eerder ’n manifes vir ’n gesonde leefstyl en vrugteryke dieet as een wat uitsluitlik oor vrugte in die dieet gaan.

Hierdie algemene verwarring gaan voort in die tweede gedeelte van die boek, waarin Herma Loubser, ’n dissipel van Essie Honiball, haar verhaal vertel. Haar pad na ’n nuwe leefstyl word in baie besonderhede bespreek (te véél besonderhede), en daarna beskryf sy haar eetgewoontes, wat meer lyk op ’n grootliks veganistiese dieet (sy eet wel nou en dan ook vis) as ’n vrugtedieet.

Die uitgewers het ook briewe ingesluit van vrugte-eters van regoor die wêreld wat hulle via die Benedic-webwerf gekontak het. In baie van hierdie briewe word kwessies aangeraak waaroor mens graag in meer besonderhede sou wou lees. Van die briewe verwys na organiese vrugte, ander na “plaaslike diëte” en monodiëte, ’n ander weer na etiese kwessies rondom die gebruik van diere-produkte. Indiepte-bespreking van hierdie sake en ander (soos genetiese manipulasie van vrugte, invoer en uitvoer, kapitalisme, armoede) sou bygedra het om die boek ’n meer kontemporêre gevoel te gee, en om aan die verwagtinge wat die titel, Ek leef van vrugte – vandag, skep te voldoen? Op die oomblik is die kort insetsels waarin Essie terugkyk op haar vroeë dae op die dieet en die eerste uitgawes van die boek, nie genoeg om die kontemporêre leser van die relevansie van die dieet te oortuig nie.3

Dit is die tweede dag, my eerste by die werk. Ek kan ek aan niks anders as kos dink nie. Ek eet gevaarlike hoeveelhede druiwe en stop aanhoudend neute in my mond. Ek hou nie van neute nie. Ek is honger. Ek fantaseer oor aandete: olywe en avokadopeer, enige sout, enige vet. Ek is honger. Ek is honger. Ek is kort van draad. My irritasie loop geweldig hoog. Ek raak smoorkwaad vir my minnaar wat dit waag om ’n groot bord kos voor my te eet. Want ek is honger. Ek oorweeg ’n egskeiding – dan onthou ek ons is nie getroud nie.

Dit is jammer dat Essie se boodskap ’n bietjie verdwyn in die algemene warboel van die aanbieding. Hierdie boek sou veel gewen het aan die hand van ’n kritiese redigeerder. Daar is onnodige herhaling van sekere inligting, wat grootliks veroorsaak word deur die feit dat die boek nie ’n baie logiese struktuur volg nie. Ek sou byvoorbeeld dink dat dit meer sinvol sou gewees het om die gedeelte met vrae oor die vrugtedieet heel agter in die boek te plaas, sodat daardie inligting nie herhaal word onmiddellik nadat ons so pas die vrugtedieet onder die vergrootglas beskou het en van tannie Essie se ervaring op die dieet gelees het nie. Die bydraes van ander vrugte-eters sou gebaat het by beter afronding, en die oormaat Bybelse verwysings raak by tye pynlik.

Die laaste hoofstuk van die boek, waarin dr Dawie van Velden ’n wetenskaplike perspektief op Essie se dieet gee, is duidelik geformuleer, oortuigend en word helder geargumenteer. Hierdie hoofstuk staan kop en skouers uit bo die res van die boek en onderstreep presies wat skort met die res van die boek. Dit som die inhoud op so ’n volledig dog bondige manier op dat ’n mens byna nie die res van die boek hoef te lees nie.

’n Mens moet aan Johan Nel alle krediet gee dat hy in die sewentigerjare die kans gevat het om ’n baanbrekerboek te publiseer. Maar noudat die idees wat destyds volksvreemd en byna ondenkbaar was, al redelik algemeen geraak het, moet die heruitgawe beslis beter besin word. Hierdie boek moet kan kompeteer met bronne op die internet en met ander glansboeke wat dieselfde beginsels op ’n meer kreatiewe en duidelike manier verpak.4

Dit is die derde dag. Ek wil nie opstaan nie. My tande pyn.5 Ek dink nog steeds aan niks anders as kos nie. Warm kos. Gaar kos. Olierige kos. Vetterige kos. Ek wil huil. My tande pyn. Ek is honger en ek voel alleen. My ma het nie simpatie nie – sy is op een of ander intense dieet waar mens byna niks eet nie en inspuitings kry om jou eetlus te demp. My geliefde is besig om sy geduld met my projek te verloor. Dit is die aand van die derde dag en hy eet pizza. Ek verloor dit. Heeltemal. Ek is nie meer kwaad of geïrriteerd nie. Ek is honger. My tande pyn. Ek eet van sy pizza. Met kaas. Never mind die vrugtedieet, ek vergeet sommer my vegan-beginsels ook. Ek eet kaas asof ek nooit weer die kans sal kry nie. Ek eet pizza en pudding en tjips ook net vir ingeval. Ek drink Coke. Ek is gelukkig. Ek is vetgevreet. Ek is ’n vark. ’n Uitgehongerde vark in ’n vrugteboord. Ek droom die nag van ’n kaasfabriek.

Daar was wel sekere aspekte van die boek wat vir my ’n positiewe ervaring was. Die inspirerende suksesverhale, veral dié van mense wat las van ernstige mediese probleme ervaar het en vir wie die vrugtedieet verligting gebring het, is lekker om te lees, en sal hoop bring vir diegene wat reeds alle ander uitweë probeer het.

Die boek is ook fassinerende leesstof vir enigiemand met ’n belangstelling in die menslike psige. Mens kry die gevoel dat baie van die briefskrywers en bydraers interessante karakters is wat amateur-psigoanaliste ’n leeftyd sou kon besig hou. Mens voel ’n desperaatheid aan. En meer. Soms iets wat grens aan versteuring.

Die boek laat sekere vrae by die leser, veral die honger leser wat ’n poging aanwend om die dieet te volg. ’n Mens wonder oor die dieptes van desperaatheid wat Essie en ander na die dieet dryf, en oor die aard van die selfdissipline (obsessie?) van diegene wat dit vir jare (Essie is al sedert 1958 op die vrugtedieet6) volg. ’n Mens wonder oor jouself en jou eie vermoëns om die remme aan te draai. En ’n mens wonder menslikheid en oor wetenskap, oor begeerte, oor swaarkry en oor ons ingeboude verlange na ’n paradys.

Essie Honiball is ’n dierbare en nederige figuur wat nie skaam is om oor haar eie tekortkominge en mislukkings (byvoorbeeld ’n sondige vergryp aan aartappels op ’n vroeë stadium in haar dieet) te skryf nie. Haar suksesse en mislukkings werp ’n boaardse lig op die gulsige, wrede, hond-eet-hond-wêreld waarin ons vandag leef.

Ek lees Anne Michaels se boek Fugitive Pieces. Hierin word vertel van ’n Joodse man wat die Tweede Wêreldoorlog oorleef en ’n lewenslange obsessie met kos ontwikkel. Hy is altyd honger. Hy staan snags op om te eet, net vir ingeval. Ek voel skuldig oor my mislukking, maar as ek aan die vrugtedieet dink, raak ek nog steeds lus vir slaptjips en Coke. Ek was honger, ek was desperaat, ek was swak. Maar nou is ek weer ’n relatief gedissiplineerde vegan, dié maal met ’n nuutgevonde dankbaarheid vir die verskeidenheid wat my dieet my toelaat.

Ek het geleer dat ontneming ’n ontstellende kant van menslikheid na vore kan bring, maar dat dit ook ’n belangrike waardebesef by jou kan kweek.

En dat ek eintlik niks van trauma of desperaatheid weet nie.



1 Daar is, om die waarheid te sê, ’n paar irriterende vlieë in die vrugtedrankie. Ek wil nie onnodig aangaan nie, maar daar is heelwat spel – en taalfoute in die teks. Daar is ook inkonsekwentheid in die teks – op een bladsy word die woord vitamien byvoorbeeld op sekere plekke uitgeskryf en op ander afgekort as Vit. Daar word ook heeltemal te veel uitroeptekens na my sin gebruik. In kort: daar skort met die taalversorging, en dit gaan kieskeurige lesers verseker afsit.

2 In die boek word dit paradyskos genoem na aanleiding van Adam en Eva se dieet.

3 Ek het die “Essie vandag-” blokkies wat in die teks ingevoeg is as leesversperring ervaar, en reken dit sou meer sinvol wees om hierdie opmerkings uit te bou en as ’n aparte hoofstuk aan te bied , eerder as hierdie kort insetsels wat net begin om belangrike kwessies aan te spreek, maar hulle niks verder voer of ondersoek nie.

4 Die boek se beskrywing van die verskillende maniere waarop ’n lemoen geëet kan word (afgeskil in skyfies, met ’n lepel uit die skil, uitgesuig of uitgedruk as sap), lyk maar half saai in vergelyking met resepte vir vrugtegeregte wat ek in van my kookboeke opgespoor het.

5 Tandpyn is een van die newe-effekte van die dieet wat blykbaar na ’n rukkie verdwyn. Ek was nie bereid om vir verligting te wag nie.

6 Volgens die boek word dit na die eerste paar maande makliker. Maar dis nou dieselfde boek wat die vrugtedieet “jou kortpad na gesond leef” noem.