Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Vrye Woord-nuusbrief – 11.05.2011: Petisie oor omgewingsbewaring en seggenskap


2011-05-17

Untitled Document

Hier onder berig Beeld vandag oor die petisie. Vrye Woord versoek almal wat sterk oor die saak voel, om onverwyld hulle name en sommer ‘n opmerking ook te gaan byvoeg, by www.litnet.co.za.

Die hof het pas besluit Malema se strydlied is haatspraak – sien die brief in Beeld hier onder.

Skrywersgroep begin veldtog teen natuurskade

Beeld, 2011-05-15

Elise Tempelhoff

Afrikaanse skrywers het hul gewig agter die “groen struggle” gegooi.

Dr Charles Malan, letterkundige, stigter en koördineerder van Vrye Woord, het ’n veldtog begin op die webwerf LitNet om Suid-Afrikaners ’n stem te gee oor die plundering van die natuurlike omgewing.

Malan het gesê: “Dit is hoog tyd dat gewone burgers hul stemme verhef teen die onverbiddelike inpalming en stroping van die natuurlike omgewing deur multinasionale maatskappye met wie die ANC-regering met graagte saamwerk.”

Malan het ook gesê dit is duidelik dat die regering die stemme van die burgerlike samelewing – wat bekommerd is oor die verwoesting van sensitiewe gebiede - bloot ignoreer.

Vrye Woord is van plan om die petisie na die presidensie en die departemente van mynbou, waterwese en omgewingsake te bring sodat ministers en amptenare onder die besef kan kom hulle is die reguleerders en móét wette afdwing.

Luidens die petisie “verfoei” Vrye Woord as drukgroep van skrywers en ander woordwerkers “die manier waarop multinasionale maatskappye soos Coal of Africa (CoAL) en Shell besware van die publiek teen hul plundertogte van die omgewing vir natuurlike hulpbronne omseil”.

Die petisie lui verder: “Ons eis die reg om protes aan te teken teen mynboubedrywighede wat die omgewing vernietig en bewaringsgebiede beskadig.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar uitsluitlik met ANC-politici onderhandel word om mynbouregte selfs in sensitiewe gebiede te verkry en onherstelbare skade agter te laat.

“As groepering wat hulle vir vrye spraak en inspraak beywer, vind ons dit verwerplik dat byna alle pogings om omgewingsaktiviste se stemme te hoor by die ANC-regering op dowe ore val.

“Selfs waar daar onwettig groot pokmerke op die aarde gelaat word, versuim die regering om ooglopend op te tree.

“Ons doen ’n beroep op die regering om dadelik onwettige bedrywighede te keer en verantwoordelike, volhoubare omgewingsbestuur toe te pas. Dit is ons almal se reg volgens die Grondwet.

“Boweal moet daar ’n volledige demokratiese inspraak oor beplanning (oor mynboubedrywighede en ander ontwikkeling) deur alle betrokke gemeenskappe en belangegroepe moontlik wees.”

Malan het gesê skrywers gooi nou hul gewig in agter die “groen struggle” waarvan Tim du Plessis, redakteur van Beeld, onlangs in ’n rubriek geskryf het.

Vrye Woord meen multinasionale maatskappye plunder die omgewing met die ANC-regering se toestemming.

Daar moet druk op die regering geplaas word om onmiddellik met die onaanvaarbare optrede te staak, het Malan gesê.

Die petisie kan onderteken word by www.litnet.co.za.



Steve kreun rassisties vir die talle wat hom as held beskou

Beeld, 16.05.2011

Charles Malan van Vrye Woord skryf:

As ’n drukgroep van skrywers wat ons vir spraakvryheid beywer, wil Vrye Woord ons minagting vir die gepubliseerde skrywer en liedjiekramer Steve Hofmeyr se soveelste rassistiese uitlating uitspreek.

Spraakvryheid sluit nog geensins ongebreidelde rassisme en haatspraak in nie.

Hofmeyr het duidelik besef regse rassisme en ’n sentimentele gekweel oor die vertrapping van “die volk” ­volgens sy rolmodel Eugène Terre’Blanche is ’n uitstekende reklamefoefie.

Dit is wanneer hy nie sy kru chauvinisme kan demonstreer deur tee in ’n verfynde vroueredakteur se gesig te gooi nie.

Hy gaan min teenstand kry as hy Julius Malema takel.

Maar wat is die verskil tussen hom en Malema?

Die jeugleiertjie sing ’n strydlied om die Boere te skiet.

Die selfaangestelde volksleiertjie sing ’n Strydlied (so genoem) om die arme volk teen die vyand, die Kakies en die k****r se dolk te beskerm.

Gebruik die k****r nou ’n dolk en nie meer ’n assegaai nie?

“Ons sal dit oorleef ... ”

Afgesien daarvan dat dit ’n pateties swak nabootsing van die strydlied “De la Rey” en opruiende Terre’Blanche-retoriek is, is dit literêr die vrotste moontlike liriek (“My hart klop toktokkie waar hy breek vir my volk”!).

Hierdie toktok-popkapokhaantjie het dalk al iets van meriete gepubliseer, maar hy gee ’n slegte naam aan alle ernstige skrywers, liriekskrywers en ander woordwerkers wat in die raamwerk van ’n hoër etiese kode skryf.

Hy praat of sing nie namens ons nie.

Hy kreun rassisties vir talle volgelinge wat hom as ’n held beskou.

Wat doen hy anders as Malema? Kan hy nie toi-toi nie?

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index