Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Let me in se uitstekende verwerking lok spannings"junkies"


André Crous - 2011-05-17

Regisseur: Matt Reeves
Kamerawerk: Greig Fraser
Rolverdeling: Kodi Smit-McPhee, Chloë Grace Moretz, Richard Jenkins, Elias Koteas
Looptyd: 115 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 6 Mei 2010


Die idee van ’n verhaal oor kindervampiere kan jou dalk laat huiwer as jy enige smaak het, of dit kan jou vreeslik opgewonde maak as jy ’n aanhanger is van die Twilight-films. Let Me In is egter baie ver verwyder van die spookasemvermaak wat Twilight en sy opvolgprente bied, en is een van die min verwerkings van ’n vorige film wat byna net so goed is soos die oorspronklike.

Let Me In is ’n Amerikaanse weergawe van die Sweedse film Let the Right One In, wat vroeg verlede jaar in Suid-Afrika uitgereik is. Soos gewoonlik, omdat dit Sweeds is, is dit nie wyd versprei nie, maar dié wat dit wel te siene gekry het, was oor die algemeen in vervoering. Albei films is gebaseer op ’n Sweedse roman met dieselfde titel as die eerste film, geskryf deur John Ajvide Lindqvist. Lindqvist het sy eie roman verwerk as ’n draaiboek vir die Sweedse film.

Die storie draai om ’n twaalfjarige seun wat op skool geboelie word, maar danksy die hegte vriendskap wat hy met die nuwe meisie in sy woonstelblok smee, begin hy vir homself opstaan. Die meisie is egter ’n vampier en dit maak dinge ’n bietjie moeilik. Aangesien die storie so eenvoudig is, is die fokus uiteraard op die karakters en die Sweedse film het die ongemaklike vriendskap tussen die twee mooi gevolg.

In die Amerikaanse weergawe word die tema van boelies meer op die voorgrond gestel en so ook die rol van die voog wat saam met die meisie, Abby, rondreis en seker maak dat sy nooit ’n tekort aan vars bloed het nie. Die tonele waar hy slagoffers tap vir hul bloed is taamlik grusaam en so ook sy benadering – met ’n swart sak op sy kop. Hierdie karakter, Thomas, gespeel deur die uitstekende akteur Richard Jenkins, het baie meer vleis aan hom gehad as wat die oorspronklike film toegelaat het, en is een van die rykste aanpassings wat Let Me In se skrywer-regisseur, Matt Reeves, gemaak het.


Abby en Owen is albei buitestanders en bly in ’n piepklein dorpie in die Amerikaanse staat New Mexico. Owen lyk effens uitgeteer en Abby is baie androgeen (hoewel daar nie verder hierop uitgebrei word nie, is haar herhaling van die frase “I’m not a girl” waarskynlik aspris dubbelsinnig en skakel dit netjies in by die boelie-tema), en in hul eensaamheid vind hulle ’n baie mooi vriendskap. Die akteurs is egter nie so goed soos hul Sweedse eweknieë nie en veral Owen kry nie dieselfde verwonderde uitdrukkings wat ons op die gesig van die Sweedse karakter, Oskar, kon bespeur nie.

Die aanbieding van die twee films is ook totaal verskillend. Waar Let the Right One In ’n baie skoon, poëtiese aanbieding van die verhaal was, is Let Me In visueel ’n veel donkerder, vuiler werk. Albei films se benadering is geskik vir die materiaal, hoewel die fisiese impak van die verhaal in die Amerikaanse film duidelik die prioriteit is, eerder as die romanse van die Sweedse film. Die gebruik van die kamera in albei is verwant, maar met verskillende bedoelings. In Let the Right One In wil die kamera ons deel laat hê aan die kinders se perspektief deur dikwels laag op die grond te wees, maar in Let Me In word hierdie selfde toertjie spesifiek gebruik om ons te laat wonder, selfs in tonele waar daar nie kinders teenwoordig is nie, wie die karakters is wat bo-oor ons uittroon.


Let Me In is ’n baie spannende film en een slim toneel wat uitstaan, is die tweede keer wanneer Thomas ’n jong man in ’n kar probeer doodmaak. Die eerste keer toe hy dit gedoen het, was dit ’n groot sukses, en omdat die toneel so soortgelyk is, weet ons dit gaan nie weer dieselfde wees nie, maar wat verbasend is, is hoe graag ons wil hê hy moet suksesvol wees – hoe graag ons wil hê hy moet die bestuurder doodmaak.

Hoewel Let Me In die fokus wegneem van die kinderkarakters, deur byvoorbeeld ’n polisieman hier in te sluit wat die saak ondersoek, die romanse tussen die kinders verminder, swakker akteurs gebruik het en onnodige visuele effekte soos duiwelsoë gebruik, is die film steeds ’n uitstekende verwerking van die oorspronklike. Die fokus op die karakters is meer gebalanseerd oor die hele rolverdeling en die herskepping van die tydvak van die verhaal, 1983, is goed sonder om aandag te trek.